Om te mag twyfel. Julian Müller
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Om te mag twyfel - Julian Müller страница 3
My ouers was albei in die plaasbestaan gewortel. Dit was ’n sukkelbestaan, maar ’n edele bestaan. Hul skoling was hoofsaaklik plaas- en boerewysheid. Dit het daaroor gegaan om van die hand in die tand te lewe en tog verstandig met die Bybel in die hand vir die dag van môre voorsiening te maak. Ek het hierdie waardes van hulle gekry en geleer om dit deur eenvoudige gelofies en gewoontes voort te sit: Jy maak jou skoene skoon, al is hulle ook deurgeloop. Jy kan maar arm wees, maar jy moenie versleg nie. As jy iets het, dan trek jy dit nie deur nie. Jy pas wat jy het op en jy maak reg as dit breek. Jy laat Gods water nie oor Gods akker loop nie. Dit het vir materiële goed en vir geestesgoedere gegeld.
Heelwat later, toe ek al predikant in my derde gemeente, Universiteitsoord, was, het ’n ouderling eendag by ’n kerkraadsvergadering vir my net die regte woorde vir hierdie lewenswaarde gegee. Dit het in die kerkraad gegaan oor die vraag of ’n bepaalde verbetering aan die kerkeiendom aangebring moet word of nie. Soos altyd was daar ’n paar ou suinige knolle wat wou afskeep en kortknip. Toe staan ouderling Seegers op en sê: “My pa het my geleer jy kan maar arm wees, jy moet net nie arm dink nie.”
Vir my was die saak daarmee beklink en ek het geweet hoe om te stem. Dit was seker omdat daardie aardse wysheid by my eie familiestorie aansluiting gevind het. Aan albei kante van my gesin van oorsprong is ’n stryd teen armoede maar veral teen “arm dink” gevoer.
My indruk van my voorgeslagte verskil seker nie baie van dié van ander Afrikaners van my geslag nie. Dit is hul portrette wat in die gang gehang het. Hulle was nie juis vriendelik nie en ook nie almal vreeslik mooi mense nie, maar vasberade. Daar was nie rykdom nie, maar daar was trots en waardigheid. Afgesien van my ouers was my ouma Bettie Müller waarskynlik die persoon in my lewe wat hierdie waardes die duidelikste vertoon het. Toe ek my verstand gekry het, was sy al ’n weduwee en het sy elke jaar omtrent drie maande lank by ons gebly.
As sy haarself nie met haar hekelpen besig gehou het nie, was dit met kos kook of met die graaf en vurk in die tuin. Eendag het hulle ’n groot rinkhals in ons tuin gekry en sy het hom eiehandig met die piksteel doodgemaak. Ek sien haar nog staan waar sy die slang se kop platslaan en die Bybelteks aanhaal:
“ . . . en hy sal jou die kop vermorsel”.
Vandag beskou ek dit nie as prysenswaardig om slange dood te maak nie, maar ouma Bettie het uit ’n ander geslag gekom en nie my sentimente gedeel nie. Vir haar het dit daaroor gegaan dat die chaos nie in enige vorm mag oorneem nie. Arm of te nie, jy moet beheer oor jou lewe neem en God se skepping behoorlik en verantwoordelik bestuur. Slange was deel van die chaos (bose?) wat nie op die werf geduld is nie en summier doodgemaak is.
Godsdiens was nie voorop in die familiestorie nie. Daar was geen predikante in my voorgeslagte nie en ek dink my ouers was nogal meer kerklik as die meeste van die res van die familie. Niemand was onverskillig of kerkloos nie. Daar was ook geen sendelinge nie. By familiebyeenkomste was daar nie vroom praatjies nie. Inteendeel, daar is vrolik partytjie gehou en net by sulke geleenthede het ek my pa ’n glasie whiskey gesien drink. Onder in sy hangkas was daar wel altyd ’n botteltjie brandewyn, maar dit was net vir medisyne.
Aan my ma se kant was almal Hervormers. Hulle was die vrolike deel van die familie. Sy was baie meer geestelik as die res van haar familie. Ek weet nie presies waar dit vandaan gekom het nie. Nietemin was die aardse en rasionele spiritualiteit van die Hervormde Kerk by haar sigbaar en deel van die erfenis wat my sekerlik tot vandag beïnvloed. Haar agtergrond het in elk geval goed met die soort NG spiritualiteit aan my pa se kant saamgeval. Daardie deel van die familie was vromer as die Hervormer-deel, maar beslis ook nie deel van die evangeliese stroming in die NG Kerk nie. Dus het ons gesin die godsdienstige kenmerke van die Hervormers en van die gereformeerde lyn van die NG Kerk vertoon. Ek vertel later hoe ons ’n tyd lank nogal heel evangelies geraak het, maar dit het nooit werklik deel van ons identiteit geword nie.
Hoewel die familie dus geen rolmodelle as predikante aan my voorsien het nie, was my besluit om my “heuning” in die bediening te soek tog ook nie heeltemal vreemd vir my familie nie. Inteendeel, ek het by die res van die familie aanvaarding van my keuse en selfs bewondering daarvoor gevind. Later het ek as’t ware die rol van die familiepriester beklee toe ek nefies en niggies moes doop en trou en die ouer geslag moes begrawe. Die omgewing waaraan ek van kindsbeen af blootgestel is en die waardes wat ek aangeleer het, het my baie goed voorberei om dominee en later teoloog te word.
Die Venda-verhaal gaan om meer as net die soek na “heuning”. ’n Verskeidenheid universele waarhede is in die verhaal te vind, soos byvoorbeeld die voorlopige en valse rusplekke wat ook deel van die lewensreis is. Die “krale” op die Venda-seun se pad funksioneer in die verhaal as aanloklike maar valse en te vinnige winste. Dit lyk aanvanklik na ’n ideaal wat bereik is, maar blyk dan tog eerder ’n versoeking te wees. As die seun op sy pad sou terugkyk, sou hy heel dankbaar gewees het dat hy eerder na die subtiele stem van die voëltjie geluister het en nie by een van daardie krale vasgesteek het nie.
Dit is waarskynlik deel van die menslike aard om sommer vinnig by jou bestemming te wil aankom. Gearriveerdheid is ’n versoeking waarvoor maklik geswig word. Dit is immers so lekker om te voel dat jy aangekom het en bereik het wat die lewe vir jou weggebêre het. Dit gaan oor die versoeking om jou eintlike ideale vir voorlopige winste in te boet.
Sommige stasies van die lewe moet weer verlaat word. As ’n mens daar sou vassteek en te lank vertoef, sou die “heuning” van jou lewe jou vir altyd ontwyk. Dit is soos om op pad te wees om ’n bok te gaan jag en nie daartoe in staat te wees om die hase wat langs die pad opspring maar te laat gaan nie.
In die najaag van my “heuning” was daar ook sulke “krale”. Dat ek nie by een van hulle vasgesteek het en my heil daarvan verwag het nie, is genade. Ek het gelukkig ook ’n “voëltjie” gehad wat my gedurig aangemoedig het. Die “voëltjie” was soms my opvoeding, soms my vriende, soms my vrou, soms my kinders, soms net ’n ingewing, soms ’n teleurstelling, soms ’n briefie van ’n ondersteuner. Vandag as ek terugkyk, is ek so dankbaar dat ek nie by een van dié drie krale langs die pad vasgehaak het nie:
• Evangeliese geloofsekerheid
• Christelike nasionalisme
• Kerklike sekuriteit
Dié drie dinge kan almal onder die opskrif “georganiseerde godsdiens” staan, want selfs die Christelike nasionalisme was deel daarvan.
In die Venda-verhaal bied elke volgende kraal ’n nóg groter versoeking vir die seun. In die eerste kraal is bokke, wat algemeen voorkom en nie so waardevol is nie. Die tweede kraal is egter vol skape wat baie meer waarde het, maar dis die derde kraal wat die kosbaarste inhoud het, in die vorm van beeste. Die versoeking word dus al hoe groter.
In my eie lewensverhaal het die versoekings nie toenemend sterker geword nie, maar elkeen van die drie bogenoemdes se verleidingskrag was ewe sterk. Hulle word genoem in die volgorde waarin hulle aanvanklik oor my pad gekom het; nie in orde van belangrikheid nie. Dis ook nie asof ek die een versoeking na die ander afgehandel het en dit daarna vir ewig agtergelaat het nie. Dié “krale” bied versoekings waarteenoor ek my weer en weer en steeds moet posisioneer.
Die Amerikaanse teoloog Walter Brueggemann praat in sy boek Praying the Psalms[2] van die gedurige wisseling tussen drie state van lewe wat hy as deel van die menslike staat beskou: Die eerste is om veilig georiënteer (securely oriented) te wees, die tweede is om pynlik gedisoriënteer (painfully disoriented) te wees en die derde is om verrassend gereoriënteer (surprisingly reoriented) te wees. Hierdie indeling strook met my