Wanneer God jou vashou. Johan Smit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit страница 7
Die verskil tussen geloof en twyfel het met jou visie te make – óf Jesus óf omstandighede.
26 Januarie
Om ’n herder vir die skape te wees
Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” Johannes 21:15
~
Kom ons gee vir Petrus nog ’n beurt. Die toneel is kort voor Jesus se hemelvaart. Jesus het ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn by die see van Galilea (Tiberias). Die atmosfeer is effe gespanne. Onwerklik. Die dissipels weet nie presies wat om te verwag nie. En Petrus is verleë. Hy het vir Jesus verloën. Die haan se gekraai is nog ’n aanklag in sy ore. En dan praat Jesus …
“Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” Toe weet Petrus: die tyd vir boeke opmaak het gekom. Hy verklaar sonder skroom sy liefde vir die Here. Dit lyk tog of hy nog ’n kans kry. Hy gryp die kans met albei hande aan. Maar dan herhaal Jesus die vraag, ’n tweede en derde maal. Wat sou dit tog beteken? Dat Jesus hom nie glo nie? Veral nie ná die verloëning nie? Hoe op aarde sal hy tog vir Jesus daarvan kan oortuig dat hy Hom hartstogtelik liefhet?
Die antwoord word gevind in Jesus se reaksie op sy liefdesverklaring: Pas my skape op. Bewys jou liefde deur jou diens. En dit was Petrus se grootste uitdaging. Jesus sou binnekort weggaan. Sy skape bly agter. En Petrus word as herder aangestel, ’n herder op die voetspoor van die hemelse Herder.
Liefde in aksie, liefde wat inderdaad bewys word, liefde wat van ons vra om ons moue op te rol, skouer aan die wiel te sit en ’n herder vir die skape te wees.
Bewys jou liefde deur jou diens.
27 Januarie
Moet ek álles prysgee?!
Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Markus 10:21–22
~
Besittings, geld en goed, speel in die meeste mense se lewens ’n baie belangrike rol. Dit is die sekuriteite waarmee hulle vir hulself ’n gemaklike en voorspoedige lewe verseker. Dit gebeur so maklik dat mense aan hierdie aardse goed verknog raak, dat dit vir hulle só kosbaar raak dat dit onmoontlik raak om daarvan afstand te doen.
Dié jongman was nie ’n losbandige losbol nie. Hy was ’n goeie godsdienstige Jood. Hy het die wet geken en onderhou. En hy wou graag nog meer weet oor dinge met ewigheidswaarde. Toe Jesus hom met soveel entoesiasme hoor praat, het Hy hom liefgekry. Toe stel Jesus die jongman voor die grootste uitdaging waarmee hy nog gekonfronteer is: “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Dit gaan oor ’n keuse tussen skatte op aarde en skatte in die hemel. Jesus wou maar net hê dat die jongman duidelikheid sou kry oor wat vir hom regtig die heel belangrikste is. ’n Belegging in die hemel bring mee dat ’n mens jou aardse goed as van minder belang moet reken; dat jy die nood van jou medemens ernstig sal neem, en dat jy vir Jesus sal volg. En ’n mens kom uit die verhaaltjie agter dat hoe ryker ’n mens is, hoe moeiliker is dit om in hemelse skatte te belê.
Hoe ryker ’n mens is, hoe moeiliker is dit om in hemelse skatte te belê.
28 Januarie
Verraad uit die binnekring
Terwyl Jesus nog praat, kom ’n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?” Lukas 22:47–48
~
Judas se naam het ’n skelwoord geword: bedrieër, agterbakse verraaier! En tog: kan dit waar wees dat ’n man wat deel van Jesus se intieme dissipelkring was so geheel en al teen Hom gedraai het? Hy was een van diegene wat uitgestuur is om wonders te doen. Hy het al die wonders wat Jesus gedoen het aanskou. Hy het na Jesus geluister en drie jaar lank saam met Hom geleef. Dit is mos onmoontlik dat dit nie sy lewe verander het nie. Waarom dan die radikale ommekeer? Van dissipel tot Godloënaar?
Ek reken die antwoord moet gesoek word in die twee verwysings na geld in Judas se storie. Ons hoor in Johannes 13 dat hy die “voorsitter van die kerkraad se fondsekommissie” was. Hy het die beurs gedra. Dit lyk asof Judas ’n obsessie oor geld gehad het. Toe hy 30 silwerstukke vir ’n daad van verraad aangebied word, het dit die deurslag gegee.
Óf Jesus, óf persoonlike wins. Dalk het Judas ’n ideaal gekoester om in Jesus se koninkryk die minister van finansies te word. Dalk was hy so teleurgesteld in Jesus se geweldlose optrede dat hy sy ideaal op ’n ander manier probeer verwesenlik het. Die feit is net dat Jesus en sy ryk nie meer vir Judas prioriteit was nie. Jesus se koninkryk was nie meer vir hom ’n uitdaging nie; sy eie rykdom het ’n groter uitdaging geword. En dit het toe tot selfmoord gelei.
’n Sug na geld en mag en status kan van dissipels verraaiers maak.
29 Januarie
Om jou hande in onskuld te was
Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.” Matteus 27:24
~
Dit is ’n uitdaging om onder alle omstandighede eerlik en regverdig te wees al sou dit nie tot jou voordeel strek nie. En dit is juis hier waar mense so maklik kop verloor. Eiebelang speel tog so ’n belangrike rol in mense se lewens. Om jouself aan verlies van status of geld bloot te stel as jy deur maar net anderpad te kyk die gerieflike status quo kan handhaaf is nie die moeite werd nie. Ek dink dis wat Pilatus gedink het.
Pilatus was as goewerneur in ’n groot mate van die Joodse leiers se goeie gesindheid afhanklik. As hulle die wêreld vir hom ondraaglik sou maak, kon dit hom sy pos gekos het. Die Romeinse owerheid het nie van oproere gehou nie. Sy eerste verantwoordelikheid was om orde te handhaaf. En met die verhoor van Jesus van Nasaret het ’n oproer gedreig om plaas te vind. Hy kon nie begryp waarom die Jode die man uit die weg wou ruim nie. Hy was seker die man is onskuldig. Maar liewe aarde, die mense het skoon mal geraak! Luister net hoe dreunsing hulle: “Kruisig Hom!”
Toe voer hy ’n simboliese handeling uit: hy was sy hande in onskuld. Dis nie hý wat die man veroordeel nie; dis die mense (demokrasie?) wat besluit het. Die maklike uitweg. Maar nog altyd net maar simbolies. Dit bly Pilatus wat vir Jesus na die kruis gestuur het. Om jou hande in onskuld te was en tog aandadig te wees aan iemand se ondergang of verlies hou jou steeds volledig aanspreeklik.
Om jou hande in onskuld te was, is net ’n manier