Vyf vir vreugde. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vyf vir vreugde - Ena Murray страница 2
Die man wat eenkant rondstaan, duidelik wagtend op iemand, kyk net vlugtig na haar kant en dan gaan sy blik weer na die deur terwyl hy fronsend na sy polshorlosie loer. Effens sinies merk hy op hoe die koppe draai terwyl die blonde godin, soos hy haar reeds spottend in sy gedagtes gedoop het, tussen die tafels deur stap, haar oë soekend om haar. Maar daar is geen belangstelling in sý blik nie, en weer kyk hy weg, die ongeduld dié keer openlik in die grys oë te sien.
“Meneer Brynard …?”
Hy draai sy kop stadig na regs, kyk af na haar, en nou is die familietrek tussen hom en Hein nog duideliker sigbaar. Daarom kon sy hom so maklik tussen al hierdie mense vind. Sy het instinktief geweet dit moet Hein se pa wees terwyl sy tussen die tafeltjies deur in sy rigting gevleg het.
“Ja …?”
Haar wenkbroue lig omhoog. “Wel, ons het ’n afspraak … of is ek laat?”
Dit is of hy onwillig erken: “Nee, jy is stiptelik … ás jy doktor Louw is.”
“Ek is.”
Hy knik, laat sy blik vinnig, vlugtig en met ietwat meer belangstelling oor haar gaan, wink dan met sy kop na die hoofkelner en lei haar swyend na hul tafeltjie. “Is daar iets spesifieks wat u verkies?” Sy stem is koud, veraf, die atmosfeer tussen hulle geensins bevorderlik vir die delikate saak waarvoor sy gekom het nie … en sy wou Hein so graag help. Maar sonder hierdie man se begrip en samewerking sal dit ’n bykans onmoontlike taak wees.
“Ek verkies iets baie ligs, dankie.”
Hy knik. “Gaaf, dan sal ons met ’n vrugtekelkie begin.” Nadat hy die bestelling geplaas het, vra hy koel: “Iets om te drink?”
“Nee dankie.”
Hul oë ontmoet en dit is dieselfde strak blik met die waarskuwing in die grys dieptes, wat sy ook in die pa se oë lees. Maar sy kyk hom waterpas in die oë, kalm en bedaard, en ’n vlugtige skemering van verbasing is op sy gesig te lees. As hy gedink het dat sy reguit blik met daardie koue hovaardigheid haar sou ontsenu soos in die meeste ander gevalle, het hy hom hierdie keer misgis. Hierdie doktor Louw laat haar blykbaar nie maklik van stryk bring nie. Haar blou oë weifel nie, en dit is hý wat verplig is om die spanningsvolle swye tussen hulle te verbreek.
“Ons het nie veel tyd nie, doktor Louw. U wou my spreek.”
“Ja, maar ek dink ek het my tyd kom mors.”
Sy wenkbroue lig vererg. “Kom u altyd so vinnig tot ’n slotsom?”
“Nee, ek probeer altyd regverdig wees. Maar in my werk kweek jy later ’n soort aanvoeling aan, en weet instinktief of jy jou tyd reg benut … en of jy maar jou asem kan spaar.” Dan skram haar oë weg. Dit is beslis nie die regte manier om hierdie man te benader nie, dít laat haar grondige kennis van die sielkunde haar deeglik besef. Dit is beslis teen al die geskrewe reëls, en sy weet nie wat haar makeer nie. Om hierdie man van die staanspoor af die harnas in te jaag, sal haar nêrens bring nie. Inteendeel. Dit sal eerder Hein se probleme vergroot.
Daar is ’n kil spotlag in die oë asof hy presies kan lees wat in haar gedagtes omgaan en volkome met haar saamstem. Dit is nie die manier om probleme op te los nie …
Sy stem het ’n fyn ondertoon van snydende sarkasme. “Dit skyn asof ek nie ’n baie goeie eerste indruk op u gemaak het nie, doktor Louw. Dit is jammer. Eerste indrukke is egter dikwels misleidend en jy hét gesê jy is ’n regverdige mens.”
Sy kyk weer op. “Ons het nie op goeie voet begin nie. Ek is jammer. Ek het nie hierheen gekom … Ek het ’n afspraak met u gereël om Hein, u seun …”
Hy knik. “Dit weet ek. Wat van Hein?”
“Ek wil hom help. Hy is ’n baie oulike seun. Dit sal jammer wees as hy …”
“Ja.” Hy ontduik die onuitgesproke vrae in haar oë, bestudeer die vrugtekelkie voor hom. “Dit sál jammer wees. Hein het soveel potensiaal. Maar wat wil u van my weet? Dit is hý wat die dagga gerook het, nie ek nie.”
Die blou oë flits. Die man se houding staan haar glad nie aan nie. Sy hele benadering tot sy seun se probleme steek haar dwars in die krop. Dit is asof hy amper geen belangstelling in Hein se doen en late het nie.
“Sonder u hulp kan Hein nie gehelp word nie, meneer Brynard. U is sy pa en die kern van sy probleem lê êrens in die verlede – êrens in sy huis.”
Die oë flits. “Ek begryp. Ja, dit is ’n tipies sielkundige toesprakie en ek het verwag om dit te hoor. Maar kon dit nog nooit tot julle slim sielkundiges se verstand deurdring dat daar mense is wat ondanks alles wat hulle het daarop uit is om hulself te vernietig nie? Ken julle nie sulke mense nie? Het julle nog nooit met sulke mense te doen gehad nie?”
Sy kan dit nie help nie; haar eie gesig is strak, haar stem yskoud. “Natuurlik het ons, maar Hein is nie een van daardie nie.”
“So? En hoe weet jy, doktor? Weet jy meer van hom as ek wat al sewentien jaar lank sy pa is? Het jy ná net twee kort besoeke – waarin jy nie veel vordering kon gemaak het as jy my hulp ook moes inroep nie – so ’n volkome korrekte evaluasie van my seun gemaak dat jy vanmiddag koel en kalm die skuld op my skouers wil kom laai?”
Haar oë lyk ontsteld, verward. “Jy begryp nie, meneer Brynard. Dit is glad nie wat ek bedoel het nie. Inteendeel …”
“Is dit nie, doktor? Wat is jou bedoeling dan? Wat is die rede vir die beskuldiging in daardie blou oë van die eerste oomblik dat ons twee mekaar ontmoet het?” ’n Diep frons keep tussen sy wenkbroue. “Doktor, ek is wel net ’n prokureur en die bietjie sielkunde in my regskursus sal ek nou glad nie probeer vergelyk met jou kennis daarvan nie. Maar daar is een belangrike faktor wat jy moet onthou … ek ken Hein sewentien jaar lank. Ek is al sewentien jaar sy pa.”
Die blou oë huiwer nie voor syne nie. “Ja, ek besef dit, meneer Brynard, en ek vra my af … is dít die resultaat ná sewentien jaar? ’n Pragtige, belowende seun wat dagga rook?” Sy kan die woede in sy oë sien flikker, maar sy is te boos om om te gee.
“Hoeveel kinders het jy, doktor Louw?”
Sy kyk hom verward aan. “Ek het nie kinders nie.”
Sy mond grynslag smalend: “So het ek vermoed. Dit wat jy kwytraak, is baie duidelik die voorgeskrewe reëls van ’n handboek oor sielkunde.”
“Ek werk daagliks met kinders, meneer Brynard!”
“Ja, van nege tot een en van twee tot vyf, en in daardie tyd pas jy alles toe wat jy uit boeke geleer het. En nou wil jý ’n oordeel kom vel en ’n man kom voorskryf wat sewentien jaar lank al vier en twintig uur van die dag saam met Hein Brynard lewe. Dit is die probleem met julle soort mense, doktor Louw. Julle dink julle ken die antwoord op alles. ’n Geval duik op en julle beoordeel dit. Julle diagnoseer die oorsaak, selfs binne enkele minute, en dan skryf julle baie selfvoldaan die voorskrif uit. Asof die gees van ’n mens bloot net ’n tweede liggaam is wat jy met ’n pil of medisyne kan dokter. Julle is so slim. Julle het ’n antwoord op alles, en julle kan ander voorskryf wát hulle moet doen … hóé hulle dit moet doen. Hierdie en daardie is die kwaal en dit en dat is wat jy moet doen, en alles