Locum vir liefde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Locum vir liefde - Malene Breytenbach страница 5
“Toe word hierdie jonger seun maar ’n geneesheer,” sê Kyle. “Genoeg van familie-agtergronde. Ons verveel dokter Jansen – Laura – met ons praatjies. Ons bus vertrek oor ’n uur.”
Laura staan eintlik traag op. Hier het sy nou weens mevrou St John se spogtery meer van Kyle Barrymore te wete gekom. Hy kom uit die hoëlui, dis duidelik. Sy wêreld is ver van hare verwyder. Hy dink sekerlik dat sy baie gewoon is.
Sy draai na mevrou St John terwyl hulle die eetsaal verlaat. “Kan mevrou die cyrilliese skrif lees en Russies praat?” vra sy.
“O nee, ons het dit verleer. Ongelukkig. Dis vir my net so vreemd soos dit vir jou is. My voorsate het verengels. Ons behoort ook nie meer aan die Ortodokse Kerk nie.”
* * *
Op die bus sit Laura en Laetitia saam en die drie Iere ver van hulle af. Die bus hou op ’n parkeerterrein by die Kremlin stil. Die toerleier Tatiana en ’n manlike toergids het deurgaans vir hulle oor die geskiedenis vertel, en nou klim almal uit en loop gretig agter die twee aan. Laura kyk verruk om haar na die groot groepe toeriste, en op na die torings en rooi mure van die Kremlin.
“Dit lyk soos iets uit ’n feeverhaal! Dit is eintlik Oosters, kyk daardie kerke met die goue koepels. Mens kan skaars glo dat hier sulke tirannie uitgebroei het, as jy so na al die skoonheid kyk.”
Laetitia is woes besig om foto’s te neem terwyl Laura praat. Straatsmouse sak op hul toergroep toe met poskaarte, boeke, militêre pette en medaljes uit die kommunistiese era.
“Ek het nie roebels nie,” sê Laura vir ’n besonder knaende smous.
“Euro of dollar, ek gee goeie prys,” dring hy op geradbraakte Engels aan en beur ’n ent agter hulle aan.
“Ag, nou goed dan, enigiets om van dié lastige vlieg ontslae te raak,” kla Laetitia eindelik en koop ’n fotoboek oor Moskou.
Laura probeer diskreet kyk wat van Kyle-hulle geword het. Sy sien sy kop bo die ander uitsteek, maar dis taamlik ver weg. Sy en Laetitia sal hulle nie maklik inhaal nie. Al geniet sy dit vreeslik om alles te bekyk, is sy vreemd afgehaal.
Hulle word na katedrale met wonderlike ikone en uivormige koepels van goud-en-blou geneem. Hulle sien ’n reusekanon en ’n reuseklok wat vir Tsaar Pieter die Grote gemaak is. Maar eers heelwat later, by die Wapenmuseum, sien Laura weer die Iere van naderby. Kyle kyk na fabelagtige juwele in ’n vertoonkas en Eudoxia hou sy arm vas, vly haar kop daarteen aan.
Toe Laura langs Kyle gaan staan, kyk hy na haar. “Sien jy die diamant in die septer?” vra hy. “Hertog Orlov, een van Katharina die Grote se minnaars, het dit vir haar gegee. ”
“Was hy lief vir haar, of wou hy net haar guns wen?”
Kyle lag. “Seker albei. Het jy na die Fabergé-eiers gekyk?”
“Nog nie.”
“Gaan kyk, jy sal verstom wees.”
Hy beweeg weg met Eudoxia. Laura probeer om hulle nie agterna te staar nie en Laetitia kom staan by haar.
“Mans soos daai bring net hartseer,” sê sy. “Mens moet hulle liewer vermy.”
Wat sien Laetitia in hom raak? wonder Laura ongemaklik. Kastig lighartig sê sy: “Ek stem. Dis net moeilik as mens verplig word om elke dag saam met so een aan tafel te sit.”
Maar Laura moet haarself streng berispe dat sy nie haar dag en die heerlike toer moet laat bederf deur simpele versugtinge nie.
* * *
Ná die oggend op die Rooiplein, ’n besoek aan die verstommend kleurryke Heilige Basileus-katedraal met sy vele koepels, inkopies by die GUM-afdelingswinkel en ’n rit deur Moskou, keer hulle na die skip terug.
Laura en Laetitia het saam gestap, met ander mense van die toergroep gesels en saam koffie gaan drink, maar die Iere het ná die besoek aan die Kremlin hul eie gang gegaan. Hulle het ook nie soos die ander met die bus na die skip teruggekeer nie. Laura het hulle natuurlik gemis.
Toe sy die middag terug in haar kajuit is en uitkyk na die kaai, sien sy hulle in ’n taxi aankom. Die vroue het verskeie pakkies by hulle. Blykbaar het hulle behoorlik inkopies gaan doen. Sy sit en kyk tot hulle aan boord gekom het.
Om wie te beïndruk? vra haar gewete terwyl sy haar hare was en stileer en nuwe grimering aanwend voor aandete. Sy vertel haarself maar dat sy bloot nie by die deftige Iere wil afsteek nie.
Toe sy later by hulle aan tafel sit, sien sy dat mevrou St John haar bestudeer. ’n Mens se voorkoms is natuurlik vir die vrou uiters belangrik. Hulle is almal uitgevat, spesiaal geklee vir die aand, want ná ete is daar ’n uitvoering van Russiese musiek in die groot saal, en byna al die toerlede sal dit bywoon.
“Het julle vandag amberjuweliersware gekoop?” vra Laura.
“Ja, hoe weet jy?” Eudoxia se stem is kil en sy kyk Laura op en af.
“Ek het net gehoor julle praat daaroor toe julle na die amber in die skeepsboetiek gekyk het.”
“Ons moes nogal soek vir goeie goed, maar ons het dit uiteindelik gekry,” sê Eudoxia. Sy kyk liefdevol na Kyle. “Jy was so geduldig, my lief. Jy het niks gekla nie en oral saamgegaan.”
“Ek het my lewe lief,” grap hy, met ’n knipoog vir Laura.
“Amber was nog altyd vir die Russe ’n besonder kosbare edelsteen,” begin mevrou St John op haar vername manier vertel. “Dit is eintlik net ’n fossielhars wat versteen het. Die bome waarvan dit kom, het egter al uitgesterf, daarom dat dit so kosbaar is, en die beste amber het boonop antieke insekte of plantmateriaal in. Daar is mos ’n hele amberkamer in die Katharina-paleis. Dit is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Duitsers verwoes, maar weer net soos voorheen herbou, fabelagtig.”
“Ek kan nie wag om dit te sien nie,” sê Laura beleefd. Sy bied daarna aan om dié aand vir die wyn te betaal, maar Kyle wil van niks weet nie: “Terwyl ek die man aan tafel is, sal ék die drank borg.”
Hulle eet en gesels lekker. Laura kom agter dat die statusbewuste mevrou St John ’n spottende sin vir humor het en sy lag saam oor die staaltjies wat die ouer vrou vertel. Sy is baie oplettend en soms nogal katterig, sien alles raak wat ander doen en vind oral ’n bron van vermaak.
“My voorsaat, Grigori Baltikov, was een van Katharina die Grote se nie-amptelike minnaars,” vertel sy. “Hy het net af en toe ’n kans gekry as een van die amptelike minnaars nie beskikbaar was nie. Hy het so by die agterdeur ingekom, maar Katharina het enigeen wat haar bed gedeel het, ruim vergoed.”
“Moeder se voorsate het ook maar skandalig gelewe,” terg Eudoxia. “En nou is ons so stigtelik.”
“Katharina die Grote was nie ’n mak vrou nie. Pieter die Grote kon ook maar barbaars wees,” merk Kyle op. “Hy het nie juis waarde aan gewone mense se lewens geheg nie. Duisende het hulle doodgewerk om St. Petersburg te bou, soos julle weet. Hy het sy bojars – die adelstand – gedwing om hul baarde af te skeer en Westerse klere te dra, terwyl hulle Bisantyns, Slawies, Asiërs was, heeltemal Oosters in hul denke. Hy was genadeloos met sy hervormings en enigiemand wat nie met hom saamgestem het nie, het hy vernietig. Stalin was net