Donna en die droomman. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Donna en die droomman - Anita du Preez страница 6
Geen wonder haar wange het so styf gevoel nie. Sy dog dis oor sy heeltyd ’n glimlag moes forseer. En dit was nie deernis of begeerte wat sy by hom gesien het nie, so graag wóú sien nie. Sot wat sy is. Ag, liewe genade … sy …
“Dis darem nie só erg nie, Donna.”
“Jy verstaan nie, Jayd. Dit ís. Ek het heeltyd so gelyk terwyl Karen en haar nuwe Pieter hier was. Soos ’n verdomde Dalmatian. Nee, soos ’n frieskoei! Ek skaam my dood.”
“Het niemand iets gesê nie?”
“Nee. Ja. Ag, ek kan nie onthou nie.”
“Weird.”
“Nee, dis tipies onse Karen. Als is mos vir haar snaaks. Hulle sit seker nou nog iewers en lag.”
“Ag, dis darem nou nie so erg nie.” Sy kan sien Jayd probeer hard om sy glimlag weg te steek.
“Luister! Moenie jy ook nog … ” Donna voel hoe haar oë begin traan.
“Hei! Kom nou, girl, bogger hulle.”
Sy snuif hard en vee haar neus met haar mou af. Daar sit modderstrepe op die ligte materiaal.
“Kom nou. Jy’s fabulous en hulle is net jaloers. Oukei? Gaan was gou jou gesig. Ek maak vir ons tee, dan vertel jy ááálles vir oom Jayd.”
“Begin nou by die begin, Donnatjie,” sê Jayd fronsend toe sy ’n rukkie later met ’n silwerskoon gesiggie langs hom op die rusbank kom sit.
“Wel … dis eintlik alles jou skuld.”
Hy tik haar liggies op die knie.
“Natuurlik, girl. Ek is persoonlik verantwoordelik vir die moleste in die parlement, beurtkrag en Aldo se skoenpryse. Ek weet.”
“Wil jy hoor of wil jy nie hoor nie, Jayd?”
“Ek is die ene ore.” Hy kruis sy bene en trek die teepot nader.
“Daar’s nie veel om te vertel nie. Ek het vergeet van die moddermasker aan my gesig nadat ek daarmee aan die slaap geraak het.”
“En toe kom Karen met die nuutste boyfriend hier aan, en jy nooi hulle vir koffie?”
“So iets, ja.”
“Nee, kom nou, Donna. Ek kan mos sien daar is nog juicy stukke wat jy uitlos. Spill the beans, girl. Dit help altyd.”
“Wel … ek het Karen se nuwe Pieter tevore al ontmoet.”
Jayd sit sy koppie neer en skuif nader. Sy wenkbroue is vraend gelig.
“Die openingsaand van jou Kannemeyer-uitstalling as jy moet weet.”
“En?”
“En … wel … ek … nee.” Sy haal diep asem. “Hý het my buite op jou stoep gesoen.”
Jayd sluk sy asem hoorbaar in.
“Ek glo dit nie. Sommer net so?”
“Ek kan dit self skaars glo. Maar dis oor ek al daai wyn van jou moes …”
“Nou onthou ek. Jy’t skielik stoep toe verdwyn net toe professor Olivier se speech begin het. Ek dog jy kry maar net weer daai gewone benoudheid van jou. Maar ek het darem gewonder wat …”
“Ek weet. Ek is jammer.”
“Jammer, schmammer, vrou! Vertel, vertel. Was dit lekker? Het julle ge … ?”
“Ja, dit was. Absolutely amazing en néé, natuurlik nie, Jayd. Net gesoen.”
“Ek wou net sê.” Hy vat nog ’n versigtige slukkie tee. “En toe?”
“Toe kom mense buitentoe om te rook, en skrik ek en storm weer in om my handsak en my bril te kry en toe ry ek huis toe.”
“So, dís wat gebeur het. Ek wou nog altyd weet wat regtig daai aand van jou geword het. Ek het nie jou storie van die hoofpyn geglo nie, maar dinge was so dol met al die VIPs daar. En toe?”
“Toe niks. Toe daag Karen vanmiddag hier op met haar nuwe ietsie.”
Jayd hyg weer na asem: “En toe is dit hý?”
“Uhu.”
“Oh. My. Word. En toe?”
“Toe niks. Hy’t gemaak of hy my nie onthou nie. Toe hou ek ook maar my pose.”
“Siestog. Hoe aaklig vir jou!” Jayd skink nog tee in en hou die bordjie koekies vertroostend na haar uit.
“Omtrent.” Donna snuif sommer weer van voor af.
Jayd sit skielik orent. “Obviously het hy jou nie herken nie, girl!”
“Dink jy ook so?”
“Natuurlik. Jy was dan die ene modder.”
“Moet my nie nog herinner nie. Vol bruin kolle soos ’n Spur-rusbank.”
“Wel, dink só daaraan: Jy kan besluit wat jy nou daaromtrent wil doen.” Hy beduie wyd hoeveel keuses sy skielik het. “Stay under the radar. Fly low. Keep a low profile. Suss things out. Maybe he’s the scumbag of all scumbags, en dan was dit jou lucky escape.”
“Miskien is jy reg.”
Donna stop ’n soetkoekie sommer heel in haar mond.
“Maar … hoe het Pieter… ?” Donna hou haar hand voor haar mond om die krummels te keer. “Ek kan nog nie glo sy naam is actually Pieter nie. Anyway, hoe de duiwel het dieselfde Pieter met wie ek so gekafoefel het by Karen se salon beland?”
Jayd frons diep. “Nee, o heng, hoe moet ek weet? Fate?”
Op Jayd se aanbeveling gaan tap Donna vir haar ’n skuimbad toe hy uiteindelik huis toe is. Sy is skaars behoorlik geweek toe haar deurklok weer lui. Waddejoos? Was haar middag nie erg genoeg nie? Sy draai die warm kraan met haar groottoon verder oop en probeer weer in die zone kom, maar die persoon by die deur het geen genade nie.
As daar nou een ding is wat sy nie kan verdra nie, is dit mense met slegte tydsberekening wat met ’n ongeduldige vinger op haar dêm deurklok lê. Sy klim haastig uit en pluk nat-nat haar ou handdoekstofkamerjas van die stoel af en draai dit brom-brom om haar lyf. Vandag is die dag, besluit sy, dat sy daai bergie se dun nekkie gaan omdraai. Hy kan mos nie haar lewe so versuur nie? A nee a!
Dis reeds sterk skemer buite, sien sy deur die gangvenster toe sy verby storm. Sy kyk hierdie keer eers deur die loergaatjie voordat sy oopmaak.
Hý.
Pieter.