Woestynwysheid. Ronell Bezuidenhout
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout страница
Woestynwysheid
Ervaar God opnuut
Ronell Bezuidenhout
Lux Verbi
Voorwoord
Motivering
Hierdie boek is gebore na aanleiding van ’n enkele sinnetjie van ’n middeljarige, Afrikaanssprekende man, ’n pa van twee kinders. Hy kan die gemiddelde man wees wat jy op die snelweg op ’n Maandagoggend langs jou sien verbyry, in sy netjiese gesinsmotor, netjiese donker pak, op pad werk toe. Sou jul paaie dalk êrens toevallig kruis, sou jy uit sy gesels aflei dat hy ’n belese en berese man is. Iemand wat jy graag om jou etenstafel sou wou hê omdat hy interessante geselskap is. Die tipiese moderne stedeling. Wat hom dalk bietjie uitsonderlik maak, is die plek waar hy homself bevind het toe hy dié sinnetjie gesê het. Dít is, helaas, nie die gemiddelde, middelklas-Afrikaanssprekende manlike stadsbewoner se “standaard”-naweekaktiwiteit om homself op ’n Sondag, laatoggend, in ’n kring saam met sewentien relatief onbekende vroue en nog ’n enkele man te bevind nie.
Daar sit die twintig van ons, op stoele in ’n kring gepak, reflekterend oor die naweek se saamwees wat besig is om ten einde te loop. Ons gespreksonderwerp: “Wat die naweek vir jou beteken het”. Ek het ’n groep van negentien mense vir ’n “naweek van stilte” na ’n retraitesentrum in die hartjie van Johannesburg geneem en vir die eerste maal kry die groep geleentheid om na mekaar te luister. Dan kom die man aan die woord. Die vertrek is doodstil, want toe hy begin gesels, is hy skielik weemoedig. ’n Stem vol emosie. “Hoekom moes ek só oud word, voordat ek hierdie ‘goed’ ontdek het … hoekom het niemand my al voorheen hiervan vertel nie?”
Dat hierdie naweek só ’n reaksie kon ontlok! Maar dit was nou ook nie juis ’n gewone naweek nie: stilte, lang alleentye van sit op ’n sementbankie in ’n loofryke tuin, tye van groepmeditasie, gesprekke oor vergete geloofsdissiplines wat ons weer wil inoefen, koormusiek in ’n kersverligte kapel, of sommer net kop onderstebo loop – ingedagte – net met jouself as geselskap, gefokus op jou hartklop. Kon hierdie drie dae soveel emosies loswikkel? Gelyktydig deel hy, ’n besige sakeman, sy dankbaarheid oor die “tot rus kom” van sy gejaagde lewe. Maar daar is ook teleurstelling: “Waarom so lank moes wag?” Kon die proesel van die mistieke nie al vroeër by hom aangemeld het nie?
Dáárdie oggend, met dáárdie sinnetjie, het ek geweet, dit moenie nodig wees vir mense om so lank te wag nie. ’n Lewe van stilte en eenvoud en afsondering – of noem dit bloot ’n lewe van innerlike verdieping of ’n lewe van heelheid – is vir almal bedoel, nie net vir ’n handjievol monnike of nonne êrens in ’n klooster nie.
Daar was ’n tweede motivering waarom ek oortuig was dat hierdie boek geskryf moes word: In my persoonlike ruimte is die meeste van my vriende nie meer “kerkmense” nie. Nie noodwendig post-Christelik nie, maar beslis postkerklik. Ja, van die eksodus uit die kerk hou die media ons (vingerswaaiend) op die hoogte. Sommige mense wat deel van die hoofstroom-kerke was (met ander woorde, die tradisionele drie susterskerke) het vir hulself ’n tuiste gaan vind by meer charismatiese kerke. Maar die meerderheid het bloot wegbeweeg van die kerkgronde af. “Kerk doen dit nie meer vir my nie,” hoor ek gereeld om my eetkamertafel as ons oor hierdie onderwerp praat. Dit beteken nie dat moderne mense minder spiritueel is nie, want die behoefte om na te dink oor God het (ten minste in my vriendekring) nie minder geword nie. Inteendeel. Daar is steeds ’n soeke na helderheid, maar nie meer die “kerk se helderheid” nie – nou moet dit ’n “eie helderheid” wees. (Ja, natuurlik sou ons teoloë en predikante dadelik kon argumenteer dat dit ’n “tipiese” teken is van die sogenaamde “selfgesentreerde individualisme” van die tyd waarbinne ons leef. Maak nie saak hoe ons daarteen protesteer nie, al wat gebeur is dat, as ons nie luister nie, die stroom van “postkerklikes” net al groter raak …) Kerk “doen” dit net nie meer vir mense nie …
Postkerklikes
Hierdie boek is veral vir daardie “postkerklikes” geskryf. Mense wat selde Sondae ’n erediens bywoon en tog ’n naweek van stilte in ’n ou retraitesentrum bywoon. Self kan ek nie anders as om vanuit die Christelike tradisie te skryf nie, want dit is die geloofstradisie waarbinne ek (ten spyte van al my kritiese vrae …) vir myself betekenis en sin gevind het. Die wyshede wat in hierdie boek vanuit die Christendom kom, sal jy wel in elke ander geloofstradisie kry. Die Christendom het, helaas, nie alleenreg op wysheid nie! Ek voorsien dat daar, vanuit meer behoudende Christelike kringe, baie kritiek teen sommige stellings in hierdie boek kan wees. Sommige dalk geregverdig en daarna sal ek luister. Maar ek weet ook dat hierdie boek gevoed is vanuit ’n reservoir van twintig jaar se nadenke as ’n teoloog en terapeut (… asof dit nou meer waarde dra as bloot “twintig jaar se nadenke as ’n mens”… maar, dit ook, ja!). Ek het moeite gedoen om hier en daar perspektiewe van ander gelowe in te voeg. Die meerderheid plekke waar ek egter nie iets ingevoeg het nie, is oorwegend omdat ek self daar onkundig is aan die rykdom wat gelowiges uit ander godsdienste my sou kon bied. Dit is my verlies! Ek leer steeds ál meer en meer van die Soefi’s; die Joodse mistici; die Boeddhisme en Hindoeïsme; die mistici van tradisionele Afrika-spiritualiteit. Nee, dit maak my nie “minder” Christen nie; dit maak my verwondering oor ons gedeelde menswees en ons “sug na God” wel groter!
Lewe van eenvoud, stilte en afsondering
Die geloofsdissiplines waar stilte, eenvoud en afsondering “ingeoefen” word om die stem van die Mistieke tussen al die magdom stemme in die wêreld te leer onderskei, is dissiplines wat in alle gelowe ingeoefen word. Selfs, sou jy jou nie as gelowig binne ’n sekere tradisie beskou nie, sal enige sielkundige of dokter jou leer van die waarde van “tot rus kom”. Dit is nie ’n “moderne” tendens van “moderne” en “gesekulariseerde” mense wat net oorwerk is wat skielik na ’n lewe van stilte en afsondering en eenvoud verlang nie. Dit is ’n menslike behoefte wat van die vroegste tye teenwoordig is. Dit is juis na die “vroegste tye” waarheen hierdie boek se wortels groei om water en voeding te gaan soek: die eerste vier eeue van die Christendom, wat bekend staan as die “woestynperiode”. ’n Tyd wat gekenmerk is deur veral ’n intense soeke na ’n lewe van eenvoud, stilte en afsondering.
Hierdie boek is bedoel om ’n lusmaker te wees om meer te ontdek van die wyshede van hulle wat as die “deurleefdes” beskou word – hulle wat net een verwagting gehad het, naamlik om verenig met God te leef. Wêreldwyd is daar, soos jy in hierdie blaaie sal ontdek – met goeie motivering – ’n hernude belangstelling in die “ou” geloofstradisies. Hopelik stimuleer die bekendstelling aan ’n paar oorwegend onbekende name van daardie tye ook jou belangstelling.
Woestynwyses
As jy dus iemand is wat “meer” soek; wat aanvoel dat daar ’n Groter Realiteit is as die alledaagse materie wat ons om ons sien; wat ’n behoefte het om die Mistieke (wat sommige van ons ook “God” noem) te leer ken, stel ek jou in hierdie boek voor aan ’n paar mense van die vroegste eeue wat ook daardie behoefte gehad het, en die realisering daarvan ervaar het. Nie alle soekers na die Mistieke is noodwendig van die eerste eeue se mense nie (soos byvoorbeeld Antonius, Benediktus en Sinkletika wat weldra in die blaaie van die boek meer bekend gaan word). Deur alle eeue heen het mense se soeke en hul opgeskrewe wyshede vir die geslagte ná hulle weer antwoorde voorsien (daarom stel ek jou byvoorbeeld voor aan die Engelse mistikus Julian van Norwich, iemand wat baie ver van ’n woestyn geleef het, en tog die woestynwyshede in haar lewe ingeoefen het, etlike eeue ná die woestynperiode). Selfs in ons moderne era kom jy “woestynwyses” teë, lank nie meer beperk tot die bekende kontinente van antieke Europa en Noord-Afrika nie. So ook byvoorbeeld die Noord-Amerikaanse teoloog en priester, mistikus en digter van die twintigste eeu, Thomas Merton, wat jy teen die einde sal ontmoet. Maak ’n mens jou oë oop, dan sien jy hierdie mense daagliks om jou. Mense wat “anders” leef en dink en doen. Oefen jy die geloofsdissiplines