Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman страница 5

Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman

Скачать книгу

saak weer eens met Carl bespreek.”

      “Hoe kon hulle so iets doen? Hoe dink hulle moes my arme oupa op die dorp kom om voedsel en ander voorrade te bekom, as hulle sy vervoermiddel verkoop het?” Hennie is baie verbitterd. “Ek weet nie of jy die Meiring-gesin ken nie, maar …”

      “Nee. Nee, ek ken hulle nie. Ek weet net van hulle – van die ou man en Carl en sy broer Donnie,” val Wynand haar vinnig in die rede, bang sy saak by Hennie Vermaak versleg as sy moet weet hy en Carl Meiring is baie goeie vriende en speel gereeld saam gholf.

      “Ek is nie van plan om die saak daar te laat nie,” sê Hennie met nadruk terwyl sy opstaan. Sy neem haar handsak, die getikte likwidasierekening en die biblioteek se sleutels. “Daar bestaan so iets soos reg en geregtigheid en my arme ou oupa was te lank die slagoffer van daardie spul Meirings. Hoe kon hulle in elk geval sy motor van die hand sit, sonder die lisensie en ander papiere? Of het hulle dié ook van ’n arme weerlose ou man gesteel?”

      “Ek sal op die saak ingaan.” Wynand glo nie dis nou die geskikte oomblik nie en hy glo nie die aanbod sal gunstige oorweging geniet nie, maar hy het Carl belowe om die kwessie met die nuwe eienaar van Sesdorings te opper.

      “Daar is nog ’n sakie, Hennie …”

      Hennie gaan sit weer op die puntjie van die stoel.

      Om tyd te wen en die mooi rooikopmeisietjie tyd te gee om dalk bietjie af te koel, soek Wynand Bothma weer deur die lêer en haal dan ’n brief te voorskyn.

      “Hier was ’n baie goeie aanbod om Sesdorings van jou te koop, met inbegrip van die biblioteekgebou en woonstel.”

      Dis nie vir Hennie nodig om die brief by die prokureur te neem nie. Van waar sy sit, kan sy die handtekening onderaan sien. “Sesdorings is nie te koop nie,” sê sy koel. “Veral nie aan my buurman nie en ook nie al bied hulle my dubbel die markwaarde aan nie.”

      “As ek jy was, sou ek dit oorweeg het.”

      “Jammer, maar jy is nie ek nie,” sê Hennie liefies.

      “Vanuit ’n finansiële oogpunt is dit …”

      “Vanuit enige oogpunt,” val Hennie hom in die rede. “Dit bly totaal buite die kwessie. Tot siens, meneer Bothma.”

      Hennie is nog steeds hewig ontstoke toe sy in die hoofstraat afjaag en by die tweede stopstraat regs draai op die Legkraalpad. Sy hoor weer daardie eienaardige klettergeluid in die enjin, wat vanoggend net anderkant Pietersburg begin het, maar sy is te kwaad om daarop ag te slaan of op te let dat die temperatuurnaald na die rooi gevaarmerk opgeskuif het.

      Verbeel jou – om iemand anders se besittings te verkoop om vir ’n simpel ou draad en hek te betaal … En wie se skuld was dit in elk geval dat daardie drade geknip was? Hoe anders moes arme Oupa die pad na die biblioteek vir sy kliënte oophou? Dis gruwelik eiegeregtig om die motor te laat wegsleep en sonder die eienaar se toestemming te verkoop. En wat sou daardie rekening vir die herstel van beskadigde eiendom wees? En die obstruksie? Nog steeds te doene met daardie lyndrade wat Oupa noodgedwonge moes knip en die motorhek wat hy nie anders kon as om te breek nie? Of was dit iets anders waarvan oupa Drik haar nie geskryf het nie?

      Hennie het gedink haar terugkeer na Sesdorings sal vol nostalgie en mooi herinnerings wees. Dog die Meirings het dít ook vir haar bederf en sy merk skaars die kameeldorings wat in volle geel bloei staan en die ondergaande son wat die Noord-Transvaalse bosveld in ’n sagte ligroos wasigheid kleur. Die mooi prentjie van die tarentale wat streep-streep slaapplek vir die nag soek, is vir haar verlore en so ook die blinkvlerkspreeu wat protesterend uit ’n wilde seringboom vlieg toe ’n rooi gevaartetjie met skuiwende bande en gehul in ’n stofwolk om die draai verskyn.

      Die Volkswagen se afstandsmeter werk nie, maar Hennie het op die kop halfses van die nasionale teerpad afgedraai en ’n gemiddelde snelheid van omtrent veertig kilometer per uur gehandhaaf. Toe dit kwart voor sewe word, werk sy uit dat sy nou ongeveer vyftig kilometer ver gery het en kyk solank uit vir die twee plat koppies net duskant Sesdorings. Daar is egter geen teken van die rantjies nie en skielik kom sy agter dat die masjien nie reg dreun nie. Daar is ook ’n eienaardige reuk in die motor.

      Hennie sprinkel ’n halfbottel eau de Cologne oor haar hemp en seilbroek en sluit haar ore vir die geluid wat soos skuurpapier teen metaal klink. Was haar pa reg? Het sy met hierdie vernielde klein motortjie vir haar ’n kat in die sak gekoop?

      Ná nog omtrent ’n driekwartier se ry is daar nog steeds geen teken van ’n rooi baksteengeboutjie in ’n plaat doringbome nie. Haar bottel reukwater is leeg, die bedompige reuk het haar ’n hoofpyn gegee en die masjien ruk-ruk elke keer as sy die brandstofpedaal wegtrap.

      “Asseblief,” vra Hennie woordeloos. “Laat ek om die volgende draai daardie twee plat koppe in die motorligte sien. Asseblief, moenie dat ek verdwaal het nie. Moenie dat ek iewers verkeerd afgedraai het of dat die pad dalk verlê is sedert ek laas hier was nie.”

      Dog om die volgende draai is daar nog steeds net plat wêreld en ’n mielieland en skielik uiter die arme siek masjien ’n laaste patetiese klettering, voordat dit vir oulaas ruk en dan heeltemal staak.

      Hennie trap die brandstofpedaal paniekbevange en ruk en pluk die aansitter, dog daar is geen reaksie nie. Daar is te veel diep sand in die pad en die momentum van die motor is nul. Hennie kry dit nie eers uit die middel van die pad nie en toe sy uitklim om dit te probeer stoot, steek die Volkswagen viervoet was en kan sy hom geen sentimeter verroer nie.

      “Jy kan nie dít aan my doen nie, Vollie,” praat Hennie mooi. “Ek het duur vir jou betaal en jy kan my nie in die steek laat nie.” Sy druk ’n soentjie op die stowwerige rooi neus. “Asseblief, nog net so ’n ou entjie … Ek is seker Sesdorings lê net om die draai. Gaan jy my soontoe neem? Toe, jy en ek het mos vriende gemaak toe ek jou so mooi skoongemaak het …”

      Hennie se vriendjie wil egter niks weet nie. Die masjien is morsdood en al teken van lewe is die twee kopligte wat half skeel en oormekaar die donker lug in wys en die toeter wat darem nog werk.

      Wat nou? wonder Hennie. Die motor sluit en begin aanstap met die hoop dat Sesdorings regtig net om die volgende draai lê, soos sy haar al die afgelope twee uur optimisties probeer wysmaak het? Hennie kyk na die donker veld om haar en sy sien nie kans vir dáárdie proposisie nie. Nee, besluit sy. Sy kan dit nie doen nie. ’n Motor wat vinnig om die draai kom, sal die Volksie dalk nie sien staan nie en dit kan ’n ongeluk veroorsaak. En wie sê hier is nie dalk leeus in die omgewing nie? Nee, sy sal maar die deure sluit, die parkeerligte aangeskakel hou en haarself so gemaklik moontlik vir die nag maak. Koud sal sy nie kry nie en van honger en dors sal sy ook nie omkom nie. Sy het komberse in die motor en ses blikke vol klein koekies en beskuit en nog ’n halwe termosfles koffie oor. Sy is moeg na die lang dag op die pad en môre in die daglig sal sy dalk haar rigting kry. Sy is vies vir haarself omdat sy verdwaal het. Was dit omdat sy die pad nie meer so goed onthou as wat sy gedink het nie of omdat sy ingedagte was? As dit nie was dat sy so onnosel was nie, kon sy nou reeds op Sesdorings gewees het … Deksels!

      Hennie het haar reeds met die gedagte versoen dat sy nie vanaand die begeerde lekker warm bad en sagte bed sal hê nie. Sy verwyt haarself ook nie meer so erg omdat sy verdwaal het nie en het opgehou om vir die motortjie vies te wees. Sy het koffie gedrink, die passasiersdeur gesluit en is besig om in die deurmekaar kattebak komberse uit te grawe. Omdat sy amper halflyf in die bagasiebak ingeklouter het, hoor sy nie die dreuning van ’n motor nie. Sy skrik toe ’n paar helder ligte skielik vol op haar skyn en ’n motor met skreeuende bande om die draai skuif, om twee handbreedtes van die Volkswagen se neus tot stilstand te kom. Hennie bondel armsvol koekblikke, skoene,

Скачать книгу