Annelize Morgan Omnibus 5. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 5 - Annelize Morgan страница 13
“Die kaptein gaan kwaad wees, señorita,” sê hy versigtig.
“Na die duiwel met jou kaptein! Dit was ’n onmenslike ding om te doen!”
Hy kyk geskok na haar.
“U moenie so van hom praat nie. Hy weet wat hy doen.”
Sy kyk woedend na Pedro.
“Ek moes hom liewer in die see laat versuip het!”
“Miskien moes u, señorita,” sê Da Silva agter haar, maar sy draai nie om nie.
“Niks wat ’n mens doen is erg genoeg om só gestraf te word nie,” sê sy terwyl sy die wonde met karbolsuur ontsmet. “En dan word hy nog hier gelaat om soos ’n hond te vrek!”
“En wat sou u aangeraai het moet ek met hom doen?” Sy stem is ysig. “Hy kon tien houe met die kats gekry het en hy sou nie beter gelyk het nie. Of ek kon sy hande laat afkap het, maar ons is beskaafde mense.”
Sy kom vinnig orent en kyk woedend na hom.
“Beskaafd! Noem jy dít beskaafd?”
Hy verstyf.
“Ek moet strawwe maatreëls op die skip toepas, señorita. Die meeste van hierdie mense is wetteloos en sonder enige morele standaarde. Hulle moet met ’n ysterhand regeer word, al wil mens dit nie aldag doen nie.”
“Bespeur ek ’n sweempie van spyt in u stem, monsieur?” wil sy sarkasties weet.
Die woede spring in sy oë en sy staan effens onseker terug.
“Dit kos ’n harde man om matrose in toom te hou, señorita, en ek is hard genoeg om niemand te ontsien nie. Jy sal aan die wette van hierdie skip gehoorsaam bly soos enige matroos. Jy het jou goeie daad vir die dag gedoen en ek beveel jou nou om onmiddellik hierdie ruim te verlaat!”
Sy kyk onseker na die matroos wat nog bewusteloos op die hoop seile lê en dan kyk sy terug na Da Silva.
“Hoe weet ek of julle hom nie net sommer so gaan laat lê nie?”
“Geen man wat op hierdie skip gekielhaal is, het al gesterf nie. Die skeepsdokter sal na hom omsien.”
Sy draai traag van hom af weg en hy volg haar na die trap. Da Silva sien toe dat sy tot by haar kajuit gaan.
“Moet my nie dwing om u bewegings tot die kajuit te beperk nie,” sê hy toe sy haar kajuitdeur oopmaak.
Sy kyk op na hom en kan die afkeur nie uit haar oë hou nie.
“Is jy altyd so koelbloedig, Da Silva, of is daar iewers in jou ook ’n greintjie menslikheid?”
Sy maak die deur agter haar toe sonder om op sy antwoord te wag en bly bewend daarteen staan. Die grusame toneel speel weer in haar gedagtes af en sy onthou Da Silva se koue, harde gesig. Dit stuur ’n rilling langs haar ruggraat af. Sy besef dat sy self nie teen die woede gevrywaar is nie. Op sy skip skeer hy almal oor dieselfde kam en as sy oortree, sal hy geen genade betoon nie. Sy sidder toe sy aan die matroos dink en aan die ander strawwe wat Da Silva genoem het. Sy sal nie een daarvan oorleef nie en sy weet dat hy nie sal skroom om haar op dieselfde manier te straf nie.
Nicole verlaat nie weer haar kajuit vir die res van die dag nie. Sy bly net sit en dink en wonder wat die res van die reis gaan oplewer.
Eers toe die son besig is om onder te gaan, gaan sy uit op die dek vir vars lug. Sy staan by die reling en kyk na die son wat stadig in die weste sak. Dis ’n weemoedige tyd van die dag en nie een om alleen te wees met jou gedagtes nie. Dit bring ’n heimwee in haar gemoed en ’n verlange om weer tussen haar eie mense te wees.
Iewers op die agterkasteel begin iemand op ’n kitaar tokkel. Dis hartseer, dralende klanke en dan begin die persoon ’n weemoedige minnelied sing.
Nicole staan roerloos en luister na die soet melodie en verwonder haar aan die suiwer tenoorstem van die sanger. Sy wil nie omdraai en die betowering breek nie. Sy wil net luister …
Sy kyk op toe sy voetstappe agter haar hoor. Da Silva kom met ’n lui slentergang in haar rigting gestap. Dan draai sy weer om en kyk fronsend weg oor die water. Hy sluit by haar aan.
“Ons gooi vanaand anker by Villa Cisneros.” Sy stem is kalm, asof daar niks was wat hom vandag ontstel het nie.
“Dis nog ver van die Kaap,” antwoord sy sonder om na hom te kyk.
“’n Mens vergeet maklik, señorita.”
Sy skud haar kop stadig.
“Nee … nie só maklik nie. ’n Mens vergeet miskien dit wat gebeur het, maar nie as ’n ander jou geskok het nie.”
Hy is lank stil. Dan sê hy: “Selfs dit kan ’n mens vergeet.”
Sy kyk ondersoekend na hom.
“Kom jy om verskoning vra?”
Hy skud sy kop.
“Nee, ek kom ook nie verduidelik nie, want jy sal dit nooit verstaan nie. ’n Skip is ’n klein wêreld vol individue en daarom is dit so moeilik om wet en orde te handhaaf.”
Sy antwoord nie, maar luister na die lied van die minnesanger. ’n Beweging op die voorkasteel trek haar aandag en dan sien sy Consuelo teen die reling staan. Sy kyk af na Da Silva en Nicole, maar op hierdie afstand is dit onmoontlik om die uitdrukking op haar gesig te peil.
Ramirez da Silva volg die rigting van haar blik en dan verstyf hy. Sonder om by haar verskoning te maak, loop hy na die voorkasteel en gaan met die trap op na Consuelo.
Nicole voel net ’n klein stekie jaloesie teenoor Consuelo. Die sigeunerin is van ’n ander wêreld as sy self. Consuelo is ook Spaans soos Ramirez, hulle praat dieselfde taal en het dieselfde wispelturige, vurige geaardhede. Sy is ’n buitestander, ’n afstammeling uit die Franse adel vir wie Ramirez so ’n groot minagting het. Dis een struikelblok wat sy nooit sal kan oorkom nie.
Sy glimlag effens. ’n Oomblik gelede nog het sy gesweer dat sy hom nooit sal vergewe vir wat vandag gebeur het nie, en nou staan sy alreeds weer en dink aan die kloof wat daar tussen hulle is en hoe onoorbrugbaar dit is.
Die minnesanger begin ’n nuwe lied. Die son raak aan die water en verf die golwe kwistig in goud. Die see is nou donker en het nie meer daardie groen, geheimsinnige glans nie.
Ramirez en die sigeunerin staan nog op die voorkasteel. Daar is ’n bloedrooi blom in haar hare wat soos ’n swart golf oor haar skouers hang. Hy leun teen die reling terwyl sy opgewonde praat. Dan staan hy skielik weer op en met ’n skouerophaling laat hy Consuelo alleen.
“Jy sal spyt wees!” skreeu sy agterna. “Jy is nie onsterflik nie!”
Hy klim kalm teen die trap af terwyl sy oor die reling hang.
“Jou dag sal kom, Ramirez da Silva! Sowaar as wat ek leef, jou dag sal kom!”
Uit die diep skaduwees van die agterkasteel kom die skrikwekkende