Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 12
Sarie sit die gehoorbuis vinnig neer en gryp die groot tas. Sy draf skeef-skeef tot by die hysbak.
Hugo sien haar uit die hysbak stap en klim vinnig uit die motor om die tas by haar te neem.
“Ek is jammer ek het so lank gedraai, maar ek moes net eers gou my ouers bel; anders raak hulle bekommerd as hulle Sondag bel en ek is nie tuis nie.”
“Wat sê hulle?” Hugo frons en sit ’n oomblik met sy hande op die stuurwiel voordat hy na haar draai. “Is hulle nie onrustig omdat jy by wildvreemde mense gaan bly en kinders oppas nie?”
“Nee … ek glo nie. Ek het gesê ek sal vanaand vir hulle skryf en alles verduidelik. Met die plaaslyne is ’n mens se gesprekke nie juis baie privaat nie.” Sarie glimlag vir hom. “Moeder Saartjie is enig in haar soort. Sy soek net altyd mense om te help en te versorg. Sy sê sy is trots op my omdat ek bereid is om ’n siek vrou se kinders te gaan oppas.”
Hugo skakel die motor aan en hulle ry in stilte die entjie na sy huis.
By ’n imposante herehuis se hekke draai hulle in. Sarie sit regop en staar bewonderend om haar. Hulle ry met die rylaan op tussen netjies versorgde grasperke en struike deur en dan hou Hugo voor die groot dubbelverdiepinghuis stil.
Rykdom en weelde omvou haar toe sy die huis binnegaan, maar alles lyk koud en onpersoonlik en Sarie wens sy kon hierdie pragtige vertrekke onder hande neem; sy sou hulle laat lewe en sprankel.
“Oom Hugo!” Twee kleingoed kom wild op hulle afgestorm. Hugo raap die meisietjie op en swaai haar hoog bokant sy kop terwyl die donkerkopseuntjie styf teen sy been kom vasdruk.
Sarie sak vinnig op haar hurke af en steek haar hande na die seuntjie met die traanvlekke op sy wange uit.
“Hallo! My naam is Sarie. Wat is joune?”
Karl druk net skaam stywer teen Hugo vas, wat ongemaklik na die toneeltjie hier by sy voete staan en kyk.
“Ek dink ek moet raai.” Sarie beskou hom kastig peinsend en staar met vernoude oë na sy donker ogies en haartjies. “Ek dink jou naam is Pieter.”
’n Fyn glimlaggie haak om sy mondjie en sprei stadig tot in die donker ogies terwyl hy sy koppie ernstig, ontkennend skud.
“Nie Pieter nie? Hm …” Sarie lek met haar tong in die hoek van haar mond en dink dan weer kastig baie diep. “Jakkie?” Sy skud haar kop ongelowig toe sy na die breë glimlag op sy gesiggie kyk. “Ook nie Jakkie nie?” Sy kyk hulpsoekend na Hugo en fluister dan geheimsinnig agter haar hand. “Wat is sy naam?”
Hugo glimlag en druk vir Karl ’n bietjie vorentoe. “Dit is tannie Wessels wat na julle gaan kyk totdat ons iemand in tannie Visser se plek gekry het.” Hy beduie na die kinders. “En dit is Karl en Annemie.”
“Is nie, sy sê haar naam is Sarie.”
Sarie lag en vat Karl se handjie. “Natuurlik is my naam Sarie. Sarie Wessels.”
Die maklike manier waarop sy die kinders oorrompel, verbaas Hugo, want Annemie rem ook van hom af weg en hou haar handjies na Sarie uit.
Sarie neem haar by Hugo en dra haar gemaklik op haar heup, so asof sy dit elke dag doen.
Hugo sug van verligting. Sy is seker die oudste van ’n swetterjoel kinders en weet ten minste hoe om met ’n kind te werk. Die kinders is in elk geval op hierdie oomblik sy grootste bekommernis.
Hy sal môre reël dat die restaurant elke dag kos hiernatoe stuur. Hy glo vir geen oomblik dat so ’n jong meisie kan kook nie en die kinders kan beslis nie van eiers en brood lewe nie.
“Het Pappa al gebel, Karl?”
“Ek weet nie, oom Hugo, vra vir Anna.”
Hugo verdwyn na agter en Sarie bly alleen by die kinders. Sy verbeel haar sy hoor hom oor die telefoon praat en dan kom hy weer met ’n ontsierende frons op sy voorkop die sitkamer in.
“Juffrou Wessels, ek het met Anna gereël om vir jou jou kamer te wys.” Hy trek sy baadjie aan en kyk bekommerd na haar. “Sal jy nou regkom met die kinders? Ek moet ongelukkig nou ’n dringende vergadering bywoon.”
“Ja, as iemand my net kan wys waar alles is, sal ek regkom, meneer Kritzinger.”
“Oom Hugo, wanneer kom Pappa huis toe?”
“Ek het nou net die mense by die hospitaal gebel. Mamma is klaar geopereer en Pappa gaan nog ’n rukkie by haar bly. Hy sal seker vanaand laat kom. Maar tannie Wes… tannie Sarie is mos nou hier by julle.” Hugo vryf liggies oor die donker koppie.
Onverwags stoot ’n blos in Sarie se wange op toe Hugo haar naam noem, en verleë kyk sy weg. Sy soek na Karl se handjie en tel vir Annemie op haar heup.
“Kom, dan gaan wys julle vir my waar Anna is. Anna kan vir my wys waar alles is wat ek nodig het.”
“Ek sal voor aandete terug wees. Moenie bekommerd wees oor kos nie …”
Hugo lyk so verlore dat Sarie nie kan help om te glimlag nie.
“Ek sal regkom, meneer Kritzinger. Moenie u oor my bekommer nie.”
Hugo stap vinnig na die voordeur en Sarie laat haar al geselsend deur Karl na die agterste deel van die enorme huis lei.
Anna blyk toe ’n huishulp te wees. Dan is daar ook nog Gladys, wat hoofsaaklik in die kombuis werk, maar wanneer dit te druk gaan, help sy ook met die huiswerk.
Mevrou Visser behartig die organisasie van die huishouding en die kookwerk, en sou na die kinders omsien terwyl hul ma in die hospitaal is.
Anna is ’n vriendelike, stralende jong meisie en wys graag vir haar waar alles is.
Die kamer langs die kinders s’n word vir haar gereedgemaak. Die kamer is met ’n middeldeur aan die kinders se kamer verbind en dit sal dinge vir haar baie vergemaklik gedurende die nag.
Normaalweg woon mevrou Visser in die woonstelletjie op die onderste verdieping naby die kombuis, maar sedert die kinders hier bly, slaap sy in hierdie kamer om naby hulle te wees. Daar is dus nie veel van haar persoonlike goed nie, net ’n kamerjas wat in die badkamer hang.
Sarie se tas is reeds in die kamer toe Anna vir haar die deur oopstoot. Dit is ’n pragtige vertrek met ’n sagte wit langhaarmat. Die ligroos gordyne is handgeweef en hang swaar en smaakvol tot op die mooi mat.
Sarie verlekker haar in die ruimte en weelde en neem haar voor om hierdie maand terdeë te geniet. Blouwildebees sal net saans hier wees en dan is sy al veilig in haar eie kamer.
“Tannie, kom kyk ons kamer. Kan ons maar saans ’n bietjie by tannie kom lê?”
“Jy kan gerus by my kom lê. Dit is mos ’n yslike bed. Of hoe dink julle?” Sarie lag en druk die skaam blonde meisietjie teen haar skouer vas.
Sarie gaan stap later met die kinders deur die groot, pragtig versorgde tuin en sy geniet dit byna meer as die kinders. Die wintertuin is baie netjies. Die uitgestrektheid daarvan maak haar rustig en ontvanklik