Die engel rook skelm. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots страница 5
My ma het sommer maklik moerig geraak wanneer sy oor my pa se leesgewoontes praat. “Hoe kan jy jou tyd so mors? Skaam jy jou nie?” Sy sou een van Pa se boekies met haar vingerpunte optel asof dit ’n vuil sokkie of dooie muis of ander grillerige ding is. “Kyk hier, kýk net hier. Lees die titel: Kill Them All and Come Back Alive. Waar het jy nou al ooit van sulke sinneloosheid gehoor? Dit het geen letterkundige waarde nie, dis pulp, dis wat dit is, suiwer pulp!”
Natuurlik het my pa nooit ’n teenargument gereed nie. En wie kan hom kwalik neem? My ma se werkstukke is so goed beredeneer dat dit gereeld later in lesings gebruik word.
Later het my pa tou opgegooi, het hy nie meer uitgesien na die kort tye tussen my ma se studies nie. Nie die moeite werd nie, elke keer ’n struweling. Nou los hy haar uit, en sy vir hom. Hy lees sy cowboy-boekies en sy haar akademiese handboeke en iewers tussen die twee dwaal ek rond, op soek na myself. Ek begin dink as ek myself nou nog nie gevind het nie, gaan dit nie meer gebeur nie. Ek gaan altyd Gertruida Diedericks se dogter wees, nooit Dezi Diedericks nie.
Ja, ek kan myself nogal oorgee aan ’n pity party as ek die dag in die bui daarvoor is. As Plain Jane my nou moet hoor kerm, sal sy baie te sê hê oor hoe ondankbaar ek is. Ek hét ’n ma, ek het niks om oor te kla nie. Die wêreld oor is daar kinders wat nie dieselfde voorreg het nie.
“Hou op om vir my te preek, Jane,” probeer ek haar soms stil kry. “Jy is nie my ma nie.” Maar dit lyk nie asof sy al die boodskap gekry het nie.
My ma se nuutste endeavour verlam my so dat ek net tot die einde van die week nog in die dramaklas bly sit. Vir oulaas luister ek na die dosent, hoor ek wat nodig is om ’n goeie akteur te wees. Ek weet ek sal alles moet uithaal wat ek in hierdie twee en ’n half jaar oor toneelspel geleer het wanneer ek vir my pa en ma verduidelik waarom ek nie langer op universiteit wil bly nie. Dit gaan oor meer as net my ma wat op my terrein haar talente kom vertoon het. Dit gaan ook daaroor dat ek no ways hier ’n man gaan kry, veral noudat sy hier is.
Ek sweet en ek stamel en stotter en voel soos ’n kind toe ek uiteindelik die moed het om dit met hulle te bespreek. Van ’n goeie vertoning kom daar niks. Ek swaai arms en sluk my trane en verduidelik dat dit bars. En kyk in my ma se oë en sien die verskriklike teleurstelling omdat haar dogter weer probeer en misluk het.
So bring ek toe in my laaste jaar op varsity weer eens skande oor my gesin. Ek skop op! Sommerso! Wie doen so iets? Nie ’n kind van Gertruida Jakoba Diedericks nie …
Nice move, Dezi the Desperate! Nice frieken move.
2
In die dae en die weke … ag jimmeltjie tog, in die drie maande daarna leer ek, Dezi Diedericks die Domme, nog iets wat nie ingesluit is in die leerplan vir BA Mansoek Onvoltooid nie: Daar is sekere dinge wat vergewe kan word en dan is daar die ander. As ’n mens net voor die eindstreep jou studie opskop, kyk mense jou vreemd aan. Veral as jy werk soek.
Waddehel is fout met jou? vra daardie gesigte. Hoeveel van jou varkies is nog op hok? En veral: Waddedinges laat jou dink ons sal iemand soos jy aanstel om amok te kom maak in ons firma? Dis moeilik genoeg om met geestesgesonde mense te werk en dié wat iets so simpel aanvang, kan nie lekker in die kop wees nie. Sluk sekerlik Prozac asof dit Smarties is. Hou verby.
So hier en daar kry ek ’n tydelike werkie. Ek staan in een van my besonderse gewade gewapen met ’n bottel parfuum in ’n shopping centre se gang en wag, gereed vir die aanval. As ek gelukkig is, bespuit ek niksvermoedende mense wat verbyloop voordat hulle kan keer. Dan vra ek vriendelik dog dringend of hulle nie asseblief ’n plaas se prys vir die parfuum wil betaal sodat hulle vir die res van hul lewens na … wel, sleg kan ruik nie.
“Die goed ruik na hondedinges,” verseker ’n voortvarende vrou my. Ek verskil van haar, dis eerder kattedinges. Maar ek bly stil, want ek is ’n promotor, nie ’n reukontleder nie.
Niemand bedank my vir die gratis skeut reukwater nie, gluur my eerder aan. Ek hoor vloekwoorde wat ek nie geweet het in enige taal bestaan nie en ’n ou tannie wat blykbaar aan hooikoors én ’n slegte humeur ly, kom my met haar handsak by. Maar ek – en my outfits – oorleef darem.
Vir ’n hele twee weke, totdat ek ook nie meer die reuk kan verdra nie en die aftog blaas. Ek loop ’n kursus in wynproe en een in grimering. Ek leer hoe om mond-tot-mond te doen as dit nou die dag regtig nodig is en hoe om ’n wond te verbind sodat die bloeier dit maak totdat ’n professionele persoon opdaag. Maar as dit regtig sou gebeur, sou die professionele persoon eers aan my aandag moes gee daar waar ek in ’n floute op die vloer lê.
Maar whatever – ek is nog nie paraat of geskik vir die arbeidsmark nie. Niemand, maar niemand stel blykbaar belang in wat ek het om te bied nie.
“Dis omdat jy jou tyd mors met Mickey Mouse-kursussies,” kritiseer my ma. Sy is natuurlik reg. Ek kon gedink het die regte manier om lip liner en eye shadow aan te wend, sal haar net so min beïndruk as my kennis van noodhulp. Ek is self nie besonder beïndruk daarmee nie.
“Dis omdat jy so ’n extreme bottle blonde is dat jy nie werk kry nie,” is Jane se nie-so-oorwoë mening.
“Ekskuus my! Ek is nie ’n bottle blonde nie, Jane. Net gedeeltelik. Die ekstra kleur wat bygekom het, is net om my blondheid te enhance. Dis hoe Wynne dit stel,” keer ek.
“Dis nou seker jou hairdresser wat so met jou mooi koppie smokkel.”
“Een van die beste en die duurste wat daar is. Selfs my ma laat hom toe om sy hande in haar hare te steek elke keer wat sy in die limelight is. As daar nou iemand is wat weet wat hy doen, is dit Wynne.”
“It all depends. As jy ’n lady of the night wil wees, dan is jy op die regte pad. Maar nie as jy jou geld met jou klere aan wil verdien nie. Dan moet daar niks op jou kop of aan jou ge-enhance word nie. Veral nie jou hare nie. Blondes are so passé.”
Ek sluk ’n slag. “Hoe sal jy nou weet wat passé is en wat nie?”
“Ek weet meer as wat jy sou raai, madam. Ek is miskien oud, maar ek is nog lank nie dood nie.”
“Hoe oud ís jy, Jane?”
Dis nie die eerste keer dat ek vra nie en ek weet goed wat die antwoord gaan wees.
“None of your beeswax.”
Partykeer dink ek Jane se gesig is ouer as haar lyf. Daar is ’n hele leeftyd se stories in daardie plooie geskryf. Maar dis seker ook none of my beeswax.
“Jy wat jou dae in jou Stellenbosch-huis om sit en net elke af en toe by die hekke uit beweeg in daardie slap kar van jou? Wil jy vir my kom vertel wat is in en wat is uit? Jy is amper al ’n uitgestorwe spesie, jy en daardie swart motor met die stertvere.”
Ek is sommer vies, want daar is dinge in Jane se lewe waarvan ek niks weet nie en dit maak my mal van nuuskierigheid.
Dit lyk nie asof Jane haar vir my vererg nie. “Blondes are a dime a dozen,” verduidelik sy ewe geduldig. “So volop soos vlieë in die somer.”
Oukei, nou het ek alles gehoor – nou word ek al met ’n vlieg vergelyk. Wat probeer Jane doen? My met ’n skok aarde toe bring? Wel, sy slaag daarin. Ek voel omtrent soos een van daardie volop vlieë wat met ’n goeie skoot Doom bygekom is.
“Al