Vyf vir vreugde. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vyf vir vreugde - Ena Murray страница 4
“Ja. Miskien was ek ook te gou in my oordeel.” Hy glimlag amper onwillig. “Ons twee moet maar weer gesels. Tot siens, doktor Louw.” Die oë terg skielik. “Ek weet jy gaan nie doen wat ek jou gevra het nie. Jy gaan jou patroon volg soos jy jou voorgeneem het. Wel, alle sukses en ek bedoel dit. As jy kan bewys dat ek verkeerd is, sal ek dit erken. Ek is mans genoeg daarvoor. Maar as jy nie veel sukses behaal nie, moenie dink dit is die einde van jou loopbaan nie. ’n Mens leer algaande.”
Hy draai om, stap weg en sy sien hom tussen die mense verdwyn. Haar verstand staan stil. Sy weet nie wat om te dink nie. Waar Hein Brynard se geval maar een van talle is wat sy moet hanteer, deel van ’n lys name op haar werkprogram, het dit nou skielik, ná hierdie onderhoud, verander. Hein Brynard het ’n unieke geval geword … ’n uitstaande geval, amper iets persoonliks.
Daar is ’n vasbeslote trek in haar oë toe sy haar spreekkamer binnestap. Sy sal daardie Ruben Brynard wys hy is verkeerd. Háár metode is die regte een … want as hulle wat langs die pad val nie begrip en liefde kry, ’n helpende hand om hulle op te trek nie, wat gaan dan van die wêreld word? Wie van ons val nie minstens een keer nie?
Sou hý al hard geval het?
Sy roep die man se beeld in haar gedagtes op. Sy kan haar nie voorstel dat hy ’n man is wat kan val nie. Hy is so seker van homself, so beslis omtrent alles wat hy sê, wat hy voel, wat hy doen. En tog het sy die eienaardigste gevoel dat Ruben Brynard meer begrip en liefde nodig het as sy seun Hein …
2
“Het u sy pa reeds laat weet, meneer Smit?”
“Ja, doktor. Ek kon natuurlik niks anders doen nie. U begryp …”
“Natuurlik. Ja, ek begryp.” Louwda is ’n oomblik stil, weet nie wat om te sê nie. Wat sê ’n mens? ’n Gevoel van mislukking lê vlak in haar.
“Dankie dat u my laat weet het, meneer Smit. Ek waardeer dit.”
“Goed, doktor.” Hy aarsel ’n oomblik aan die ander kant. “U begryp dat ek niks anders kon doen nie, doktor? Ek het ander leerlinge om in ag te neem.”
“Natuurlik, meneer Smit. Baie dankie.”
“Doktor …?”
“Ja, meneer Smit?”
“Ek voel sleg oor die seun. Hein Brynard is ’n baie oulike seun. Ek weet, ek voel aan daar is êrens iets verkeerd, en as ’n mens dit kan regstel …”
“Ek weet, meneer Smit.” Haar stem is baie stil. “Ek weet Hein Brynard is ’n baie oulike seun met soveel potensiaal in hom. Dis net dat iets nie reg is nie. Êrens is iets radikaal verkeerd: nie met hom nie, maar met die dinge om hom, die dinge wat sy lewe beïnvloed, wat vorm aan hom gee. Hy is in sy deurslaggewende vormingsjare as jong man. Hy is ’n uiters fyngevoelige seun, baie sensitief. Hy het net die regte benadering nodig, die regte hantering, liefde en begrip.”
Die skoolhoof huiwer ’n oomblik. Hy werk al langer as twee jaar saam met doktor Louwda Louw. Hy het haar leer ken as ’n mens wat baie konsensieus is in haar werk. Sy dra werklik elke kind wat sy hanteer se probleme op die hart. Hy het die wêreld se respek vir haar, vir haar oordeel … vir haar as mens. Maar soms voel hy tog dis die vrou wat praat, nie die sielkundige nie. Dis die aangebore instink van die moeder in elke vrou wat op die voorgrond tree … nie die koel, saaklike, beredeneerde doktor wat ’n oordeel vel nie.
Ook in die geval van Hein Brynard twyfel hy of dit werklik net die sielkundige is wat praat, wat net na die feite voor haar kyk. Is dit nie eerder die vrou en moeder wat nou vir Hein skerm nie? O, sy is heeltemal reg. Hein is ’n oulike seun – hy sal die eerste een wees om dit te erken. Hy is intelligent, aantreklik – maar juis daarom kan dit hom nie so maklik vergewe word dat hý dagga op die skoolterrein rook nie. Vandag ’n tweede keer gevang: die seun van ’n bekende prokureur wat in ’n pragtige huis bly, die seun met ’n wonderlike agtergrond en uit ’n goeie familie. Alles is in sy guns. Hoekom dan hierdie swakheid? Hoekom dagga rook? Hy het mos geen verskoning nie.
Daardie kind wat swaarkry, wat uit ’n ongelukkige of arm of minder bevoorregte huis kom … vir hóm is daar verskoning. Maar nie vir Hein Brynard nie. En tog skerm doktor Louw, hou voor daar is ’n tekort aan begrip, liefde en die regte hantering. Meer simpatie en begrip as wat hy van sy onderwysers en skoolhoof kry, kan geen seun verlang nie. Selfs ’n skoolhoof bly ’n mens, en waar jy miskien ’n ander man se kind minder toegeeflik sou behandel, sien jy heelwat oor wanneer dit by prokureur Ruben Brynard se seun kom. Maar genoeg is genoeg, en dan moet ’n mens jou voet neersit. Selfs nie eens vir Ruben Brynard se seun is hy bereid om sy skool se naam verder in gevaar te stel nie.
Tog kan hy nie van die gevoel ontslae raak dat sy optrede nie doktor Louw se goedkeuring wegdra nie. Maar sy is nie verantwoordelik vir ’n hele groot skool van byna duisend leerlinge nie. Daarom, waar Eben Smit eers aan haar wou verduidelik dat hy bloot sy plig gedoen het, beëindig hy die gesprek nou kortaf. As sy verder wil sukkel met die seun, is dit haar saak. Maar vir Hein Brynard is daar nie meer plek in sy skool nie.
“Goed, doktor. U weet nou wat aan die gang is. Ek is jammer oor wat gebeur het, maar my hande is afgekap. As u my mag nodig kry, bel gerus.”
“Dankie. Ek sal. Tot siens.”
Louwda plaas die gehoorbuis terug op die mik, laat haar kop tussen haar hande sak. Daar is ’n gevoel van frustrasie en vergeefsheid in haar.
Hoe breek jy deur ’n muur? Hoe bereik jy ’n mens wat hom vir jou toesluit? Hoe dring jy deur tot die diepste wese van ’n mens as hy dit nie vir jou wil oopmaak nie? Drie weke lank het Hein Brynard na haar kantoor gekom. Drie weke lank het sy probeer om hierdie jong seun op elke denkbare en ondenkbare manier te bereik, te probeer peil – maar vergeefs. Hein het ’n geslote boek gebly. Hy het geweier om oop te maak.
Hy het net na haar gekyk met daardie groot bruin oë – meestal uitdrukkingloos. Net soms, veral wanneer sy van sy ma of pa melding gemaak het, het iets in sy oë verskyn – iets wat haar vertel het: hiér is die kern van sy probleem. Dit lê by sy huis. Dis sy pa, sy herinneringe aan sy ma. Maar geen woord het oor die strak lippe gekom nie. Elke keer moes sy hom uit haar spreekkamer sien stap met die wete: sy het nie een enkele tree gevorder nie. En toe, netnou, die oproep en die skoolhoof se apologetiese stem.
“Hein is weer gevang. Hy het wéér dagga op die skoolterrein gerook.”
Dis ongelooflik. Sy het verslae geluister. Sy wou dit nie glo nie. Sy kón nie, maar sy moes dit aanvaar. Sy ken Eben Smit. Daar het al dikwels probleemgevalle uit sy skool in haar spreekkamer beland, al is hy die hoof van een van die grootste en onbetwisbaar gewildste skole in die stad.
Die feit dat jou pa ’n titel voor sy naam het, in ’n verdiepinghuis bly en drie of vier motors in sy motorhuis het, vrywaar jou nie van die probleme van die gewone mens nie. Dit het die lewe haar al geleer.
Daarby is hulle in daardie ryk buurt juis dié met die grootste probleme. Maar hulle kan dit wegsteek. Die arm man kan sy probleme nie so maklik wegsteek nie. Geld is ’n baie goeie dekmantel vir tekortkominge en foute in die lewe.
Sy durf die skoolhoof dit nie kwalik neem dat hy sy voet nou dwars gesit het nie. Sy weet hy het eintlik geen ander keuse gehad nie, anders sou hy in die moeilikheid beland, soos hy tereg gesê het. Hy het honderde ander leerlinge om ook in ag te neem en elkeen van hulle het ook ouers.