Die engel rook skelm. Kristel Loots
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots страница 6
“Julle daag almal op vir ’n interview, one the same as the other. Nice toots, nice boobs, stemmetjies soos Krismisklokkies. Irriterend. Die high profiles kyk na julle en hulle dink hulle sien double. A dime a dozen. Jy sal moet special wees as jy wil uitstaan, Dezibelle. Otherwise gaan niemand jou raaksien vir wie jy in werklikheid is nie.”
Dezibelle. Jane noem my net so wanneer sy my ’n lekseltjie heuning om die mond wil smeer. Want, so sê sy, ekke, dis nou Dezibelle Diedericks, behoort my lewe lank the belle of the ball te wees. Wys jou wat sy weet. Hier sê sy dit dan nou self – dat ek een van baie boring blondines in ’n bondel is.
Dis eintlik the story of my life, dat ek met my bene en my boobs en al so maklik onsigbaar kan raak. Dis ’n moerse probleem, want sowaar, veel langer kan ek nie in my pa en ma se oë kyk nie.
Ek weet dis ’n kenmerk van ons, die sogenaamde Y-generasie. Dis mos ons wat terug boemerang wanneer ons arme pa’s en ma’s gedink het hulle is at last van ons ontslae. Trek sak en pak weer by hulle in, stroop hul koskaste en neuk hul lewens van voor af op. Ek dink as my ma geweet het ek is op pad terug huis toe, het sy die welkom-matjie voor die deur betyds onderstebo gedraai.
Soms wonder ek hoe verduidelik Ma my teenwoordigheid aan haar slim kennisse wat van tyd tot tyd hier inval. Sou sy hulle vertel van Handsome Harold wat my ’n gat in my dom kop gepraat het?
Kan julle dit glo? Dat die kind so onnosel kon wees. Eers gee die Brit voor om vir haar om te gee en al wat die arme naïewe Dezi sien, is ewige liefde en trou. Vertel vir haar ’n storie oor hul toekoms saam, vertel van die besigheid wat hy wil begin. Gaan glo groot geld maak, die toekoms wink vir hulle tweetjies. Maar hy’t toe mos hierdie probleempie wat hom pootjie in sy plannetjies, julle weet? ’n Kontantvloei-probleem.
Maklik genoeg om op te los. Met die arme Dezi se spaargeldjies, natuurlik. Sy’t mos haar jis afgewerk daar in Londen, elke pennie wat sy oorgehad het in ’n neseiertjie weggesit, drome van haar eie gehad. Wou iets kon wys vir die jare wat sy in Engeland was. Elke keer wat haar kontrak verstryk, wou sy terugkom. Het gedink Mister High and Mighty Harold the Handsome sal agter haar aankom.
En elke keer hernu hy maar net weer haar werkspermit. Maklik vir hom, werk mos by die agentskap wat haar in die eerste plek Londen toe laat kom het. En sy is maar net te dankbaar. Dink dis omdat hy haar so graag daar wil hou. Omdat hy haar liefhet, sien. Ja, dis reg. Liefhet, nogal. Soos in ’n liefdesverhaal. Sy is gretig om hom te help met sy probleempie. Net ’n tydelike probleempie, verseker hy haar. Natuurlik, ja. Hy betaal haar binne die eerste paar maande terug. Sê hy. Met rente. ’n Vreeslike klomp rente. Sy sal vir haar meubels en gordyne kan koop net van die rente wat hy haar gaan betaal. Sê hy.
Vir hulle nuwe blyplekkie, jy weet. Ja, ja. Hulle sou glo saam intrek, die twee tortelduifies. Daar was selfs sprake van trou. Nou wel nie nou al nie, maar iewers in die verre toekoms voordat perde horings kry. En sy val daarvoor. Die arme, onnosele kind val daarvoor. Hook, line and sinker. Sy glo hom, sy droom drome en sien gesigte.
Van hoe sy vir ewig en altyd die grys strate van Londen bewandel. En later begin dit vir haar na die goue strate van die hemel te lyk. Want sy en His Holiness Harold the Handsome gaan saam ’n lewe begin. Met ’n paar Engelse kindertjies op die koop toe, regte snotneus- Britse bloedjies wat altyd verkoue het van die nat winters.
Sy vra nie raad by haar ouers nie, nie eens by haar ma wat alles van alles af weet nie. Was seker bang ons sou verstand in haar kop ingepraat het. Nee, sy foeter voort. Sy teken hier, sy teken daar en sy betaal selfs vir die ete die aand toe hulle die transaksie vier. Behalwe dat dit nie ’n transaksie was wat ooit in haar guns sou tel nie. Behalwe dat daar niks was om te vier nie, maar baie om oor berou te hê. Behalwe dat sy haar uitgegee het vir ’n toffie en toe behoorlik gekou is.
En toe die pôpô die fên tref, toe eers gaan haar oë oop. Vir baie dinge. Toe sit sy soos kiepie daar in die vreemde. In haar liefde verlaat met leë sakke en egg on her face. Toe wil sy van die brug oor die Teems afspring, maar kry dit nie reg nie, want dis nogal hoog en die water lyk slymerig en vrek koud.
En daar is nie ’n vriend of ’n vyand wat omgee wat van haar word nie. When times are tough, friends are few. Selfs haar Facebook friends het die een na die ander van haar blad af verdwyn. Was seker te bang sy gaan plak by een van hulle. Daag sommer daar op, min of meer net met die klere aan haar lyf en soek ’n slaapplekkie vir die nag. En die nag daarna. En daarna.
Dis toe dat sy begin varkpeule vreet, julle weet. En wanneer ’n mens varkpeule vreet, besef jy daar is net een ding om te doen. Net een plek om by te gaan aanklop waar die deur nie summier in jou gesig toegeslaan gaan word nie. Dis dan dat jy jou trots in die vullisdrommetjie gooi en ’n please call me huis toe stuur. En dit, liewe vriende en vriendinne, is hoe dit gekom het dat ons dogter in hierdie stadium van haar lewe weer pens en pootjies met leë hande en ’n oortrokke bankrekening by ons geland het. Noudat sy eintlik al ’n man en een-komma-ses kinders moes gehad het, as jy haar met haar tydgenote vergelyk.
Dié wat nie na matriek oorsee is om hul vlerke te sprei nie, maar universiteit toe om man te soek. En geslaag het. Wat ’n graad gekry het. En ’n man. Dié wat nie met verskroeide vlerke en ’n rookgewoonte terug huis toe gekom het nie, maar in hul eie huise teen die heuwels bly en net oor Kersfees by hul ouers opdaag. En dan nie eens lank bly nie.
Oukei, dit sal seker nie presies so klink nie, ek weet. Want Ma weet nie van my rokery nie. Wel, nie amptelik nie. En selfs al weet sy ook daarvan, sal sy nooit vir haar geleerde vriende daarvan vertel nie. Selfs aan domheid is daar perke en iemand wat nog in this day and age rook, is dommer as dom.
Dommer as dom mag ek dalk wees, maar ek is vir slim mense so gatvol dat ek wil weghol die oomblik wat een van hulle aan die voordeur klop. Ek kan alles nog vat as ek in my kamer bly – of nog beter, iewers in die donker tuin ’n sigaretjie gaan rook – maar die partytjies wat Ma van tyd tot tyd hou, is ’n marteling wat jou na bewusteloosheid laat verlang.
Trosse en trosse van haar geleerde vriende en kennisse wat die huis vol staan, glasies in die hand, brille op die neus, almal met die een of ander issue wat hulle wil opper. Vuil wasgoed ook, ’n antwoord op alles. Aardverwarming, brandstoftekorte, die paringsmetodes van ’n verskeidenheid insekte en hoe dit van mekaar verskil, oorloë en vrede, die sin van die lewe. Wat filosowe deur die eeue nie ontrafel kon kry nie, word in my ma se sitkamer uitgepluis. Die absolute waarhede wat gryskoppe hul lewe lank ontwyk, word daar op die tafel geplaas en met woordeboekwoorde geëvalueer.
En natuurlik, voor in die koor sal jy Gertruida Jakoba Diedericks kry, my ma met soveel grade agter haar naam dat feitlik die hele alfabet daarvoor gebruik moet word.
Ja, ja, ek weet ek het ’n helse hang-up daaroor. My ma het dit mooi vir my verduidelik toe sy destyds aan haar graad in die sielkunde gewerk het. Ek voel minderwaardig omdat ek nie so slim soos sy is nie. Ek het ook iets oor dié teorie van haar en die skrywers van sielkundeboeke te sê, maar ek is nie woordryk genoeg om my gedagtes oor te dra nie. Buitendien staan sy beswaarlik lank genoeg stil om na my te luister.
Ek is nog steeds honger vir haar. Ek verlang nog na haar soos in my kleindogtertjie-tyd. Dit is nie verniet dat my ma se studeerkamer op die boonste vloer is nie, het ek toe gedink. Dit moet daar bo wees, naby aan die hemel, daar waar die engele wandel. Die engele en die slim mense van die aarde is baie na aan mekaar. Mense soos my ma.
Een ding weet ek. Wat ek ook al met my lewe vorentoe aanvang, daar gaan nie boekgeleerdheid by betrokke wees nie. Boggher slim mense wat met hul koppe in die wolke loop.
Maar eers moet ek iets aan myself doen. Wat Jane sê, is waar. Ek is ’n boring blonde, ’n