Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal. Henk Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 8 Huistaal - Henk Viljoen страница 7
Gehoorkontak: Gehoorkontak by vertolkende lees beteken dat jy vooruit moet kan lees. Kyk op na die gehoor, sê ’n paar woorde aan die gehoor om hul reaksie te monitor voordat jou oë weer die teks in die boek volg. Maak met die gehoor kontak deur jou stem te projekteer.
Leesvermoë: Hierdie is vertolkende voorlees, nie ’n toets vir vloeiende lees nie. Lees vloeiend, korrek, entoesiasties en vooruit.
Lyftaal: Jou liggaamstaal moet natuurlik en ontspanne wees. Toon inlewing en meelewing, al is dit net om die skouer te lig.
Begrip en interpretasie: Lees is die oordra van idees eerder as die blote oordrag van woorde. Jy moet aan die gehoor kan oordra dat jy die teks verstaan. Die teks het ’n besondere aard, stemming en boodskap wat jy moet kan oordra.
Vertelling en dialoog: ’n Teks bevat sowel verhalende as vertellende gedeeltes. Jy moet die teks só voorlees dat dit vir die gehoor duidelik is wanneer ’n karakter aan die woord is en wanneer ’n verhalende deel gelees word. Beheer jou emosie by dialooggedeeltes.
Stemgebruik: Jou stem moet hoorbaar, verstaanbaar en met ’n natuurlike aanslag wees. Maak gebruik van tempowisseling om die gehoor se aandag te behou. Moenie te vinnig praat nie, want die inhoud kan verlore gaan. Korrekte frasering en pousering, asook vloeiende en natuurlike lees, versterk begrip van die inhoud.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die stappe van prosesskryf volg
’n verhalende of beskrywende opstel skryf.
Ons het in die vorige aktiwiteit van ’n tiener se probleme gelees toe sy haar pa se bakkie gestamp het omdat sy vergeet het om die handrem op te trek. Was jy al in ’n soortgelyke situasie? Het jy al probeer motor bestuur?
Skryf oor ’n snaakse episode wat plaasgevind het toe jy probeer motor bestuur het. Jou opstel moet aan die volgende vereistes voldoen:
Dit hoef nie regtig te gebeur het nie, maar jy moet van ’n eerstepersoonsverteller gebruik maak – dit moet klink of dit jou eie storie is.
Kry ’n treffende titel vir jou opstel.
Blaai terug na aktiwiteit 3 en volg die stappe van prosesskryf.
Sorg dat jou paragrawe logies op mekaar volg.
Let daarop dat elke paragraaf se inleidende sin die kerngedagte bevat. Die ander sinne moet ondersteunende besonderhede verskaf.
Maak gebruik van verbindingswoorde wanneer jy sinne en paragrawe by mekaar laat aansluit.
Wissel jou sinslengtes en ook jou sinsoorte af.
Jou opstel moet 200 tot 250 woorde lank wees.
Formele assessering
Jou onderwyser gaan van ’n rubriek gebruik maak om jou opstel te assesseer.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
preleesvrae beantwoord
’n gedig saam met jou maat paarlees
vrae beantwoord
’n paragraaf skryf.
Preleesvrae
Is jy tevrede met jouself – hoe jy lyk, hoe jy klink, jou persoonlikheid?
Wat is daar wat jy graag sal wil verander?
Hoe dink jy sal dit jou lewe beïnvloed as jy dit kan verander?
Paarlees ’n gedig.
Paarlees die gedig “Die nuwe ek” van Sunette du Plessis in die Piekfyn Afrikaans Leesboek saam met ’n maat. Begin saam hardop lees en pas julle leesspoed aan sodat julle elke woord saam lees. Wanneer julle die gedig vlot kan lees, moet elkeen ’n beurt kry om dit hardop voor te lees.
Postlees: Beantwoord vrae en skryf ’n paragraaf.
Beantwoord die vrae in die Piekfyn Afrikaans Leesboek.
Skryf ’n paragraaf oor hoe jy jouself sou wou verander. Jy kan dieselfde titel as die gedig of jou eie titel gebruik. Jou paragraaf moet 120-140 woorde lank wees. Maak ook gebruik van die stappe van prosesskryf. Pitkos gee ’n verduideliking van wat ’n samehangende paragraaf is.
Pitkos
’n Samehangende paragraaf is ’n paragraaf waar een sin by ’n vorige aansluit sodat die paragraaf een groot geheel of samehang vorm. Dit word verkry deur een hoofsin (kernsin) te hê wat die hoofgedagte van die paragraaf vorm. Al die ander sinne in die paragraaf brei uit op hierdie hoofgedagte – ons noem hulle bygedagtes. Laat jou sinne by mekaar aansluit. Maak gebruik van verbindingswoorde soos voegwoorde en betreklike voornaamwoorde.
Ons word daagliks gebombardeer met slegte nuus van aardverwarming, ’n waterskaarste, armoede en allerhande rampe wat ons kan tref. En dan besef ’n mens: jy is eintlik weerloos, want daar is niks wat jy mens alleen kan doen om dinge te verander nie.
Die module skop af met vier spotprente wat julle moet ontleed. Julle leer wat die eienskappe van ’n spotprent is en hoe ’n spotprent benader moet word. Dan moet jy ’n paar vrae beantwoord.
Jy luister ook na ’n toespraak wat die burgemeester gelewer het, lees dit self en ontleed die toespraak dan met behulp van ’n paar vrae. Daarna gaan jy natuurlik jou eie toespraak skryf en aan die klas lewer.
Ons kyk ook na innerlike konflik in ’n kortverhaal van Fanie Viljoen wat in die Piekfyn Afrikaans Leesboek verskyn.
Taalstrukture wat behandel word, is woordvorming, waar jy leer hoe om nuwe woorde te vorm deur middel van afleiding, samestelling en samestellende afleiding. Jy leer ook wat die verskil tussen ’n simpleks en ’n kompleks is en wat die betekeniswaarde van sekere voor- en agtervoegsels is. Laastens leer jy om kritiese taalbewustheid aan te kweek wanneer jy die verskil tussen letterlike en figuurlike taalgebruik leer en dit ook toepas.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
spotprente bestudeer
sosiale kwessies