Oase. Stefani Serfontein
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Oase - Stefani Serfontein страница 15
“Jong man / donker poniestert / donkerbril / oorfone / kou / tatoeëermerke op arms / grys kappiebaadjie.”
Langsaan is ’n skets van ’n verweerde vaalblou Renault en die identikitskets van die man met die kappiebaadjie, ’n hoodie, sê die jonges.
Daardie middag terwyl hy per trein huis toe ry, tuur Rassie ingedagte by die treinvenster uit. Sy voertuig is nou al ’n paar dae steeks en hy het besluit om sommer by die werk een van hul voertuie te gebruik en dan soggens en saans die trein kantoor toe en terug te neem.
Dit is byna sesuur en die stasie was besig met die pendelaars wat almal haastig op pad huis toe is. Gelukkig is dit nie ’n weeksdag nie. Dan is die treine meestal so volgepak dat hy gewoonlik eers ná sewe huis toe gaan. Hy het vinnig op die trein geklim en staan-ry sommer, deels omdat hy gril vir die vuil sitplekke en deels omdat hy op sy voete beter kan dink.
Terwyl hy al staande die Sarah-saak in sy kop probeer uitpluis, gaan die treindeure by die volgende stasie oop. ’n Kouende jong man in ’n grys hoodie skuur teen hom verby en gaan sit twee banke verder.
Rassie se kop ruk op. Kouende met ’n kappiebaadjie, het tannie Pearson die outjie beskryf. Kan dit nou toeval wees of die voorsienigheid? Deesdae loop al wat jong mens is mos met die hoodies rond en almal kou. Die jong man se gesig is weggesteek in die baadjiekap, maar die donkerbril wys duidelik.
Rassie frons en wonder of oorfone die prentjie sal voltooi. Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Sy jong dae as amateurtoneelspeler kom nou handig te pas. Hy strompel kastig na die sitplek langs die jong man en val-sit op die bank neer terwyl hy seker maak hy stamp só hard teen die man dat ’n gedeelte van die kappie afglip.
“Sjo-sjorrie!” sê Rassie met ’n oordrewe sleeptong, soos ’n dronkie, en kyk anderpad.
Sowaar, as dit nie hy is nie, is my naam nie Rassie nie, dink hy amper hardop.
Die een oorfoon het met die stamp uitgeval en uit die hoek van Rassie se oog het hy gesien hoe die outjie hom vreeslik wip, Rassie vies aankyk en die oorfoon weer in sy oor terugdruk. Onder die opgestote moue op die voorarm is ’n spinnekoptatoeëermerk.
Die jong man staar weer broeiend na die voorkant van die trein.
Rassie vroetel in sy baadjiesak en haal ’n ekstra Pay-as-you-go-foon uit. Hy hou dit altyd by hom vir noodgevalle.
Met ’n sleeptong vra hy die jong man om die foontjie by hom te koop vir drankgeld. Dié draai sy rug op Rassie.
Hy probeer weer: “Ag, boetie, sjee my dan net sjoo paar randjiesj vir ’n broodjie, groot assjeblief, man.”
Nou klink die versoeking om ’n foon vir net ’n paar rand te kry blykbaar net te verleidelik. Hy haal die een oor se luidsprekertjie stadig uit sy oor. “Do not beg with me. I’ll buy your phone, but just ten rand, okay? That’s all I have,” snou die jong man hom toe, trek ’n tienrandnoot uit sy broeksak en hou dit na Rassie toe uit.
“Sjo baie dankie,” sleep Rassie sy tong en gryp die tienrandnoot uit die man se hand.
Vinnig vat die jong man die foon, spring op en storm na die treindeur wat enige tyd kan oopgaan by Kaapstad se sentrale stasie.
Nou moet ek bid dat die man die foon sal hou en gebruik. Bid. Dis vreemd dat hy so gedink het. Hy los gewoonlik daai dinge vir vroumense en kinders.
Die selfoon is nie ’n duur een nie en Rassie hou dit vir noodoproepe wat niks persoonliks van aard is nie. Daar is ook geen gestoorde nommers op die foon nie. Die moontlikheid dat die man die foon sal verkwansel vir kontant is sterk. Rassie hoop dat hy die SIM-kaart sal uithaal en in sy eie foon sit. Daar is so ’n bietjie meer as sestig rand se beltyd op. Watter jong outjie sal dit versmaai. Rassie hoop die lugtyd is genoeg dat hulle sal kan naspoor waar hy is voordat die sestig rand opgebruik is.
Toe die treindeure by die stasie oopgaan, storm die jong man uit sonder om links of regs te kyk en verdwyn tussen die menigte mense wat huis toe stroom. Rassie reël vinnig op sy ander foon dat die SIM-kaart opgespoor word.
Die span se derde leidraad kom op Maandagoggend 20 Junie van ’n patrolliemotor. ’n Omie op ’n donkiekar wat vuurmaakhout in Khayelitsha aflaai, het een van die polisiestasies die vorige aand gebel om ’n vreemde vaalblou voertuig wat alleen langs een van hul paaie staan, aan te meld. Die oom was bang daar is dalk ’n motorbom in die karretjie. Hy sê hy hoor gereeld op die nuus van sulke dinge wat gebeur, toe bel hy maar.
Die vaalblou karretjie het langs ’n treinspoor skeef teen die oorkantse wal gestaan.
Forensies het dadelik vir Rassie laat weet dat hulle geen vingerafdrukke gekry het nie, maar hulle deursoek dit deeglik vir tekens van DNS.
Nadat die identikitsketse van die motortjie en die donkerbrilman vroeër daardie oggend aan alle polisiestasies uitgestuur is, kon Rassie met ’n sug van verligting vir Ari’el positiewe antwoorde gee toe hy teen tienuur by die opssentrum opdaag.
Die bloed op die strand was nie Sarah s’n nie.
“Eers die koerantberig en toe die geluk,” vertel Rassie peinsend vir Ari’el. “Sersant Wiese sê ek moet dit nie geluk noem nie, daar is nie so iets nie. Die voorsienigheid, het ek toe gemeen, maar hy sê dis die Vader in die hemel wat dit só vir ons beplan het. Ek weet darem nie of ’n Almagtige Skepper Hom só met my en my ou sakies sal bemoei nie. Daarvoor is ek te sondig. Dit was seker my dierbare vrou se gebede. Soos ek haar ken, sal sy sommer al die kinders en die hele buurt daarmee saam opkommandeer om te bid. Nou moet ons net die SIM-kaart en die foon se bewegings volg, en kyk of ons die nes kan oopkrap.”
Kaïro, kantoor van Die Drie Broeders
20 Junie 2011
Dit was nog nooit Groot Sadar, soos hy aan homself dink, se sterk punt om geduldig te wees nie. Hy kan vinnig praat, vinnig stap, vinnig baklei. Maar om te wag vir jongelinge wat jou sake dalk daar ver in Suid-Afrika kan opmors, daarvoor het hy glad nie die geduld nie.
Sadar storm uit die vertrek toe hy klaar is met die oproep uit Suid-Afrika. Daar is nog geen reaksie op die e-pos wat hy vanoggend uit die internetkafee in een van Kaïro se agterstraatjies gestuur het nie. Hy het dit omstreeks 06:00 gestuur, alhoewel hy weet dat die mense by die koerant eers 09:00 begin werk omdat hulle baie keer tot ná twaalf saans op kantoor is – die besige ure voor die koerant gedruk kan word. Kaapstad en Kaïro se tydsone is dieselfde. Vir wat sou die spul so aan die slaap wees?
Eers moes hy maar op die twee swakkelinge wat hy daar het, vertrou. Maar nou het hy sy eie dogter soontoe gestuur om te kyk wat aangaan en nou sal hulle sien.
Ja, dink hy minagtend, die Westerlinge dink verniet ons weet niks van hul sake af nie. Ons het oral oë en ore. Op elke kontinent. Dít is waarin my organisasie se sukses lê. En hulle noem ons verniet terroriste. Dis nie wat ons is nie. Ons is vryheidsvegters. Vir Islam.
En op die oomblik konsentreer hy, die leier, op die onregverdige oorlog in Jemen. Sy mense word afgemaai en dan loop die Ratels uit Suid-Afrika oor hulle kinders se liggame in die strate van Sana’a. Jemen se president Ali Abdullah Saleh sal saam met die Suid-Afrikaners betaal. Daarna sal hulle die spul rebelle en verraaiers van ons land voor stok kry, dink hy, van voor af kwaad, en stap heftig oor die vore en klippe in die stegie af na die internetkafee. Hy skop ’n blik wat in sy pad lê met mening.
Bewaar