Die engel rook skelm. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots страница 2
Die vrek weet, ek pas nêrens in nie. Te oud vir die studente en te jonk en dom vir die dosente. Soms vang ek ’n dosent se oë op my, maar dan is dit gewoonlik my outfits wat hulle probeer uitfigure of omdat daar iets tussen my tande vassit. As ek die body language reg vertolk.
Ek weet ek moet oorgee en eerder heeltemal eksentriek raak as ek nie bejammer wil word nie. Ek moet my sigarette in die vullisdrom gooi en ’n regte oupa-pyp begin rook. Of sigare. Daar’s baie vroue wat dit deesdae doen, wat heeltemal buite die boks rook. Ek moet nie meer my beenhare skeer nie, my hare nooit was of kam nie, skoolskoene dra en vormlose rokke, so vyf, ses daarvan in dieselfde styl en van dieselfde materiaal laat maak. Maar ek stel dit uit vir wanneer ek een van die dae dertig word. Dan is alles anyway verlore en my lewe verby. Dan gaan ek ’n bonfire maak, die dodemars oor ’n luidspreker speel en my laaste sprankie hoop saam met al my gorgeous outfits in die maanlig verbrand. Daar sal ’n hele ritueel wees, want ’n mens moet behoorlik van jou jeug – en jou hoop – afskeid neem. Sodat jy closure kan kry en kan weet: wat verby is, is verby.
Let’s face it – life’s a bitch, finish en klaar. And then you die. Maar dis nie wat ek vanoggend wil glo nie, want dan draai ek net hier om en gaan kruip onder my bed weg totdat hulle my daar moet uitsleep om my te begrawe. Nee! Vandag gaan ’n flippen amazing dag wees. Daar is ’n lekker vibe in die lug, selfs onder die pipsqueaks wat gillend op mekaar afstorm asof hulle bloedfamilie is wat mekaar die hele wintervakansie nie gesien het nie. Joined at the hip, die hele ou spul. Ses maande, dis al wat oorbly, ses maande voordat ek uit hierdie sirkus kan ontsnap. En wat doen? Die goeie gode weet alleen. Net nie weer snotneuskinders oppas of ou tannies se lappoplywe met nat waslappies afvee soos in Londen nie. My dienende Marta-dae is hopelik verby, dis tyd dat ek ’n loopbaan volg en ’n sukses van my lewe maak, soos Ma dit stel.
Ja, sure, the sky is the limit as jy in die voetspore volg van iemand soos my ma. Maar ek kan op my tone staan en reik na die sterre tot frieken varke begin vlieg, ek sal nooit kom waar sy my wil hê nie.
Ag! As ek net ’n man kan losslaan wat wil hê ek moet vir hom kinders by dosyne baar! Dan strek die toekoms rooskleurig voor my uit. Suburbia, boekklubs en snoepiediens by die skool. Dis oukei, ek sal hotdogs maak dat die tamatiesous spat, ’n mens hoef nie ’n kursus daarvoor te loop nie.
Dit behoort nie so moeilik te wees nie. Ek is so blond soos ’n beauty queen. Dis die blond, dis die boobs, dis die bene, dis al wat nodig behoort te wees om ’n beroering onder die melkbaardjies te bring. Foei toggie! Mamma se seuntjies sien nie aldag ’n vrou met ’n behoorlike boesem nie. Die ou meisietjies om hulle is nog in die stadium waar anoreksie hul enigste strewe in die lewe is en het nietige gholfballetjies wat rondbons onder hul T-hemde.
Net na elf stap ek by die lesingsaal in vir my dramaklas. Nie my favourite vak nie, nie vandat ek my naam so gat gemaak het nie. “Emosie, dames en here, alles gaan oor emosie,” het professor Brink ons geleer. “As jy nie emosie kan wys nie, is jy nie op die regte plek nie.”
Ja, great. Toe vra hy my om ’n stuk uit Donita Studdard se nuutste drama oor moeders en dogters vir die klas voor te lees en … ag hel, toe gaan ek aan die tjank. Net daar. In die lesingsaal, omring met studente wat uit graniet gekap is. Aan die begin het almal nog gedink ek act befok, dat ek bleddie goed is. Maar toe ek so bewoë raak dat ek nie verder kon lees nie, het die penny gedrop.
Wacko! Dís wat ek is – weird en wacko.
Daardie dag al kon ek netsowel BA Mansoek opgeskop het. Studente het die geheues van olifante, veral wanneer jy ’n supergek van jouself maak. Jy word nooit weer in die kring van die spotters toegelaat nie.
“Selfbeheersing, dames en here, is die kern van ’n goeie akteur,” het professor Brink verduidelik. “Voordat jy op die verhoog gaan, moet jy alle menslike swakhede in die kleedkamer los. Dan behoort jy aan jou gehoor, dan het jy ’n verantwoordelikheid teenoor hulle, die mense wat betaal het om na jou te kom kyk en luister.”
Al wat asemhaal in die lesingsaal het verwytend na my gedraai asof ek twee koppe het en al twee die koppe skandes gemaak het. Hulle sou my sweerlik op ’n brandstapel wou smyt as daar nie deesdae so ’n bohaai oor menseregte was nie.
“Jy is daar om vir hulle ’n storie te vertel,” het die prof sy longe uitgepreek. “Nie jóú storie nie, maar die een in die teks. En jy moet dit oortuigend doen, jy sleep nie jou eie vooroordele of sieninge of persoonlike gevoelens saam met jou wanneer die kollig op jou is nie. Jy is nie meer Jan of Sannie Fourie wat daardie oggend spek en eiers in jou ma se huis geëet het nie, jy is nou Othello of Faan van Faan se trein, of wie jy ook al op die verhoog probeer uitbeeld.”
Sy oë het op my gebrand. Persona non grata!
“Daarom mag jy nie jou woorde vergeet nie, nie struikel nie, nie stamel of stotter nie, nie uit jou beurt hoes of poep of nies nie. En jy mag nooit deur lag of huil oorweldig word nie.”
Ek weet nie wat ek nog in hierdie klas soek nie. Maar dit is nou eenmaal deel van my kursus, so ek moet oë toeknyp en deurdruk. Eintlik behoort ek tussen die agterbankers te gaan sit, die rokers, die trailer trash van die lesingsaal.
Want ek het mos hierdie moerse doodsonde wat ek pleeg wat van my nog meer van ’n social outcast maak tussen die groenes, die gesondheidsbesimpeldes, die slimmes en die hoë bome. Ek rook! Daar, ek het dit gesê. Sue me! Sue me, maar moenie vir my preek nie.
Ek het dit alles al gehoor, thank you very much. Ek weet hoe dom dit is om te rook, ek weet ’n mens gaan dood daarvan én kry plooie. Ek weet jy ruik soos ’n low-class bordeel en jy soen soos ’n asbak. Ek weet jou longe is opgekoffie en almal haat jou omdat hulle jou rook tweedehands inasem. Ek kan vir jou vertel waarom dit stupid is om te rook, ek kan ’n boek daaroor skryf. Al wat ek nie kan doen nie, is om op te hou daarmee. Want sowaar, was dit nie vir ’n sigaretjie tussen my vingers wanneer dinge te mal gaan nie, sou ek sowaar nie met die lewe kon cope nie.
Alles die bleddie Engelsman se skuld.
“Oh honestly, you’re such a child!” het die bliksem my verwyt. Hy met sy bleek boudjies en sy Britse sproete oor sy krommerige neus soos die buite-egtelike kind van ’n aristokraat. A child! Verbeel jou! Wie wil nou as ’n kind bestempel word? ’n Dief, ’n leuenaar, selfs ’n reeksmoordenaar is oukei, maar nie ’n kind nie!
“Oh, come on, Dezi! I’m not offering you weed to smoke, it’s just a little old cigarette, quite innocent, you know,” het hy voortgegaan om my soos ’n jammerlappie te laat voel en die pakkie vir my uitgehou.
Wat anders kon ek doen? Natuurlik vat ek toe een van sy gifpyltjies en wag dat hy die ding vir my aansteek.
My hele skoolloopbaan nie gerook nie. Mooi soet gewees, my ma se kind. Nooit laat vir skool nie, huiswerk mooi netjies gedoen – dit nie altyd reggekry nie, maar darem mooi netjies geskryf, strepe met ’n liniaal getrek en als. Op aandag gestaan wanneer ons die skoollied sing; môre, Meneer; middag, Meneer; dankie, Meneer; nie moeilikheid gemaak nie.
Rook? Gevaar staan om uitgevang te word? My ma wat gebel sou word? Sy wat my daaroor sou corner? Jy moet jou kop laat lees as jy dink ek sou so simpel wees. Ek het nie ’n death wish nie, ook nie toe een gehad nie. Toe nog gedink die lewe gaan wel die een of ander tyd vir my begin glimlag as ek lank genoeg wag.
Maar toe ek daardie dag teenoor die bleddie Engelsman sit, het ek mos nie meer