Vyf-en-veertig skemeraandsange. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vyf-en-veertig skemeraandsange - Breyten Breytenbach страница 3
deur tuine van marmerkoninginne
en voëlverskrikkende woude
om vir jou te fluit wanneer die dag breek
en in jou oor te fluister
dat jy nooit weer bang hoef te wees in my hand nie,
dat die maan maar net ’n klep is
waar bloed deur moes spoel soos donker vokale
om die are van ons beweg-ing te bevrug –
elke nag, sal die man sê,
is jy die droom van my reise
wat pols deur leeftye se wending
terug na die poort van herkenning
welkom, welkom tuis
wasalaam aalikoem
kyk, die dag sal oopgaan in binneplase
waar die boomslapers hulle lappe uithang
om die terugkerende verhaling van bloureën en frangipani
op te vang
met ’n hand op die hart
en dat die maan ’n klip is
’n troukaart beskilder met die alfabet van engele
as onthoubrief vir jou
en droom-atlas om saam te dra geskryf op die vlerke
vir die terugkeer, altyd,
en om met donkerword
die hartklop van die windomswaggelde aarde
weer te hoor en beluister
as die see ’n bewing wolke landin stoot
27 Desember 2012
5. die hengel-komposisie-kompetisie
digters sit dig bymekaar in die nag
(gedig aan gedig gebokkom)
sodat die gesigte onsigbaar is
en lyne word laat sak in die donker
(soos uit die hand verloopte glimlagte)
elk met ’n eie geheime aas aan die hoek:
hier die soek-soek van ’n wurm daar
’n brokkie brood lankal op die water gewerp
of ’n vulsel maaiers gebry in deeg
(“gras is ons lewens en vertering knaag sag”)
’n bokblêrtjie, ’n verpulpte hart, ’n gulp, fetusblommetjies,
dooie vlieë, pruimsels, engelpluim, die dons
van drome, selfs die verfrommelde vuis
van ’n jeugmanifes of die swart skelet
van self of van ander se geleende vere of vers
tot aan die graat kaal gepeusel
(“die mossie is mos morsdood verlief op die aandgaal”)
en ’n reël of twee uit die engelaar
se handlyding geknoop
om soos verleidelike verlange te lyk
af en toe is daar ’n geknibbel in die diepte
word die waters geroer
span ’n snaar tot breekpunt maar
die gebroke ritme kom dryf
’n aartjie speeksel van die drenkeling
in die donker geletterde boek
(“genoeg niks om jou aan op te hang
sit nie in iedereen se broek nie”)
en meestal is die vangs ’n plastieksak
vol water of ’n skoen
sonder soen of sool
triomfantlik uit die niet gepluk
en voorgehou as synde die oorblyfsel
van die muse se onderbewuste dans
maar soms gebeur dit tog
dat ’n glinsterende lewendige vis
bloederig glad soos ’n tong vol insigte
uit die nikswees breek
om stom vrae uit die leegte gebaar
op die kaai te kom lê en gaap
daardie blink ontdekkersdrol ingekatrol
uit die onvoorspelbaarheid van waak
en die vrugwaters van die oopvouspieël
sal gespeld word aan die reisende
grafsteen van been
die wenner is die een eenparig
uitgeroep tot maagd:
en waar anders kom die maan
se vishoring vandaan?
6. hierdie brief as gedig vol vere
onder jou deur
broer B: ek weet jy skop teen die deur van die Anderkamer
dat ek oop moet kom maak vir jou
gesoebat na brood en wyn
jy kla van pyn op die krop
en ’n wind ou stemme wat so suis in jou kop –
dis die hart se onverteerbaarheid, my broer
wat so klop teen die deur
om binnegelaat te word
en die herinneringe van dié aan wie jy leed berokken het
(uit ledigheid op die duiwel se oorkussing soms)
en nou wil jy maak asof jy alles vergeet het?
weet