Die engel rook skelm. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots страница 7
Dis nou oor en verby, ook my studentelewe wat tot niks gelei het nie. Ek wil ’n makeover hê, asseblief, ek wil heeltemal anders lyk. Ek kan natuurlik alles oorboord gooi en met ’n passie begin eet. Alles wat voorkom. Oliebolle en dik stukke sjokolade. Hompe ham en vetterige vleis, groot snye koek met genoeg versiersuiker om van naar te raak. Kondensmelk net so uit die blikkie drink, liters en liters daarvan. Room, roomys, alles wat verbode is.
Sodat ek ’n spekvet blondine kan word, met klein ogies wat heeltemal in my poffergesig verdwyn. Dubbele, nee, trippele kenne en boarms soos dié van ’n stoeier. Drillende, trillende bobene en boude wat op geen man se skoot sal pas nie. Ek sal na asem hyg en sweet soos ’n perd en stoele stukkend sit en almal sal verskrik na my kyk en padgee as hulle my sien aankom en niemand sal aan my dink as ’n boring blonde nie. Maar ai, ek huiwer tog … Ydelheid is ’n gedugte vyand wanneer ’n mens ’n metamorfose so nodig het soos ek.
Eerder by my hare begin. Dis makliker, maar nie minder radikaal nie, nie as ek my sin kan kry nie.
Ek maak nie ’n afspraak nie en ek sê vir niemand wat ek beplan nie. Ek storm net op die haarsalon af, stamp die deur oop soos ’n cowboy wat ’n kroeg uitmekaar wil skiet. Sien nie vir Wynne nie, maar weet waar om hom te kry. Stap by die agterdeur uit. Sien hom daar in die binneplaas in die sonnetjie sit en rook.
Ek groet nie, hy ook nie. Sonder om te praat, vat ek die sigaret uit sy vingers om daaraan te teug.
Hy kla nie en hy vra nie. Rokers weet wanneer om stil te bly, weet wanneer ’n bloedbroer of -suster ’n sigaret so nodig het dat daar nie aan protokol, formaliteite of etiket aandag gegee word nie.
Ek gee nie sy sigaret vir hom terug nie, rook dit klaar. Druk dit teen die muur dood en vermorsel die stompie onder my voet. Jig! Sies, my magtig! Hierdie rokery van ons is eintlik ’n gemors. Sit hier soos melaatses tussen die vullisdromme, want dis al plek waar ons nie geteer en geveer sal raak nie. Iets vrot iewers, want die stank hang in die lug en die geskarrel wat ek in die oorkantse hoek hoor, kan net rotte wees. Dis mos bisar vir Wynne met sy fyn gees en handige hande om hier op ’n melkkrat te sit en rook en vir my om by hom aan te sluit. Nee, o hel, dit moet sowaar endkry.
“Wynne, jy moet ophou rook.”
“Jy ook.”
“Ek weet.”
“Ek hoes soos ’n aamborstige hond in die maanlig.”
“En my mond voel in die oggend soos die vloer van ’n budgiehok.”
“Dalk is dit hoekom daardie Engelsman jou gelos het.”
“Vir die een of ander nuwe Suid-Afrikaanse meisietjie wat ook haar heil in Engeland gaan soek het, ja. Een wat net so naïef is as wat ek was toe ek, skaars uit die skool, daar geland het.”
“Met ’n varser asem.”
“Bleddie cheek, as jy in gedagte hou dis hý wat my leer rook het.”
“Die bliksem.”
“Ek is behoorlik gatvol daarvoor om skelm sigarette te koop en skelm sigarette te rook,” kerm ek nog. “Die goed is my baas, jaag my soms uit my warm bed om by die agterdeur uit te sluip en te hoop niemand hoor my nie.”
“Ek stem. Dis belaglik!”
As ek ophou rook, sal ek vet word. Vet en interessant. Mense sal anders oor my praat. Na my verwys as die vet blondine. Dis wragtig soveel beter as die boring blondine wat lyk soos miljoene ander met mooi lywe en rooi lippies en fladderende ooglede oor slaappopmooie albasterblou ogies.
“Ons móét ophou rook!” besluit ek met nuwe ywer.
“Ja. Maar net nie vandag nie.”
Dis nie die eerste keer dat ons hieroor praat nie. Ek kan maar net sug, die stryd verlore voordat dit begin is.
“Wat nou weer, girl? Wat het jou nou weer in so ’n flat spin dat jy selfs wil ophou rook?”
“Alles aan my ruik na frieken rook, selfs my hare.” Ek onthou skielik waarom ek eintlik hier is. Ek kry Wynne aan die hand beet, trek hom van die melkkrat af op. “Kom. Jy moet my hare sny. Vandag nog. Nou.”
“Jammer, sweetie-pie, ek is volgeboek tot môre toe.”
“Ek gee nie ’n hel om nie. Ek is jou buddy én een van jou regulars, jy kan ’n uitsondering vir my maak. Dit kan nie wag nie. As ek daaroor gaan dink, gaan ek van plan verander en ek wil nie.”
“What gives? Is dit ’n special occasion? ’n Date? Is daar ’n man in jou lewe?”
Wynne kyk na my asof dit die agtste wonder van die wêreld sal wees as so iets kon gebeur.
“Nie ’n date nie, nie ’n flippen man nie, ’n nuwe lewe.”
“Today is the first day of the rest of my life en al daai jazz?”
“So iets, ja.”
“Wel, lovey, the rest of your life sal maar net moet wag tot môre.”
“Nee. Jy sny my hare of ek sit my ma op jou.”
Vir my ma is Wynne so bang soos die duiwel vir ’n reënbui.
“Bite your tongue, Dezi. Ek soek nie die dragon lady naby my nie.”
“Dis ’n onding hierdie dat ek en my ma dieselfde haarkapper het.”
“Nog van die dae toe die salon aan Susan behoort het. Toe het jou ma jou al saamgesleep om jou kuif te sny.”
“’n Mens sou verwag sy sou die hasepad kies toe jy oorvat. My ma dink jy is ’n vreemde vent met vreemde gewoontes wat sy nog nie in haar baie boeke teëgekom het nie.”
“Maybe so, maar sy ken talent as sy dit sien.”
Teen dié tyd stoot ek Wynne voor my uit. Ek moenie toelaat dat hy my ontspoor nie. Die oomblik toe ons by die salon se agterdeur in is, sak ek neer in die eerste die beste oop stoel voor die spieël.
“Sny, Wynne, sny. Stomp af.”
Wynne word sienderoë bleek. “Wat bedoel jy met ‘stomp af’?”
“Soos in stomp, teen my kopvel.”
“Is jy mal, girl?”
“Nee, net desperaat.”
Wynne laat sak sy kop oor myne. “Het jy luise?” vra hy gedemp. “Not to worry, daar is goed wat mens kan gebruik. Ek sal jou help daarmee, net nie hier in die salon nie. My ander clients sal my sue.”
Ek kyk op, sien in die spieël hoe Wynne se clients links en regs van my na my kyk – óf hulle het gehoor wat hy sê óf hulle maak hul eie afleidings.
“Ek het laas op skool kopluise gehad, Wynne,” verseker ek hom, hard genoeg vir die res van die salon om te hoor.
“Shut up!” fluister-skree hy tussen