Wanneer God jou vashou. Johan Smit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit страница 6
En Amos het inderdaad nie geskroom om die gruwelike sosiale misdrywe van sy tyd aan die kaak te stel nie. Die vertrapping van die armes, die uitbuiting van arbeiders en verwaarlosing van minderbevoorregtes het hy stuk vir stuk aan die orde gestel. En daarmee die uitspattige leefstyl van die rykes ten koste van hulle ondergeskiktes aan die lig gebring. Natuurlik tot groot ontsteltenis van die regering wat die dinge toegelaat het en dikwels die voorlopers was in die wanpraktyke.
En van wie kry Amos toe die ergste teenstand? Van die kerk! Ja, die priesters in Bet-El is deur die staat onderhou en dié mense wat Amos se boodskap moes beaam, trek teen hom te velde. Amos het hom nie laat afskrik nie, maar enduit God se woord onverskrokke verkondig.
Sosiale ongeregtigheid is ’n teken dat ’n volk en kerk van God afvallig is.
22 Januarie
Gemaksone of hardepad?
Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. Nehemia 2:18
~
Die Israeliete was reeds geruime tyd in ballingskap toe Nehemia op die toneel verskyn. Die Babiloniërs is deur die Perse verslaan en Nehemia het ’n uitsoekpos in die Persiese koning se paleis beklee. Vir ’n banneling was hy in ’n hoogs bevoorregte posisie. Maar toe kry Nehemia op ’n dag berig oor die gang van sake in Jerusalem. ’n Groot klomp bannelinge is vantevore deur die Perse toegelaat om na hulle moederstad terug te keer. Met groot opgewondenheid het hulle die reis aangepak. Maar hoe is hulle nie ontnugter nie! Die stad was vervalle, sonder ’n muur en met ’n tempel wat verwoes is. Daarbenewens het die mense van heidense herkoms wat intussen die land beset het heftig teenstand gebied.
Nehemia was baie ontsteld. Dis tog sy mense en sy land en stad waaroor dit gaan. Wat kan hy doen? Hy kom toe voor ’n geweldige uitdaging te staan: Sal hy die koning nader en vra om sy mense te gaan bystaan, of sal hy maar in sy gemaksone agterbly? Nehemia kies die moeilike pad. Die koning is hom goedgesind en laat hom toe om Jerusalem toe te gaan. En daar moes Nehemia homself as ’n betroubare leier bewys. Wat hy toe ook doen. Hy neem leiding deur die mense te organiseer en aan te moedig. Hulle herbou die stad se muur te midde van felle teenkanting.
Nehemia was bereid om sy gemaksone te verlaat en daadwerklik te gaan hulp verleen. Bly ons nie maar meesal met goeie bedoelings en selfs trane van meegevoel in ons gemaksone agter nie?
Nehemia was bereid om sy gemaksone te verlaat … en jy?
23 Januarie
Beskikbaar vir diens
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Lukas 1:38a
~
Maria, Jesus se moeder, is ’n vrou in haar eie klas. Wat met haar gebeur het, het met niemand voor of na haar gebeur nie. ’n Mens voel dus huiwerig om lyne vanaf haar na ons eietydse omstandighede deur te trek. Dit is net nie dieselfde nie. Maar Maria was tog ook ’n mens net soos ons. En al het sy ’n buitengewone openbaring ontvang, het sy as ’n gewone mens van vlees en bloed daarop gereageer. En dus kan ons tog by Maria die een en ander leer, veral hoe om te reageer op ’n Goddelike uitdaging.
Toe die engel aan Maria verskyn met die boodskap dat sy swanger gaan raak en dat die kind vir seker nie Josef, haar verloofde, se biologiese kind sal wees nie, het dit haar waarskynlik heeltemal uit die veld geslaan. Wat sou dit tog beteken? Hoe moet sy dié eienaardige boodskap verwerk? Wat uit die verhaal duidelik blyk, is dat sy dit onmiddellik as ’n boodskap van die Here erken het. ’n Mens weet wanneer dit God is wat praat. Soos wat ek en jy ook al by meer as een geleentheid by die lees van die Bybel of onder ’n preek of die lees van ’n boek geweet het God praat nou baie spesiaal met my. En dis dié wete wat vir haar op God se woord laat antwoord.
Ek is tot u beskikking! God se boodskap sou sekerlik nie tot opgewonde vreugde aanleiding gee nie. ’n Ongehude swangerskap, wat gaan Josef sê, en die mense? Maar as dit God se pad is, dan is ek tot sy beskikking. Dis daardie antwoord van Maria wat van haar ’n besondere mens gemaak het.
Here, ek is tot u beskikking!
24 Januarie
Die regte keuse
Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.” Rut 1:16
~
Rut se storie is in vele opsigte merkwaardig. Sy is uit huis uit ’n heidense meisie. Sy trou met ’n Israeliet wat saam met sy ouers uit ’n droogte geteisterde Betlehem gevlug het. In Moab sterf haar skoonpa en man. Haar skoonmoeder besluit om terug te keer na haar tuisdorp. En Rut besluit om saam te gaan, haar verlede, haar huis en land en mense én godsdiens agter te laat. Rut se storie word die storie van verlossing, van die nuwe ryk van God waar daar plek is vir mense uit alle volke, nasies en tale, en uiteindelik van ’n nuwe hemel en nuwe aarde!
Naomi, Rut se skoonmoeder, keer terug na Betlehem, haar geboortegrond en die plek waar haar oorlede man nog sekere regte agtergelaat het. Rut en Boas raak op mekaar verlief en Boas tree vir Rut as losser op, wat beteken dat hy op ’n wettige manier Naomi se regte terugkoop en aan Rut besorg. Op dié manier word Naomi in ere herstel en Rut word deur haar huwelik met Boas deel van die verbondsvolk.
En dan vir die verrassing, vir die “eerste Kersfees” in Betlehem: ’n kind word vir Rut en Boas gebore. Die vrou uit die heidendom word die moeder van ’n nuwe bloedlyn in Israel, die bloedlyn waaruit die Messias later in Betlehem gebore sou word.
Die uitdaging waarvoor Rut te staan gekom het, was die dag toe sy moes besluit watter roete sy gaan inslaan: terug na Moab of saam met Naomi (en haar God!) na die onbekende Betlehem.
’n Keuse vir die regte God loop toe uit op Kersfees!
25 Januarie
Waarna kyk jy?
Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Matteus 14:30
~
Op Jesus se spoor sou daar ander uitdagings op Petrus se pad kom. Soos die dag toe hy op die stormsee moes besluit wat hy gaan doen toe Jesus hom nader wink om op die water na Hom toe te loop.
Stel jou die atmosfeer op die boot voor toe die vreesbevange dissipels hoor dat die “spook” niemand anders as hulle Meester, Jesus, was nie. Verligting! Verbasing? Blydskap? En dan Petrus aan die woord: “As dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” Uitdagend? Hy moes darem net altyd die eerste woord inkry, in die kalklig bly. Wat sou Jesus antwoord? “Nee, Petrus, dis nie vir jou nie. Ek is op pad na julle toe.” Maar nee, Jesus sê: “Kom!” Besluitnemingstyd. “Het ek nie dalk te gou gepraat nie?” Petrus neem Jesus op sy woord. Dit was wel ’n geloofsdaad. Daarvoor moet Petrus tog ’n punt of twee kry. Hy loop toe op die water. Seker tot verbystering van sy makkers (en homself!). Maar toe sien hy die branders. En hy dink: “Is ek van my trollie af om op die water te probeer loop!” Toe hy begin sink, roep hy om hulp,