Dierbare drosters. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dierbare drosters - Sarah du Pisanie страница 4
Daar is ’n hele paar minute lank ’n verbaasde, geskokte stilte.
“Die hut! Sus, onthou jy die ou prospekteerdershut daar indie berg? Ons moet daar gaan bly. Niemand sal ons ooit daar gaan soek nie.” Ria spring regop en haar oë gloei en dadelik is daar meer lewe in die verslae groepie.
“Natuurlik, Ria! Dit is die ideale wegkruipplek. Al kan ons net daar skuil totdat ek een en twintig is.”
Lettie en Pollie spring op en druk elkeen ’n soen op Betsie se wang en draai dan uitgelate in die rondte.
“Luister, kinders, ons moet dadelik die wa begin laai. As meneer Klopper dit sien, sal hy niks vreemds vind daaromtrent nie. Vanaand, wanneer dit donker is, span ons die donkies in. Teen die tyd dat hulle na ons begin soek, is ons al baie ver weg. Nou moet ons net bid dat ou Von Throtha nie vandag nog hier opdaag nie.”
“Nannie … gaan onth nou by jou bly?” Martie kom druk haar koppie styf teen Betsie vas.
“Ja, blommekind. Nannie sal julle nooit laat weggaan nie. Pollie, jy en Lettie moet gaan kyk waar die donkies is en bring hulle so ongemerk moontlik nader aan die huis. Gelukkig lê ons huis so half eenkant. Dit is vandag iets om oor dankbaar te wees.”
Betsie besef dat hier nou baie vinnig georganiseer moet word. Die son sit al reg bokant hulle en hulle sal alles moet uithaal om vanaand gereed te wees. Hulle moet kos inpak. Al die klere van die kinders. Meubels wat hulle sal nodig hê. Komberse, matrasse, potte …
“Lettie, jy en Pollie moet na die hoenderfuike gaan kyk en dit gou regmaak terwyl ek en Ria inpak. Hierdie paar hoenders moet saamgaan.”
Hulle maak twee takke agter aan die wa vas om die spore dood te vee en beweeg soveel moontlik oor die klipperige grond. Die wa is hoogvol gelaai toe hulle teen donker so stil moontlik wegry.
Martie lê en slaap op die matrassie tussen al die bagasie. ’n Primitiewe vegtersinstink kom maak nes in Betsie se binneste. Meneer Von Throtha, ek en jy gaan mekaar weer eendag ontmoet. Mag dit wees wanneer ek al oud genoeg is om op my regte te staan! Dit gaan beslis nie ’n aangename ontmoeting wees nie. Nie vir my nie en ook nie vir jou nie …
2
Soos vyf vaal spokies staan hulle hande in die sy hul handewerk en betrag.
“Hoe lyk dit, Nannie?” Lettie vee met die agterkant van haar arm die sweet van haar voorkop af en druk die haarsliert agter haar oor in.
“Ek voel nou soos ’n kameel in die woestyn. Ek gee nie eens om of dit goed genoeg is, of nie.” Pollie praat met ’n hees stemmetjie om haar saak te beklemtoon.
“Dit lyk pragtig, julle. Vanaand slaap ons soos koningskinders in hierdie silwerskoon hut.”
Die gedagte vind beslis byval. Twee dae en drie nagte in die veld met net die stampende, vol wa was nie die gerieflikste nie.
Die hut was baie vuil en stowwerig. Hulle is seker die laaste mense wat hier was, en dit was twee jaar gelede.
Die hut is nog in die eienaars voor hulle se tyd ingerig. Dit was blykbaar bedoel om ’n prospekteerdershut te wees. Hulle weet nie of dit ooit vir daardie doel gebruik is nie.
Dit hut is nogal lekker ruim. Dit bestaan uit twee vertrekke. In die een is vier slaapbanke ingebou en die ander vertrek dien as ’n kombuis. Daar is tot ’n ou swart stoof.
Betsie het ’n tafel en stoele ook op die wa gelaai. Dit verander die hele voorkoms van die vertrek. Hulle het selfs ’n vrolike, geruite doekie oor die tafel en dit lyk heel leefbaar.
Hul matrasse het hulle op die banke gegooi en Lettie en Pollie het dit opgemaak met hul eie beddegoed. Martie se matrassie word sommer onder Betsie se bank ingestoot en sal saans uitgesleep word.
Die kiste waarin die breekgoed gepak was, word nou op die sykante gedraai en dien as kassies waarin dieselfde breekgoed gebêre kan word. Daar is selfs ’n tafeltjie met ’n waskom waarin hulle skottelgoed kan was.
Bokant die stoof is ’n rak. Daarop het hulle die kastrolle en ’n pan uitgepak.
Die geheelbeeld lyk huislik en sommer baie skaflik ingerig. Betsie het die hut baie goed onthou en gesorg dat hulle alles saambring wat hulle nodig mag kry.
“Pollie, vat jy en Lettie die wateremmer en gaan haal vir ons water by die fontein.”
Lettie is die handigste wat dit betref, en Betsie aanvaar die hulp dankbaar.
“Ek is darem baie dankbaar vir die fontein wat so naby die hut is.”
Betsie lag. “Dit is seker die rede hoekom hulle die hut juis hier gebou het, Lettie. Water is altyd ’n groot faktor.”
“Ag, Nannie, ek is nou te moeg vir sulke groot woorde.”
Die hoenders kom mor-mor by hulle verby en Ria sak laggend op haar hurke neer.
“Is julle kwaad, ounooi se hoendertjies? Dit is tog baie lekkerder hier as daar by die myn. Kyk net al die lekker kossies wat julle kan eet. Julle moet net vir ons eiers lê, hoor! Ons sal nounou vir julle ’n hokkie gaan maak.”
“O aarde, ja. Ons sal natuurlik daarna ook nog moet kyk.Hier is seker jakkalse en sulke goed.”
“Ek en Lettie sal netnou na die fuike kyk en dit so omskep dat dit ’n hokkie vorm. Hulle kan saans daarin slaap.”
Moeg, maar baie tevrede met hulself sak hulle langs die tafel neer.
Betsie het eerste die stoof bygedam terwyl die kinders solank die vertrekke skoongemaak het. Dit het sweet gekos om die ding aan die gang te kry, maar nou brand hy vrolik en die koffiewater kook al amper.
Die kinders eet heerlik aan die pap met botter en suiker wat sy later vir hulle voorsit. Daar is egter ’n beklemming om Betsie se hart terwyl sy na hulle kyk.
Waar gaan sy vars vleis en melk vandaan kry? Hierdie kinders kan mos darem nie ’n jaar of meer so aangaan nie. Een van die dae is die botter ook op, en dan …?
“Luister julle, ons moet so gou moontlik ’n groentetuin aan die gang kry.” Betsie dink dankbaar aan al die saad wat sy ingepak het.
“Daar naby die fonteine is lekker grond, Nanna. Ek en Let sal dit môre omspit en regmaak sodat ons kan plant.” Vir Pollie en Lettie is dit niks buitengewoons om tuin te maak nie. In ’n huis waar net vyf dogters is, leer ’n mens gou allerhande dinge doen.
“Dit sal baie gaaf wees, Pollie. Ek het sommer die blik met al die sakkies saad ingepak.”
“Kan onth maar blommetjieth ook plant, Nannie? Thommer hier buite voor die hut.”
Martie is altyd en oral op soek na ’n blommetjie.
“Die water sal aangedra moet word van die fontein af om dit mee nat te maak, skattebol. Dit sal darem baie moeite wees.”
“Maar ek thal help. Atheblief, Nannie?” Die tongetjie