Die windvanger. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach страница 7
en meeue teen die wind is perfekte parabole
om die bewegings van ongeuite denke te begrens:
hierdie wêreld was goed vir my
Die dooie digter voel hoe trek die stroom
van ’n ander verlede
waar drome versuip het
en wrakke vasgetand op koraalriwwe slaap
in ’n ewige roes
Hy lag, draai om, swem
die dieper see in,
en was al die stront uit sy kop
21
aanhou lewe tot dit op is
en indien die grys gelatenheid
my sou voorlê en vang
wanneer ek in die son sit kwyl
en my naam en jou naam
nie meer sal kan hang
aan die tong
en niemand ontmoet om te vertel
in die omstreke
van hierdie helder somermiddag
is ek oorlede
nou juis nou
dat my hand die geur van jou vel herken
maar hoe mag die leegte
vorm onthou?
sal ek nog van geluk bewe
soos ’n klein insek
want jy het die bewegings
van my soeke bepaal
my opstaan en omdraai
tot selfs die gebare
van dwaal en verlies
die skadutrilling
van jou helder aanwesigheid
laat my kinds kweel
nou juis nou
dat my hand die kleur van ons spel vergeet
tot waar voorland verdwyn
en die op sedert altyd
vir ewig aanhou
22
die pad van die lewe is gevaarlik,
boet, en jy moet uiters versigtig
trippel-trappe-tone
as jy veilig en verlig
ligvoet by die dood
uit wil kom
23
wanneer ek weggeraak het van die werf
so goed gegrond is
dat hoor en sien vergaan
ek lankal gat skoongemaak het
en iemand vra:
by the way
wat het geword van daai
Grootbek Breytenbach?
antwoord dan: hy het gesê
hy gaan nêrens heen
so hy is maar nog
hier iewers hond
New York, 16 September 2002
3
lappesait
(dis die vuur van bestaan wat die ure vertel)
1
eers kom die wind
die voël die vis die boom
die kind (die wind)
en ’n begin van woorde
wat kleuterkleure aan geheue bind
met ’n lint van klanke
die sterwe kom uit die lyf
soos getye tyd gestoot
deur ’n larwe-lewe van sterre en sinne
gestring aan wat om die oog
se einders knetter en brand
die verstrengelde voël die vaste vis
die ketter die kindse kind
die asem weemoed
die hand ’n blinde hond
snoep-snoet teen die bederfenis
van soet wind
2
onthou
grootwind
kom en waai alles weg
die dakke en skoorstene met pluime vonke
en vensters met hulle spieëlruimte van strate en tuine
die dogtertjies se poppe swem swaar gerok in leivore
selfs die bloederige lyk opgehang in die solder
kry vlerke
totdat die stad van konkel en koggel en kul
wat die mense gebou het
platgevee is
en op die land word bome sidderend ontwortel
hegte en heinings raak afwesig
voëls stort as winterknalle uit die hemel
en wolke verdwyn soos rokke rook
agter