Onrus op Oshakati. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Onrus op Oshakati - Ena Murray страница 3

Onrus op Oshakati - Ena Murray

Скачать книгу

ingesypel, heelwat dieper as wat baie vermoed – hierdie gees van haat, hierdie wrok teen wit mense.” Hy wink en sy volg hom na die kaart wat teen die muur agter hom vasgespyker hang. Sy hand beduie en sluit ’n groot stuk aarde saam. “Dis ’n groot gebied wat ons moet bedien, benewens die hospitaal self, wat kort duskant vyfhonderd beddens bevat wat altyd vol bly, behalwe vir die slaapplekke en lêplek wat dikwels tot in die gange op die vloere gemaak moet word. Hierdie hospitaal is maar ’n afdeling van ons werk. Ons is op roep oor ’n paar duisend hektaar, soos jy self hier voor jou kan sien. Kort bokant ons lê die Kunene en Angola-grens en reg oos die Caprivi-strook. Links is die Kaokoveld. Suid lê Etosha en die beskawing – ver suid hiervandaan.”

      Hy kyk op haar af, na die koppie met die natgeswete krulle wat kwalik sy skouerknop haal, en die mismoedigheid wil hom oormeester.

      Ses maande lank al behartig hy alleen hierdie hospitaal, wat die sentrale spil van hierdie groot gebied vorm, asook die noodoproepe uit enige deel van hierdie groot stuk aarde. Ses maande lank al doen hy so te sê dag en nag diens. Hy kon in sy spore neersak van uitputting én dankbaarheid toe hulle hom ’n week gelede in kennis stel dat hulle ’n assistent stuur. En dis wat hulle hom gestuur het – ’n klein stukkie vroumens wat lyk asof die eerste wind haar kan omwaai, ’n blote kind soos sy hier langs hom staan, die bruin oë groot en belangstellend op die kaart voor haar gerig, die neusie met ’n effense parmantige wip in die punt, ’n sagte mond wat op hierdie oomblik baie weerloos vertoon, twee klein, vuil handjies bedees voor haar saamgevat, en van daar onder loer twee verspotte klein voetjies in sandale na hom op. Hy het hulp so dringend, só dringend nodig en hulle stuur vir hom . . . dít!

      Die bruin oë draai na hom, nou nie meer vyandig nie.

      “Maar die grootste moeilikheid is mos darem seker op die grense, nie waar nie?”

      Sy mond trek en hy gee ’n kortaf, grimmige laggie.

      “Die ooglopendste is daar, maar dis al veel dieper as die grens. Dis oral. Dis om ons. Dis al verby ons. Jy het tog seker gelees van die Ovambo-onluste ’n rukkie gelede, nie waar nie? Dit was in Windhoek. Maar dis nie net Windhoek nie. Dis maar net ’n kol waar dit na buite uitgeslaan het, soos masels wat kol-kol uitslaan. Maar die siekte is wydversprei binnekant. Dis oral.”

      Sy kyk hom fronsend aan, nie seker of hierdie man doelbewus daarop uit is om haar bang te praat om haar hier weg te kry en of hy werklik ernstig en bekommerd is, soos hy op die oog af voorkom nie.

      “Probeer u my sê dat dit gevaarlik, lewensgevaarlik vir ’n dokter hier kan wees – vir iemand wat hulle wil help, hul lewens red, pyn verlig . . .”

      Sy humorlose glimlag bring haar tot swye.

      “My liewe mens, as jy dink dat hulle jou sommerso as ’n engel van die lig sal aanvaar, en as dít jou beweegrede agter jou koms hierheen was, moet jy so gou moontlik weer hiervandaan vertrek.” Hy draai weg, gaan weer voor die venster staan, kyk uit na buite en lyk peinsend, strak.

      “Ek is al agt jaar op Oshakati en ek dink ek het die Ovambo’s taamlik goed leer ken – en hulle vir my. Ek is nou nog dokter vir hulle, die een wat hulle gesond maak wanneer die toordokter nie verder kan nie. Maar ek is bewus van die gees van onrus wat selfs op Oshakati ingesluip het.” Hy draai weer terug na haar. “Jy sien dus, dokter Maartens, hoekom ek sê dat Oshakati nie die plek vir jou is nie. Jy moet liewer na ’n ander plek vlug.”

      Sy ruk asof ’n elektriese stroom deur haar trek en die maer wange verbleek merkbaar. Die bruin oë lyk meteens swart in die bleek gesiggie.

      “Wat . . . bedoel u?”

      Hy gee ’n tree of twee nader, kyk weer met daardie speurende arendsblik op haar af, sien baie meer raak as wat sy vermoed. Hy sien nie net die hewige klop van ’n ontstelde hart in die kuiltjie in haar nek en die gespanne spiere in die kakebene nie. Hy sien ook die vreesflits in die bruin oë.

      “ ’n Jong meisie van ses en twintig met jou kwalifikasies kom nie na Oshakati sonder ’n rede wat haar tot hier gejaag het nie. Wat jou rede ook al is, dokter, gaan soek liewer ’n ander plek om ’n gebroke hartjie te dokter of ’n plaende gewete te sus – of watter rede jou ook al aanjaag. Jy sal die vrede waarna jy miskien soek, nie hier op Oshakati vind nie.”

      “So? Maar jy is al agt jaar hier, dokter. As Oshakati dan nie die plek is waar ’n mens vrede kan vind nie, hoekom bly jy dan so lank hier?” Dis nou haar beurt om hom noukeurig dop te hou, te sien hoe die gesig verstil, dan verstrak sodat die spiertjies in sy kake begin spring en die bloed duidelik teen sy slape pols. Tog waag sy dit verder: “ ’n Man met jou kwalifikasies moes seker ook ’n rede gehad het om hom tot op Oshakati te jaag.”

      Vir die eerste keer sien sy sy oë voor hare huiwer, en sy stem klink koud toe hy sê: “Ek is ’n man. Dis anders.”

      “Hoe anders? Die hart het geen geslag nie.” ’n Vasberade trek verskyn om haar lippe en weer ontmoet sy die groen, ontstoke oë onverskrokke. “Ek is beïndruk deur wat u my vertel het, dokter Hoffmann, maar nie banggepraat nie. Ek is in elk geval nie bereid om tou op te gooi voordat ek nog begin het nie. Ek is nou eenmaal ’n vrou, en ek is bevrees u sal daardie feit maar moet aanvaar. My geslag het in elk geval niks met my werk te doen nie.”

      “Maar jou uithouvermoë het,” kap hy vinnig terug. “Was jy onlangs siek?”

      Weer betrap hy haar onverhoeds met die vinnige vraag en weer sien hy die vlugtige vreesflits in haar oë. Maar sy ruk haar byna dadelik reg en antwoord koel:

      “ ’n Effense senu-ongesteldheid, niks wat werk en vrede en Oshakati nie kan genees nie.”

      Louw Hoffmann vou weer sy arms voor sy bors, ’n gebaar wat sy in die nabye toekoms as kenmerkend van hom sal leer ken.

      “Dan is jy vasberade om te bly en dink jy sal vrede hier vind?”

      “Ja. Hoekom nie? Jý het . . . nie waar nie?”

      Hy antwoord haar nie, maar sy het ook nie een verwag nie. Hul oë meet mekaar, som mekaar op, takseer mekaar.

      Sy stem is sag, maar klink dreigend toe hy eindelik sê: “Goed. Ek het my plig gedoen. Maar moenie by my kom huil nie en moenie dink ek gaan jou spaar nie. Ek gaan van jou presies dieselfde verwag as wat ek van ’n manlike kollega sou verwag.”

      “Dis presies wat ek verkies, dokter. Ek is sover dit u aangaan, seksloos. Ek het gekom om te werk.”

      “Gaaf, dokter Maartens. In daardie geval . . .” Daar is skielik ’n glinstering in die groen gespikkelde oë. “Ek het ses maande alleen gewerk. Ek dink ek verdien ’n vry aandjie. Jy is oor presies twee uur op diens vir die hele nag. Ek hoop vir jou onthalwe dis ’n taamlik rustige nag. Môre het ons vyf operasies behalwe die gewone daaglikse roetine. En miskien sal ons ’n oproep uit die boendoe gespaar bly. Maar moenie te veel daarop hoop nie.”

      Linda kyk hom aan asof hy van sy verstand af is. Besef die man dan nie dat sy uit die Kááp kom nie? Sou hy ooit weet waar dit is, of dink hy miskien dit lê agter die tweede bult? Besef hy nie dat sy die hele dag in die hitte bestuur het en dat sy tot in elke vesel afgemat is nie?

      Dis die glinstering in sy oë wat haar dwing om haar moeë skouertjies agteroor te trek en met ’n ongeërgdheid vreemd aan haar te laat hoor: “Dis heeltemal in orde, dokter. As u my net my verblyfplek sal wys sodat ek my kan bad en opknap, sal ek gereed wees.”

      Hy druk ’n klokkie op die lessenaar en dieselfde suster van netnou maak haar verskyning.

Скачать книгу