Vyf-en-veertig skemeraandsange. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vyf-en-veertig skemeraandsange - Breyten Breytenbach страница 2
my vriende woon in dakwoonstelle en agterplase /
hulle het boekrakke en geraamde foto’s van rawe teen die mure
en dikwels muwwe verse in die laaie, dikwels
hang hulle vlae of baniere oor balkonne
by die vensters uit
maar hulle is moeg van utopiebedremmeling /
my vriende woon in Barcelona en Bamako
en Bombaai en Boedapest en Bloemfontein en Beijing
en Brackenfell
en in die aand luister hulle na ballades
van ontnugtering /
my vriende is toneelspelers en reisigers en hulle het sambrele
en toe hulle jonk was het hulle met passie
bemin en nou vee hulle hul monde
af wanneer hulle in ’n tempel die soom
van ’n heilige relikwie moet soen /
my vriende dra skoene en hulle dink
baie na oor die verskuilde bewegingsbetekenis
van berge / in die laatsomer
dryf hulle op die rug in die see en kyk
na die wolke wat verbykom / my vriende
drink koffie /
my vriende het verskrompelde poese en verrinneweerde piele
(dit maak hulle bedees by die liefdesdaad) /
hulle hou daarvan om goudvissies te voer
en te sien hoe die bekkies gulsig deur die oppervlak breek
om vryheid te sluk
en die maan uit te spoeg /
my vriende het rugpyn /
my vriende lees die verhale van Julio Cortázar /
my vriende lê onder grys stene in begraafplase in Beira
en Bandoeng en Bologna en Blantyre
en onder sand en klippers in Bandiagara / baie
van my vriende is lankal dood
en sommige se as is in roostuine
uitgestrooi en ander klop teen die kiste
se deksels en hulle hou nie van molle nie /
my vriende het kontak
met hulle kinders verloor /
my vriende word kwaad /
my vriende het spesiale en moeilike verhoudings
met die naghemel
veral wanneer die kleur daarvan karmosyn is /
my vriende van Brisbane en van Belgrado
en van Bagamojo en Bahia en Bitterfontein
skryf soms hulle gedagtes neer
en maak lyste van hulle vriende
wat ook weet net soos hulle nou weet
die wêreld is nie daar om verander te word nie /
4. die zar-partituur
(’n eggo)
toe die see ’n vloot wolke so vol soos ’n lied dagwaarts stoot –
statige sloepe tot aan die spuigate gelaai met wind –
land-in oor die as en bewing van ’n somer se vlamblomblare
wat verkool in kelke en kele
tussen die duine kolk
om getye met die bewe-ging van donker vokale te omsoom,
toe die jaar ontstrengel raak in rankende bloureën
en die spookvoëls se rou geroep ’n gerug is
om windskepe na die veilige bergingspieke te lei,
toe die vlae nog roulinte was om te treur oor die nag
wat met fladderende vlerke verstrik het in takelwerk
en toe die son ’n skitterende sabel swaai
oor ’n eiland se wegsyfer in die fabels van verlang
waar slapers onder apebroodbome
die droom met ’n hand op die hart groet
salaam aalikoem
(“welkom, welkom tuis”)
om haar te begelei na die binnehowe
van ou-ou begeertes se bergplekke
waar gode en godinne van vryheid
met lappe smous en roep-roep skinder oor voëls,
toe het die man sy masker afgehaal soos ’n gesig
en gesê: welkom, welkom tuis
my swaeltjiebruid,
aalikoem salaam,
ek droom jou so lank al deur die binnehowe van eeue
hoe jy tuimel en dartel om die wind in te kleur
en altyd weer tuis te kom oor as en bewe-sing
na die poort van terugkeer
vir die seremonie en die hierinnering van ons saamwees,
my dans is die dans van ons liefde
ek is die engelaar wat die sterre uitspel
in narratiewe van getye en seisoene
om jou veilig terug te lei
na passies van ons partituur in binnehowe,
ek kom van waar die naglyf
die littekens dra van verskroeide winde
en wonde soos vlerkstigmata gekeep deur ’n sabel,
ek kom deur die nag
van