Dierbare drosters. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dierbare drosters - Sarah du Pisanie страница 5
Die kinders het vir die donkies ’n kraal van doringtakke gebou. Mak soos die donkies is, wei hulle nie ver weg nie en kom saans gedwee huis toe. Hulle skyn doodgelukkig te wees. Hier tussen die groen gras en onder die groot koeltebome en by die heerlike fonteinwater kan ’n donkie darem ook niks meer begeer nie.
In die dae wat volg, raak die kinders ook meer rustig en tevrede en dit voel vir hulle ook asof die hemel baie naby gekom het. Die heerlike sonskyndae en die rustigheid van die veld kom skop nes in hul midde. Ongemerk glip ’n week verby, terwyl hulle nog steeds besig bly om tuin te maak en groente te plant. Die vars groente wat Betsie saamgebring het, raak nou min.
Die hoenders lê darem eiers, maar Betsie wens vurig dat sy iewers vir hulle vars melk in die hande kan kry. Die swart koffie en tee staan nie een van hulle aan nie, maar niemand kla nie. Hulle is saam, en dit is al wat belangrik is.
Betsie besluit egter stilweg dat sodra hul sake beter georganiseer is, sy ernstig aan ’n plan sal moet dink. Om te vergoed vir die afwesigheid van vleis, braai Betsie van die groot sampioene wat hulle op die miershope kry, saam met uie. Hierdie brousel skep hulle oor die pap en dit smaak heerlik!
Hier is volop wild. Betsie sien darem nie kans om ’n bokkie dood te skiet nie. Sy kan ’n slagding bewerk wanneer dit klaar afgeslag is, maar om darem ’n bokkie sommerso dood te maak … nee, hulle sal maar nog eers uithou.
Vanoggend skyn die sonnetjie heerlik warm en Betsie keer die kinders aan.
“Julle moet kom, ons moet gaan hare was.”
“Ag, Nannie, dit kan mos maar eers wag.”
“O nee, juffroutjie, ons het nog ons lewe lank op Saterdae hare gewas. Kom! Ons gaan nie sleg word net omdat ons in ’n hut bly nie.” Betsie steur haar min aan Lettie en Pollie se gemor en maak solank klein Martie se haartjies los. “Kom ons gaan was sommer onder by die fontein. Bring handdoeke en seep en sommer skoon klere ook. Dan was ons hierdie klere uit.”
Hulle het vir hulle ’n holte met die graaf gegrawe en dit uitgepak met klippe. Dit vorm ’n heerlike badplek met die fonteinwater wat voortdurend daarin loop en weer aan die ander kant uitloop.
Laggend tou hulle af fontein toe. Die lang hare word losgemaak en geskud. Sonder ’n greintjie skaamte trek hulle hulle poedelnakend uit en soos vyf nimfe word daar luidrugtig gebad en hare gewas.
Skoon aangetrek en blink gewas, sit hulle ’n rukkie later op die rotse agter die hut en vryf hul hare in die son droog. Hulle lyk soos vyf laggende, vrolike engeltjies. Op hierdie oomblik is hulle gelukkig en tevrede en dit omstraal hulle soos ’n ligkransie. Hulle gooi die lang hare vooroor, sodat dit oor hul gesigte hang terwyl hulle dit liggies vryf en oplig.
Betsie neurie saggies en begin dan die woorde saamsing. Een vir een val die ander in. Die jong meisiestemme harmonieer sag en ritmies saam met die geluide van die veld.
Die pragtige, aandoenlike toneeltjie van vyf jong meisies en sagte stemme soos dié van ’n engelekoor sou enigeen onverhoeds betrap het.
“Moeder Maria! Wees my genadig!”
Die koor bly verskrik stil en ’n geskokte stilte hang ’n oomblik lank oor die stil, rustige veld.
Betsie lig haar hare stadig op en gooi dit dan agtertoe. Lettie maak ’n paadjie voor in die lang hare wat oor haar gesig hang en loer dan soos ’n hasie tussen die bruin hare deur.
Pollie kry haar hare net so halfpad oor haar gesig gelig en staan nou met die vag hare in haar hand wat sy net bokant haar oë hou.
Ria se hare hang nog net so. Sy is te bang om dit voor haar oë weg te neem, bang vir wat sy gaan sien!
Martie spring op en kom kruip weg agter Betsie, wat nog steeds stom van verbasing na die vuil, verwaarloosde ou man staar. Hy het op sy knieë langs die donkie neergesak en druk sy kop in die grond soos een wat bid terwyl hy aanhoudend kerm. “Wees my tog net genadig! Ek sal nooit weer drink nie. Ek belowe … nooit weer nie!”
Ria kom stadig regop en gooi haar hare agtertoe.
Die vaal ou donkie staan met vaak oë die hele affêre uiters verveeld en bekyk. Die vreeslike pak goed op sy rug hinder hom blykbaar nie in die minste nie.
Betsie maak verbouereerd keel skoon. Hulle het hom nooit gesien aankom nie, en met hul singery het hulle hom ook nie gehoor nie.
Die man staak sy gekerm ’n rukkie. Dit is doodstil, maar hy druk nog steeds sy kop vas teen die grond. Stadig lig hy sy bolyf effens op. Sy twee oë is egter baie styf toegeknyp. Baie versigtig maak hy een oog oop.
Die kinders het werktuiglik nader aan Betsie beweeg en staan nou in ’n kringetjie om haar.
Die ou man se oë rek skielik albei wawyd oop en dan slaan hy kermend sy hande voor sy oë. “Gaan weg! Gaan weg! Ek sê mos ek sal nooit weer drink nie. O! Lewend kom ons vandag nie lewend hier uit nie, Samuel. Nooit nie. Hier is dan nou al ’n hele skaar van hulle.”
Lettie stamp aan Betsie en beduie met haar kop na die patetiese, vuil ou man wat nie ’n enkele tand in sy mond het nie.
“Wat gaan met hom aan?” Lettie fluister saggies hier naby Betsie se oor.
Betsie haal net haar skouers onbegrypend op. Dit is Ria wat eerste besef wat aangaan.
Sy gee ’n treetjie nader aan die ou skepsel en trek haar arms hoog bokant haar kop op terwyl sy haar stem hees en grof maak.
“Wat wil jy hê …?”
“O!” Die gekerm begin van nuuts af. “Sê sal ek nooit weer sê dat ek nie aan spoke glo nie. Gesien het ek dit met my eie oë gesien.”
Lettie proes saggies en dan kan Pollie dit nie meer hou nie en sy begin skaterlag.
“Ons is nie spoke nie, oom.”
Dit is lank stil voordat die ou man stadig sy vingers oopmaak en tussen hulle deurloer.
Voordat Betsie nog kan keer, glip Martie tussen haar hande deur en gaan staan voor die ou man, wat nou baie versigtig sy hande voor sy gesig wegneem.
“Onth ith nie thpoke nie, oom. Onth ith thommer net onth.” Sy lag vrolik met haar haasbekkie vir die ou oom wat nog minder tande het as sy.
“O-o-o!” Die ou man hier voor hulle op sy knieë het nie nog krag om ’n woord oor sy lippe te stoot nie.
“Meneer …” Betsie staan bekommerd nader. Die ou man lyk heel onskuldig en sy glo darem nie hy sal hulle leed aandoen nie. Maar hy kan vir die ander mense gaan vertel dat hulle hier is.
“Meneer … ek bedoel …” Dit voel nie heeltemal reg om vir hom meneer te sê nie.
“Wat … waar … ek bedoel, waarheen is jy op pad?”
“Prospekteer kom ek hier prospekteer, ja.”
“Wou … wou u … oom hier in die hut kom bly het?” Betsie glimlag vir die ou mens se komieklike manier van praat.
“Ja … ja, so het hy gesê. Daar is