Wag-'n-bietjie-liefde. Susan Pienaar

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wag-'n-bietjie-liefde - Susan Pienaar страница 7

Wag-'n-bietjie-liefde - Susan Pienaar

Скачать книгу

kan sy seker ook nie in die paar dae wat voorlê haar penne soos ’n ystervark uitstoot elke keer wanneer Alex naby haar kom of ’n vraag vra nie.

      Alex kyk ’n tweede keer vir haar en sy sug hardop. “Wat wil jy nou eintlik weet?”

      “Laat ek sien. Dinge soos . . . wat het jou laat besluit om ná matriek as au pair in Amerika te gaan werk? Een hoekom swot jy sielkunde?”

      “Nee, jitte, ek kan onmoontlik my hele storie op een slag vir jou vertel.”

      “Die pad is lank en stil. Ek het baie tyd.”

      “Ek waarsku jou, ek gaan die daylights uit jou en Mandie en Paul verveel.”

      Mandie lag en sit vorentoe. “Jy gaan niks uit haar kry nie, Alex, maar moenie worry nie, ek sal jou alles vertel wat jy omtrent haar wil weet.”

      Amber gooi ’n waarskuwende blik oor haar skouer na Mandie.

      “Was jy so sportmal soos Mandie?” vra Paul.

      Amber skud haar kop. “Nie dat jy dit sou agterkom nie.”

      “Amber het aan skoolsport deelgeneem en netbal gespeel.” Mandie sit agtertoe. “En o ja, sy’t gimnastiek ook gedoen.”

      Alex knik ’n paar keer asof die gimnastiek hom beïndruk. “Mm, gimnastiek, nè?”

      “En jy moet hoor hoe mooi speel sy klavier,” stoom Mandie voort.

      Musiek was haar lewe. Sonder die ontvlugting van haar musieklesse en rigiede oefenprogram van vier ure per dag, sou sy seker uitmekaargeval het. Musiek het haar van alles in haar lewe wat sleg was, laat vergeet.

      Alex kyk vinnig na haar. “Watse musiek speel jy?”

      “Klassieke musiek . . . maar ek speel sommer enigiets anders ook, dan meestal op gehoor.”

      Alex knik. “Eendag moet jy beslis vir my speel . . .” Sy foon lui. “Jammer,” glimlag hy en lig die foon. “Ons is nou by die tweede tolhek.” Hy luister eers weer, sê dan: “Oukei, maar kry dit by die George-slaghuis. Sien julle dan later.” Alex glip sy foon in sy hempsak, haal geld uit die bakkie tussen hulle, betaal deur die venstertjie en gooi die kleingeld so met die wegtrek in die bakkie.

      Mandie sug. “Ek lei af Kobus en Doreen is op pad?”

      Alex knik. “Mm, ja, hulle het toe gouer klaargekry.”

      “Is daar nie winkels en ’n slaghuis op Zebula nie?” vra Paul vir Mandie.

      “Nope, net ’n winkeltjie waar ’n mens aandenkings en vuurhoutjies en goed soos sout en suiker, koffie en toiletware kan kry.” Mandie is ’n rukkie stil. “Ons vat nooit kos saam nie. Ons eet gewoonlik by die klubhuis en as ons iets anders regtig broodnodig kry, ry ons na Warmbad se Pick n Pay toe. My ma-hulle braai nie saans wanneer ons alleen is nie, maar my broers is lief om so af en toe ’n vleisie op die kole te gooi. Hulle maak in elk geval saans vuur, sommer net vir geselligheid wanneer ons buite kuier.”

      Alex skakel die lugverkoeling aan. Dis Maart, maar vir Amber voel dit soos midsomer. Dankie tog die aandag is nou nie meer op haar nie. Haar gedagtes kies vanself koers na die verlede. Niemand sou haar keer toe sy in graad twaalf besluit het sy gaan Amerika toe nie – daarvoor was haar wil en sin vir onafhanklikheid te sterk. Sy’t self na ’n au pair-agentskap gegaan en die bal aan die rol gesit. Haar spaargeld van agtien jaar se verjaardae het nuttig te pas gekom.

      “Wie is lus vir koffie en vleispasteitjies?” vra Mandie en voeg by: “Dis net hier agter, Paul, jou arms is langer as myne.”

      “Ek dog jy vra nooit,” sê Alex. “Die pad is nogal mooi, ons kan sommer so in die ry drink en eet.”

      Mandie gee vir Amber ’n pakkie met pasteitjies aan. “Dis jou en Alex s’n.” Sy sit haar en Alex se bekers koffie in die ronde houers tussen hulle.

      So tussen die etery deur kyk Amber geïnteresseerd om haar rond. Doringbome, mielielande en vrugtestalletjies.

      “Was jy al in hierdie deel van die wêreld?” vra Alex.

      Amber skud haar kop. “Nee, maar ek was darem al in die Krugerwildtuin.”

      Hier is hulle nou by Warmbad. Ag nee, die ou plekkie is dan piepklein? Links is ’n motorsentrum en ’n paar ander besighede, palmbome en ’n yslike kennisgewingbord. Groen watertenks sweef regs van Alex se gesig verby en Amber se kop draai saam. Hy glimlag vir haar, maar Amber maak asof sy dit nie sien nie.

      Alex sien hoe Amber wegkyk. Hy’t nie verwag dat sy so stil en terughoudend sal wees nie. En ontwykend ook, veral toe hy haar ’n opening gegee het om oor sielkunde te praat. ’n Glimlag pluk aan sy lippe toe hy onthou hoe haar amberkleurige oë vuur gespoeg het toe hy haar oor die swaar tas geterg het.

      Oukei, hy was nogal vieserig om mee te begin, nie vir haar nie, vir homself omdat hy sy oë alleenlik met moeite van haar kon afhou. Sy’s mooier wanneer sy haar vervies. Haar wange word pienkerig en hy moes homself keer om nie heeltyd na haar borste onder die top te kyk terwyl sy diep in- en uitgeasem het nie.

      Mandie tik Amber op ’n skouer. “Daar’s iets wat heeltyd aan my vreet. Ek kan slange vang wanneer ek daaraan dink.”

      Amber kyk agtertoe. “Nou maar wat is dit wat jou so omkrap?”

      “Daar’s ’n dogtertjie in my klas . . . eintlik is dit die kind se ma wat my die hoenders in maak.”

      “Wat maak die ma?” Hier langs hom gooi Amber haar lang hare met ’n skud van haar kop agtertoe, draai haar lyfie dan op die sitplek sodat sy na Mandie kan kyk. Sy ruik lekker, na iets soos fyn blou blommetjies en ’n tikkie speserye. Alex loer na haar, sien die erns op haar gesig en glimlag. Sy maak haar nou natuurlik reg vir ’n groot debat.

      “Nee, jissie, daai vrou is net nooit tevrede met haar kind se punte nie. Jy moet gehoor het hoe trap sy Sonia voor my uit toe hulle die kind se rapport Dinsdag by die skool kom haal het. Van die kinders en ma’s wat buite my klas op die stoep gewag het, kon nie anders om te hoor hoe sy tekere gaan nie.”

      Alex hoor hoe Amber haar asem skerp intrek. “Ag, sies tog, die arme kind. Kan jy dink watter sielkundige skade dit aan so iemand doen? Dis ’n vorm van perfeksionisme wat sekerlik uit narsisme by die ma spruit.”

      Alex glimlag. A, hier neem die gesprek nou ’n interessante wending. Nes Cynthia swot Amber nog nie lank sielkunde nie en nou wil sy natuurlik wys wat sy weet.

      “Waarop baseer jy jou bevinding van narsisme?” vra hy en voeg by: “Ek reken die ma was dalk net te ontsteld om daaraan te dink dat daar ander mense is wat kon hoor.”

      Amber draai haar vinnig na hom. Haar wange is pienk van ergerlikheid en sy’t weer daardie snotty kyk in haar oë soos die dag met hul ontmoeting.

      “Volgens my en kenners op die gebied, ís dit narsisme wanneer ’n ma haar kind bloot as ’n verlengstuk sien wat háár glorie moet reflekteer. Alles gaan oor háár.” Sy klink deksels seker van haar saak. “As jy, wat die direkteur van jou besigheid is, iemand uittrap oor sy of haar swak werk, doen jy dit voor jou ander werknemers of eenkant waar niemand kan hoor nie?”

      Maar die geitjie! Sy’t hom vinnig en behendig in ’n hoek gedruk.

Скачать книгу