Eva se appel. Jacolet van den Berg
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eva se appel - Jacolet van den Berg страница 5
Hein buk en leun by Mari se deur in. Leah hou hom angstig dop.
“Die nooddienste is op pad,” verseker die ouer man haar, en haar arms sluit vaster om die twee kinders.
Hein het Mari teen die sitplek teruggedruk sodat sy gemakliker sit. Haar oë is steeds toe. Leah voel hoe spanning haar lyf snaarstyf trek.
“Is daar iemand wat jy wil bel?” vra die oom.
Leah knik. “My pa.” Die woorde is skaars ’n fluistering, want sy is bang sy bars in trane uit as sy haar stem enigsins verhef. Iemand sal saam met Mari hospitaal toe moet gaan, en iemand anders sal na die kinders moet omsien.
Gideon is nou rustig teen haar bors. Leah verskuif effens sodat sy die aangebode telefoon by die oom kan vat. Sy bel nie dadelik nie omdat sy die nommer nie kan onthou nie. Dit vat ’n rukkie voor haar verstand die telefoonnommer oproep van die huis waarin sy grootgeword het. Haar vingers bewe toe sy dit intik met ’n gebed dat haar pa die foon moet antwoord en nie haar ma nie. Histerie is die laaste ding wat sy nou nodig het, eerder haar pa se besadigde, sistematiese manier van doen en reageer.
Bokant die luitoon hoor sy loeiende sirenes nader kom. Vir die eerste keer kyk sy na Mari se motor terwyl die skel sirene in haar ore eggo. Die voorkant is opgefrommel. Die groot viertrek se skade is opmerklik minder, dit staan skuins en remmerke lê swart op die teer. Nog bure staan nader om te kom hand gee. Ongelukke is mos ’n toeskouersport in Johannesburg.
“Middag?” Dankie tog, dis haar pa wat antwoord. Hy luister sonder om haar te onderbreek terwyl sy hom met rukke en stote vertel wat gebeur het. “Maak seker na watter hospitaal julle geneem word en SMS my. Ons kry julle daar. Dit gaan nie help ons jaag nou daar na jou toe nie. Ons is te ver.”
Die ambulans het stilgehou. Twee mans met 911 op die rugkant van hul donkerblou uniforms begin by Mari werskaf. Hein staan weg van die motor en kom hurk by Leah. Skok en jammerte staan in sy oë geskryf. ’n Nooddienswerker kom neem Gideon uit haar arms, en iemand lig met ’n flitsie in haar oë. Vaagweg is sy bewus van hande wat oor haar beweeg. Sy sien Hein nog ’n oomblik bekommerd agter die paramedikus huiwer voor hy terug na die motor draai.
Toe word Mari uit die motor getel en op ’n draagbaar met ’n stut om haar nek na die ambulans weggestoot.
“Die ander bestuurder?” vra sy toe die vrou ’n noodkombers om haar en Gideon vou. Sy kry nie koud nie, maar om Gideon se onthalwe verduur sy dit.
“Hy makeer niks. Jy en die kinders ook. Dis net skok, maar julle sal saam ongevalle toe moet gaan om doodseker te maak. Is daar iemand wat ons vir jou kan bel?”
“Dankie, ek het reeds.”
Hein gaan saam met hulle hospitaal toe en al praat hulle nie veel nie, put Leah oneindige vertroosting uit sy nabyheid. Skielik is hy die bekende in die geharwar. Maar toe raak ook hý weg terwyl iemand haar ondersoek . . .
Verwarring stoot opnuut oor die newels in haar bewussyn.
Die hospitaalgange is stil toe Leah en die kinders eindelik gevrywaar word en huis toe kan gaan. Haar ouers neem die twee kleintjies ook na Leah se huis omdat hulle in elk geval daar sal oorbly tot Mari uit die hospitaal ontslaan word. Nadat Lika kleintyd ná ’n kuier by haar grootouers soos ’n hippie, met geverfde naels en gegrimeerde blommetjies op die lyf, huis toe gekom het, is Mari versigtig om die twee in haar ma se sorg te los. Haar ma het in elk geval alle kredietwaardigheid by haar oudste dogter verloor toe hulle haar twee jaar gelede met ’n daggazol tussen die vingers saam met die tuinier betrap het.
Mari het so ’n bohaai opgeskop dat Leah haar hande vol gehad het om haar suster te kalmeer. Dít terwyl haar ma die petalje doodluiters van die tuinbankie dopgehou het en toe gevra het of sy vir hulle groen tee kan gaan maak.
Later het sy verduidelik dit was sommer op die ingewing van die oomblik en vir die snaaksigheid daarvan dat sy die tuinman gevra het om vir haar ook ’n zol te rol. Sy wou uitvind waaroor die bohaai gaan en of dit regtig medisinaal is.
Mari het haar kop net geskud en haar ma gebrandmerk as onbevoeg en te onkapabel om sonder toesig na haar kinders te kyk. ’n Paar koppe het nie verniet vanaand by die ongevalle se ontvangs gedraai nie. In hierdie kritieke tyd kon Leah nie anders nie as om te dink aan die woorde van Valiant Swart se liedjie: “Sy dra te veel eyeshadow . . .”
Leah stap stywerig na die algemene mediese saal waarheen Mari geneem is.
Die suster by die ontvangstoonbank beduie haar na Mari se kamer, met ’n vermaning dat besoektyd amper verby is.
In die deur van kamer 2B steek Leah vas. Langs Mari se bed sit Hein Malherbe. Hy lyk werklik ontsteld, en daar is ware meegevoel op sy gesig. Was dit nou regtig nodig dat hy hierheen moes kom?
Maar toe sy haar blik na Mari draai, kramp haar hart in haar borskas. Dit lyk asof haar suster as verloorder uit ’n boksgeveg getree het. Daar is ’n lang pleister oor haar voorkop en ook op haar opgehewe wangbeen. Rooi snyplekkies ontsier haar andersins egalige vel. Die blou rondom haar oogkaste laat die oë gesonke lyk. Haar linkerarm is in gips, maar die res van haar lyf blyk ongeskonde te wees.
Mari sien haar in die deur en glimlag effens. Hein volg Mari se blik en staan op.
Leah probeer glimlag, maar die poging is power.
“Hoe voel jy?” Hy kom nader, steek ’n paar treë van haar vas en bekyk haar ondersoekend.
“Ek is oukei, dankie. ’n Ligte pyn in my gewrig, maar hopelik niks wat môre nog hier gaan wees nie.”
Hein lyk opreg verskonend. “Ek is so jammer, Leah. As daar enigiets is wat ek vir jou kan doen, moet jy asseblief net vra.”
“Alles is onder beheer. Vir nou.”
“Ek moet gaan. Besoektyd is seker amper verby, en jy moet ook rus.” Hy loop weer om die bed. Gee Mari se gesonde hand ’n ligte drukkie. Die gebaar, hoe onpersoonlik ook al, gooi Leah se gedagtes momenteel omver. Sy vervies haar sommer. Hein Malherbe is vir haar en Mari ’n vreemdeling, en sy kan nie eers begin om die gevoel wat in haar woel te verwoord nie.
Hein kom staan in die deur langs haar en sit sy hand bemoedigend op haar skouer. “Onthou, ek is net anderkant die muur as jy my nodig kry.” Hy kug liggies. “Ek is bly jy het nie seergekry nie.”
Sy luister nog ’n oomblik hoe sy voetstappe in die gang verdwyn voor sy langs Mari se bed gaan sit. “Hoe gaan dit hier? Jy lyk maar oes.”
Mari sit haar gesonde hand teen haar kop asof sy die omvang van die pyn probeer bepaal. Sy skud haar kop liggies. “Nie goed nie. My kop wil bars, en my arm gaan ses weke in gips wees. Hoe ek die kinders en die werk so sal hanteer, weet ek nie. Boonop gaan ek littekens op my gesig hê.” Haar stem kraak.
“Die arm gaan gesond word, en ek is daar om jou te help met die kinders en rondry. En ons weet nog nie of daar littekens gaan wees nie. Gee die wonde eers kans om gesond te word.” Leah probeer bemoedigend wees.
“Die dokter in ongevalle het my voorberei. My kop het die voorruit sleg getref. Ek het harsingskudding en gaan ’n aand of twee moet oorbly.”
“Die