Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer страница 15
Saterdagaand, toe dokter Bertus Simpson sy das voor die spieël strik, kyk hy krities na sy beeld. Hy kan daar geen fout mee vind nie. Behalwe dat hy dalk ietwat deftig aangetrek is vir ’n vleisbraaiery, maar hoe anders gaan hy suster Jo beïndruk? Dit is die eerste keer in ’n baie lang tyd dat hy weer ’n metgesel gaan hê. Na sy gewese verloofde se ontrouheid het hy gedink hy is klaar met vroumense. Maar suster Jo prikkel lankal sy belangstelling.
Hy het eers kwaai daarteen geskop, maar die afgelope tyd het dit al moeiliker geraak om nie soms aan haar te dink nie. Hy is nie net nuuskierig omdat hy niks van haar private lewe af weet nie, daar is ’n ander gevoel vir haar in hom aan die ontwikkel. Na vanaand sal hy hopelik weet waar hy met haar staan en of sy hom sal toelaat om haar van nader te leer ken.
Suster Jo draal ook senuweeagtig voor die spieël in haar kamer rond. “Mattewis, hoe lyk ek?” vra sy vir die half-aan-die-slaap kat op haar bed. Maar Mattewis strek net lui sy twee voorpote en trek sy kop stywer teen sy nek vas.
Dit is eintlik haar heel eerste afspraak met ’n man, dink suster Jo. Sy het dit nog al die tyd reggekry om enige man se belangstelling in haar in die kiem te smoor voordat dit op ’n afspraak kon uitloop. Nugter weet hoekom sy haar deur dokter Simpson laat ompraat het! Waaroor gaan sy die hele aand met hom en die vreemde mense gesels? Dit waarvan haar gedagtes vol is, durf sy nie opper nie. Haar vriende se verraad moet sy vir haarself hou, anders gaan Rudolf Mulder op ’n manier te wete kom hy het ’n kind. ’n Kind by die vrou wat hy nie eens kan onthou nie, dink sy wrang. Want as hy haar wel onthou, is hy die beste toneelspeler wat sy nog teengekom het.
Toe die voordeurklokkie lui, wip sy soos sy skrik. Sy stap senuweeagtig voordeur toe en sien skaars raak hoe indrukwekkend dokter Simpson lyk, want sy weet nie of sy hom eers moet binnenooi of nie.
“Wat van ’n koppie koffie voor ons ry?” vra sy nadat hulle gegroet het.
“Dit sal lekker smaak,” gryp hy dadelik die geleentheid aan en dink: Dit sal help dat ons darem nie soos twee algehele vreemdelinge daar by my oom opdaag nie. Ek weet dan nie eens wat haar voornaam is nie!
Toe suster Jo met die koffie terugkeer sitkamer toe, skrik sy haar yskoud toe sy hom voor Anton se portret sien staan.
Hy kom neem die skinkbord by haar en wag dat sy haarself moet help. Maar sy weet hy gaan gewis sien hoe sy bewe as sy nou suiker in haar koffie moet gooi, dus nooi sy hom om die skinkbord op die tafeltjie neer te sit sodat die koffie kamma eers kan afkoel. Maar dit verhoed nie dat hy haar oor die portret uitvra nie.
“Familie van jou?” vra hy met sy blik op die foto.
“Ja, ek . . . ek bedoel eintlik, nee. Dis sommer vriende van my se kind. Ek is sy peettante.”
Hy wonder hoekom sy so onoortuigend klink en toe hy na haar kyk, merk hy dat haar wange bloedrooi en haar blik ontwykend is. Dit laat hom wonder . . . Hy besluit om liewer die gesprek te verander. Die laaste ding wat hy nou wil doen, is om haar sommer met hul eerste afspraak in die verleentheid te stel. Dit sal veiliger wees om oor hospitaalsake te gesels.
“Ek kom agter Rudolf Mulder se gemoedstoestand is uiteindelik aan die verbeter vandat hy in ’n rolstoel is. Die dagpersoneel sê hy het al vriende gemaak met oom Hansie Boonzaaier.”
Suster Jo sit stom geskrik. Hoekom verwys hy nou na Rudolf? wonder sy agterdogtig. Het hy die ooreenkoms tussen die foto in die portretraam en die pasiënt gesien, of praat hy maar sommer toevallig van Rudolf?
“Ja, dis nogal snaaks dat hy vir oom Hansie gekies het om mee vriende te maak,” antwoord sy floutjies.
“Wat is jou noemnaam, suster Jo?” vra hy onverwags.
“Hoekom vra . . .?” Sy besef sy klink verskrik en aarsel voordat sy meer besadig sê: “Ag, almal noem my maar Jo. Hoekom vra jy?”
“Ek het maar net gedink ons kan mekaar seker vanaand op die voornaam noem. Ons is mos nie aan diens in die hospitaal waar almal op die van aangespreek word nie. My naam is Bertus, as jy dalk nie weet nie.”
Sy knik en glimlag senuweeagtig toe sy agterkom hy kyk na haar. En sy bloos onwillekeurig toe hy vir haar vertel hoe mooi sy lyk. Nes ’n bakvissie, dink sy vies vir haar onbeholpenheid in sy geselskap. Hy gaan hom vanaand op sy oom se partytjie seker nog morsdood skaam vir haar, want wanneer haar senuwees so op hol is, is sy tot enige sotheid in staat.
Maar die vleisbraaipartytjie is toe ’n groot sukses. Of dit die bietjie wyn is wat haar so ontspanne laat voel, en of dit die aangename atmosfeer is, weet sy nie, maar sy geniet die aand tog, al kan sy nooit regtig vergeet van die Van Zyls se dreigement en die dilemma waarin sy haar bevind nie.
Toe dokter Simpson haar laatnag na haar voordeur vergesel, weifel hy ’n oomblik. Hy buig tog vooroor en soen haar liggies op die mond voordat hy omdraai en in sy motor klim om verder te ry. En ’n rukkie later in haar kamer raak suster Jo half verwonderd aan haar lippe. Sy soen was so vinnig, daar was in elk geval nie tyd om te keer nie.
Wonder bo wonder slaap sy die nag goed. En toe die dag breek, staan sy met nuwe moed op. Dalk het Darius en Sanet al besin. Dalk sê hulle vir haar dit is sommer ’n poets wat hulle haar bak.
Maar na ’n lang telefoniese gesprek besef sy dit was geen grap nie. Hulle het elke woord bedoel. Hulle gee haar ook net twee weke tyd om die nodige vorms in te vul waarin sy geheel en al van Anton afstand doen – of sy sal die gevolge moet dra.
Darius se waarskuwende woorde refrein deur haar gedagtes: “Dis vir jou om te besluit of jy Anton aan ons gaan afstaan, waar hy verseker is van ’n goeie toekoms en baie liefde. En of jy wil hê Rudolf Mulder moet ingelig word omtrent sy bestaan. Jy moet onthou, parapleë trou nie maklik nie en kan ook nie kinders verwek nie. Rudolf Mulder sal seker wat wil gee om ’n erfgenaam te hê, dink jy nie ook so nie? Aan aardse besittings sal Anton seker nie ’n tekort hê nie, maar wat van liefde?”
En na baie mooipraat en trane en later ook dreigemente van haar kant dat sy vir hom en Sanet sal aankla van afpersing: “Doen dit gerus, want dan sal die hof ’n regverdige uitspraak moet lewer. Die hof sal moet besluit of hulle Anton aan ’n werkende ma gaan gee wat nog nooit regtig iets vir hom beteken het nie, aangesien sy nog nooit ’n sent bygedra het tot sy opvoeding, of selfs vir hom ’n dak oor die kop gebied het nie. En of hulle dink hy kom die mense toe wat tot dusver alles vir hom gedoen en hom met liefde oorlaai het.”
Hy het nog baie dinge kwytgeraak, maar sy was te verslae om daarna te luister. Dat mense wat jy so ten volle vertrou het, jou so genadeloos in die rug kan steek!
Hoeveel keer het sy hulle nie gesmeek om darem net ’n ietsie by te dra tot Anton se noodsaaklike lewensmiddele nie? Haar hart het partykeer gebrand om vir hom klere te koop, net soos haar hart gebrand het om hom elke dag naby haar te hê. Maar Darius wou nooit toelaat dat sy ’n sent uithaal om aan Anton te bestee nie. Al wat sy mag gekoop het, was speelgoed met sy verjaardae of ander spesiale geleenthede. Darius het gesê sy moet hom nie die voorreg ontneem om vir klein Anton se sorg te betaal nie, want dit is alles uit diepe dankbaarheid vir wat hy vir hulle beteken. Nou verdraai hy die feite om voor te gee sy was ’n hopelose, slegte ma! En hoe gaan sy die teendeel bewys? Sy ken vir Darius. Hy sal sy dreigement uitvoer. Want net so goed en gaaf as wat hy kan wees, net so hardvogtig en onverbiddelik kan hy raak wanneer iemand in sy pad probeer staan. Sy onthou maar alte goed hoe meedoënloos hy in die afgelope verkiesingsveldtog teenoor sy politieke teenstander opgetree het.