Die seewind se lied. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die seewind se lied - Elza Rademeyer страница 6
“Het jy ’n pomp in jou motor?”
“Ek … Natuurlik sal ek een hê. Jy kan mos sien my motor is nog splinternuut!”
“Selfs nuwe motors het nie altyd pompe nie. Kom roep my maar as jy vasdraai.”
Elmien kyk hom half verslae agterna toe hy sonder meer wegstap en sy huis binnegaan. Pleks sy tog maar die minste was en haar mond gehou het. Hoe pomp ’n mens ’n motor se bande op? Om die waarheid te sê, sy weet nie eens of haar motor ’n noodwiel het nie. Hy moet seker een hê, maar sy het dit nog nooit met ’n oog gesien nie.
Toe sy klaar tee gedrink het, begeef sy haar dadelik na haar motor. Sy kry nie die noodwiel nie, ook nie iets wat soos ’n pomp lyk nie. Tant Mienie kom ook later help soek.
“Het jy al die klap agter in jou kattebak opgelig? Party motors se noodwiele word mos daar gebêre. Ander motors s’n sit weer onder die motor se agterstel.”
Wynand glimlag sinies toe hy op pad kerk toe sien hoe Elmien ietwat onvroulik buk om onder haar motor in te loer. Laat sy sukkel! Sy wil haar mos hardekwas hou.
Elmien kry uiteindelik die noodwiel opgespoor, maar besef dat een wiel haar nie gaan help nie. Tog, as sy nou die een wiel omgeruil kan kry, sal die garage môreoggend gouer klaar wees met die ander een.
Nie in haar stoutste drome het sy egter kon raai dit is so ’n groot werk om ’n wiel om te ruil nie. Sy raak so warm van die gesukkel dat sy kort-kort eers weer die huis moet invlug om ’n bietjie te gaan afkoel. Toe sy, ná langer as ’n uur se gespook, uiteindelik klaar is met die omruil van die wiel, is sy papnat van die sweet en haar gesig vol swart strepe. En toe, wat sal sy sien! Sommer hier, ’n paar treë van haar af, sit Wynand met uitgestrekte bene heerlik in die skaduwee van ’n koelteboom aan ’n glas skuimende bier en teug, sy blik geamuseerd op haar gerig!
Haar gesonde verstand sê vir haar sy moet hom ignoreer, maar haar humeur wil nie saamspeel nie. Toe sy haar kom kry, staan sy reg voor hom en borrel die woorde sommer net by haar mond uit: “Dis nou tipies van deesdae se mans! Om hulle te sit en vergaap aan ’n meisie wat manswerk doen sonder om hulp aan te bied. Nee, dis mos baie lekkerder om in die koelte te sit en bier te drink as om jou ordentlikheid te betoon en iemand in nood te help! Ek hoop van harte die dorings steek sommer môre al vier jou motor se bande ook vol gate!”
Wynand neem eers rustig ’n slukkie bier. Dan staan hy op en beduie na sy stoel. “Sit ’n rukkie. Jy lyk moeg. Kan ek vir jou ook ’n bier bring?”
Sy kyk hom begogel aan. “Ek wil g’n sit nie! Ek wil net vir jou vertel wat ek van jou dink!”
Hy neem weer op die stoel plaas. “O, is jy nog nie klaar nie? Nou, gaan maar voort?”
Sy besef hy is besig om met haar die gek te skeer, en dit maak haar net nog kwater. “Jy is nes al die mans wat ek ken. Dink mos net aan jou eie gerief. En wanneer julle boonop met ’n glas drank in die hand sit, kan die wêreld om julle vergaan sonder dat julle ’n vinger sal lig om dit te verhoed!”
“Nou reken, nè. En jý is blykbaar tipies vrou. Van die neulerige soort wat floreer daarop om te kyf soos die gedrup van ’n lekkende kraan. Koel af en kom drink ’n bier saam met my. Jy sal tog nie voor môre jou motor padwaardig kry nie. Sit solank op my stoel. Ek sal vir my ’n ander een gaan haal. Van watter soort bier hou jy?”
“Ek wil g’n bier het nie. Ek is nie ’n dronklap nie.”
Hy trek sy skouers op. “Wat van koeldrank?”
“Ek wil ook nie koeldrank hê nie. Ek wil my motor reg hê sodat ek kan ry!”
“Dít sal jy nie vandag regkry nie. Jy sal jou maar moet skik na omstandighede en wag tot die garage môreoggend oopmaak. Gaan was jou gesig en kom sit hier buite in die koelte. Ek sal solank vir jou iets koels gaan haal om te drink.” Hy voeg die daad by die woord sonder om op haar reaksie te wag.
Sy staar hom vies agterna totdat dit haar byval wat hy van haar gesig gesê het. Toe sy in die badkamerspieël kyk, besef sy waarom hy gesê het sy moet haar gesig gaan was. Om van die hitte ontslae te raak, stort sy sommer. En toe sy uit die badkamer kom, oorhandig tant Mienie ’n tang aan haar.
“Wil jy tog nie Wynand se tang vir hom gaan teruggee nie? Netnou soek hy daarna.”
Sy loop teësinnig met die tang na buite en tref hom weer onder die boom aan.
“Ditsem, nou lyk jy spanne beter,” begroet hy haar en wys na ’n glas gemmerbier op die tafel. “Drink. Dit sal help om jou af te koel, van binne én van buite.”
Tot haar konsternasie voel sy hoe haar oë skielik begin brand van … nugter weet wat! Dit sal die kroon span as sy nou in trane moet uitbars! Sy sluk hard. “Dis hierdie ou simpel dorp van julle. Ek moes verby gehou het Kaap toe, dan het ek nie in so ’n gemors beland nie.”
“Daar is net een van twee dinge wat jy kan doen. Jy kan jou skik na omstandighede en die beste daarvan maak. Of jy kan bly kyf en net jou eie lewe en almal s’n om jou versuur. Ek stel voor jy doen eersgenoemde.”
Sy kyk vinnig weg toe sy voel sy bloos. “Ek is jammer ek het my humeur so verloor, maar die verdekselse motor … Dis die eerste keer dat hy my só in die steek laat!”
“Ag, dit kan met enige motor gebeur,” sê hy ná ’n kort stiltetjie. “Eintlik is jy gelukkig dit het hier in ’n dorp gebeur en nie op die grootpad Kaap toe nie. Ek sal jou môreoggend help. Intussen kan jy gerus ontspan en jou vakansie geniet. Ons kan netnou weer gaan swem as jy lus is. Of nog beter, ek kan ons simpel ou dorpie vir jou gaan wys.”
“Ek hét verskoning gevra oor ek … wel, so vies was dat ek allerhande dinge gesê het!”
Hy lag, en dit vang haar weer onverhoeds soos daar by die see, want dit doen iets aan hom as hy lag. Dit laat hom onweerstaanbaar aantreklik lyk. Sy kyk vinnig anderpad. ’n Aantreklike man is ’n gevaarlike ding. Hulle mors met meisies se gevoelens, en hulle wil alewig hul wil aan jou opdwing.
Hy leun skielik oor na haar en klink sy glas teen hare. “Gesondheid. Ons drink op joune en foeter myne op.”
Sy glimlag, weliswaar teen haar sin, maar darem. Die woord “gesondheid” maak dat sy onthou van tant Mienie se siekte en haar glimlag verdwyn. “Is dit waar dat tant Mienie kanker het?”
Hy kyk ondersoekend na haar gesig voordat hy sy kop knik. “Ja.”
“Sy sê die dokter het gesê sy gaan nie meer lank leef nie?”
“Geen dokter kan vir seker sê hoe lank ’n mens gaan leef nie.”
“Maar hulle kan tog by benadering sê?”
Hy kyk Elmien ineens stip in die oë. “Wil jy graag jou stiefouma dood hê?”
“Moenie laf wees nie! Ek ken haar skaars, hoekom sal ek haar wil dood hê?”
“Dalk om haar erfporsie in te palm.”
“Jy’s siek in jou brein. Ek het jou gesê jy kan maar haar erfporsie kry. Ek het genoeg geld van my eie.”
“Wat jy waar kry?”