Eva se appel. Jacolet van den Berg
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eva se appel - Jacolet van den Berg страница 6
“Ek is.” Leah kyk op haar horlosie. “Pa sal seker enige oomblik hier wees om my op te laai.” Sy gee Mari ’n soen teen haar slaap. “Ek hoop jy slaap goed en voel môre beter.”
“Leah.”
In die deur draai sy terug na Mari.
“Ek is jammer ek het nie gekyk waar ek gery het nie.”
Leah loop weer terug na die bed. “Dit was ’n ongeluk wat met enigeen kon gebeur het, Mari. Ek en die kinders is ongeskonde. Jy moet nou net vinnig beter word.”
Lusteloosheid druk Leah teen die kussings vas. Die dowwe klopping in haar gewrig word dringender namate die pynmedikasie begin uitwerk. Oomblikke lank luister sy na haar eie asemhaling. Die kinders slaap rustig in hul kamers. Haar ouers is huis toe kort nadat sy van die hospitaal teruggekom het.
Sag blaas sy haar asem oor haar lippe in ’n poging om haar rustiger te stem. Sy kan nie so hier lê terwyl daar ’n magdom goed is wat sy moet doen nie. Duiseligheid oorval haar toe sy vinnig opspring . . . en sy sak terug op die bed. Sy het nog nie iets geëet of gedrink nie. ’n Koppie koffie en toebroodjie is waarvoor sy nou lus het. Toe die bewing haar lyf verlaat, skakel sy die bedliggie aan. Haar linkerskouer is gevoelig. Sy trek die bandjie van haar slaaphempie weg om ondersoek in te stel. Die rooiblou merk is ’n duidelike bewys dat die sitplekgordel sy werk gedoen het.
Sy sluip verby die kinders se kamers, bang sy steur een van hulle. Terwyl die ketel kook, maak sy ’n toebroodjie. Sy sal dit sommer in die ateljee by haar werkbank eet.
Toe die broodjie op is en die koppie leeg, skuif sy dit eenkant toe. Met haar een hand streel sy oor die werkoppervlak. Dis hier waar baie van haar drome waar word. Sy is diep dankbaar dat dit nie háár arm is wat in die slag gebly het nie. Wat sou sy sonder haar hande doen?
Dis skuins ná elf, maar sy steur haar nie aan die tyd nie. Opwinding tintel deur haar toe sy die sketsboek voor haar oopslaan. Sy begin skets en die geluid van potlood op papier kalmeer haar. Die ritmiese girts-girts troos haar en laat haar vir ’n oomblik van Mari in die hospitaal, die kinders in haar huis en die buurman vergeet. Maar die skets wil nie vorm aanneem nie. Haar gedagtes dwaal terug na haar buurman wat so voorbarig was, of dalk is hy werklik net gaaf en behulpsaam, om hom deel van die middag se gebeure te maak.
Eindelik sit sy die potlood neer. Sy vee liggies oor die skets. Haar vingerpunte voel die merke wat die grafiet agtergelaat het. Die skets is net rofweg en kort nog heelwat afronding, maar dis wat sy nodig het om aan ’n beeld gestalte te begin gee. Mari en die kinders sal ook vir haar moet poseer. Die hoek van die lyne moet akkuraat wees sodat die postuur lewensgetrou is.
Leah sit die sketsboek op die esel en staan ’n ent weg om dit te bekyk. Die arms van die vrou wat oor haar kinders buig, is koesterend. Sy is ’n sterk vrou; die kinders lyk tingerig met gesigte vol hoop. Haar hande is opvallend sensitief. Hande wat heelmaak.
Hande gaan ’n belangrike rol in hierdie uitstalling speel. Haar buurman het intelligente hande. Miskien moet sy hom vra of hy model sal speel sodat sy sy hande kan skets.
Maar Leah kry dadelik lag oor die lawwe gedagte. Sy sal nie die moed hê om hom te gaan vra om vir haar te kom poseer nie. Hy sal dink sy is van haar lotjie getik. Dit sal minder moeite wees om eerder ’n student te huur wanneer sy een nodig kry.
Dit voel vir Leah asof sy haar oë skaars toegemaak het toe Gideon se gehuil haar wakker maak. Die son is op en dis inderdaad opstaantyd.
Haar lyf voel swaar toe sy in die gang af stap om Gideon uit die opslaanbedjie te gaan haal. Sy sit ’n breë glimlag op en loop geselsend met hom kombuis toe om melk vir hom te gaan warm maak. Sover sy kan onthou, is dit wat soggens gebeur. Maar dinge verander ook so vinnig, mens weet nooit wie drink wat en wie eet nie dit of dat nie.
Lika kom die kombuis ingedrentel en staan langs haar terwyl sy die melk aanmaak.
“Môre, Lika. Het jy lekker geslaap? Jy is seker honger. Ek het nog van daardie pap waarvan jy so baie hou.”
“Wanneer kom my ma huis toe?”
“Seker eers môre. Ons sal later gaan hoor. Eers moet ons julle twee regkry vir skool.”
Lika trek ’n suur gesig en plak haar op die kombuisstoel neer. “Ek het gedink dis gister Vrydag.”
Leah lag. “Jy is reg, jou slimkop. Amper stuur ek julle twee op ’n Saterdag skool toe.”
Lika dink blykbaar nie dis snaaks nie.
Sy kyk na Gideon wat stoei met die bottel, maar niks drink nie. “Wat is fout, jong? Wil jy nie melk hê nie?”
“Hy drink nie warm melk nie.” Lika gaap en skuif haar gemakliker op die stoel.
“Van wanneer af?” Leah druk die bottel weer in Gideon se mond, maar dié weier om te suig. Sy gooi tou op.
Lika haal net haar skouers op.
Nadat Leah koue melk aangemaak het, skep sy vir elkeen ’n bordjie pap in. Sy laat Gideon op haar skoot sit sodat sy hom kan voer. ’n Hap of twee beland op haar broek, en sy moet koes of haar hare bly ook in die slag. Gelukkig is hulle almal nog in hul slaapklere.
Terwyl sy die twee al morsende help eet, probeer Leah ’n plan bedink hoe sy vandag gewerk gaan kry. Daar is ses beelde wat haar aandag dringend vereis en as sy betyds klaar wil wees, moet sy liefs aan die werk spring, veral omdat sy ander projekte ook nog tussendeur moet klaarmaak. Maar daar is heelwat wat vandag moet gebeur. Eerstens moet hulle vir Mari gaan besoek en dan sal hulle betyds vir middagete moet terug wees sodat Gideon sy middagslapie kan inkry. Verder vooruit kan sy nie beplan nie, met die kinders is daar net te veel onvoorsiene faktore.
Sy kyk na die oorgroot horlosie teen die muur langs die venster. Byna agtuur. Halftien sal seker ’n goeie tyd wees om hospitaal toe te gaan.
Met Gideon op haar heup spoel sy die bakkies uit en pak hulle in die droograk. “Kom jy saam, Lika? Ek gaan gou die koerant optel.”
Lika knik en stap woordeloos saam voordeur toe.
Die vars oggendlug vee oor Leah wat iets byna soos verligting ervaar. Sy weet nie waar die gevoel vandaan kom nie. Dalk voel sy ingehok in die huis omdat sy nie aan die werk kan spring nie, al brand die behoefte paaie deur haar lyf.
Die koerant lê in die oprit by die motorhek. Toe sy buk om dit op te tel sien sy die viertrek met die teruggebuigde bufferstaaf en skade aan die neus en kopligte voor haar buurman se huis staan.
“Kan ek jou bietjie neersit, Gideon?” Die seuntjie bied geen weerstand nie toe sy hom op die grond sit en hy wankelrig op sy beentjies bly staan. Nuuskierig maak sy die motorhek oop om die viertrek van nader te bekyk. Miskien het die voertuig se enjin ook seergekry, en het die eienaar dit eers hier gelos. Sy weet nie eers wat met Mari se motor gebeur het nie. Haar pa sal wel weet, en sy sal hom later vra wanneer sy hom sien. Hulle sal ook vanoggend hospitaal toe gaan.
Lika en Gideon bekyk die viertrek saam met haar.
“Is dit die kar wat in ons vasgery het?” vra Lika
“Ja. Ek kyk sommer hoekom dit hier staan.” Dis ’n duur viertrek, sy kan dit sien. Die skade aan die neus gaan seker ’n hele