Oase. Stefani Serfontein
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Oase - Stefani Serfontein страница 13
Laatnag skrik sy wakker. Dit is stikdonker om haar in die koue klipgebou. Sy hoor die naguiltjies buite roep en ver iewers die geruis van branders teen rotse. Haar lyf is seer en styf en sy kry koud. Die mooi was seker net ’n droom en haar voet is werklik seer van die koue en skeef lê. Die klotsende branders daar onder by die see troos darem en vergoed vir die verlange en eensaamheid wat haar hart in ’n ysterklem hou.
Hoofstuk 8
❧
Kaapstad, Spesiale Speureenheid
19 Junie 2011, 18:30
Inspekteur Rassie Erasmus tuur moedeloos voor hom uit. Hy sug hard en neem ’n sluk van sy koue koffie. Ja, koue koffie is seker sy straf omdat ek my huismense so afskeep, dink hy. Hy het nou twee aande nie eens by die huis gaan slaap nie, net hier op sy ver te klein kantoorbank ’n paar ure gekiep. Sy vrou is die beste een in die wêreld dat sy verstaan en hom nog nie wil los nie!
As daar net ’n deurbraak kan kom in hierdie tergende saak. Die arme Sarah. Leef sy nog? Hoe sou hulle haar behandel as sy nog leef?
Hy tel die boonste koerantberig op wat op sy lessenaar lê. Dit dateer 14 April 2010.
Suid-Afrikaanse vrou verdwyn, na aanval in Negev
Korrespondent uit Jerusalem.
Na ‘n lokval-aanval op ‘n verlate pad in die Negev-woestyn, suid van die woestyndorp Dimona, het ‘n tot nog toe onbekende vrou uit Suid-Afrika verdwyn; of sy ontvoer is weet die plaaslike polisie nog nie. Dit mag selfs Palestynse vryheidsvegters wees wat daarvoor verantwoordelik is. Die vrou se identiteit mag nie bekend gemaak word nie, berig SAPA, omdat dit haar lewe verder in gevaar kan stel. Sy het in Israel by vriende in die Negev kom vakansie hou, en was vermoedelik met ‘n gehuurde motor op pad na die vakansie-kusdorp Eilat, om verder te gaan uitspan. Haar uitgebrande, gehuurde voertuig is op die bogenoemde pad deur die Israelse weermag gevind. Van die vrou was daar egter geen teken nie. Forensiese deskundiges van Israel is blykbaar besig met die ondersoek. Waarom sy alleen gereis het, en waarom juis sý aangeval is, en wat die aard van haar beserings is, as sy nog leef, is tot nou toe nog duister, en Die Nuusblad kon geen ander inligting uit ons ander Israelse korrespondente kry nie. Waar sy haar nou bevind, is onseker, en haar familie en vriende was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Die Nuusblad, 14 April 2010
Hy lees weer die hoofopskrif hardop en toe die berig wat hy al uit sy kop ken. Swaar en styf van die lang stilsit staan hy agter sy lessenaar op en stap na sy aansteekbord. Hy druk die berig links bo met ’n duimspyker vas.
Inspekteur Rassie stap ingedagte terug na sy lessenaar en tel die volgende nuusberig op, gaan steek die tweede berig langs die eerste berig teen die aansteekbord. Hy staan ’n paar tree terug. Die spoor tot nou toe. Hy proes sinies omdat hy aan ’n spoor dink; “spoorloos” is ’n beter woord. Hy, Rassie Erasmus, wat altyd aan sy sersante sê daar is nie iets soos spoorloos nie. Hy staan voor ’n aansteekbord met geen feite nie, zilch!
Hy lees weer die tweede berig om te kyk of hy nie tog dalk iets misgelees het nie.
Kaapstadse vrou vrygelaat in Kaïro, na nagmerrie van ses maande
Ons verslaggewer in Kaïro
Tydens ‘n perskonferensie op die lughawe in Kaïro, is die raaisel oor die vrou uit Suid-Afrika, wat in April na ‘n terroriste aanval in die Negev-woestyn verdwyn het, gister onthul.
Hierdie dramatiese aankondiging is deur die Suid-Afrikaanse Ambassadeur in Egipte gemaak. Hy het vertel hoe die dapper Sarah Jacobs se nagmerrie uiteindelik verby is. Sy is volgens die Ambassadeur deur ‘n Rooikruis-taakmag tydens die vroeë oggendure by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Kaïro afgelaai. Sy is die einste Suid-Afrikaanse dame wat, ses maande gelede na ‘n lokval-aanval in die Negev-woestyn, verdwyn het.
Hamas, die Palestynse Bevrydingsbeweging het nie verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie, maar al die Vryheidsbewegings het sedertdien soos die graf geswyg oor, of en waar die bestuurder van die gehuurde motor, wat uitgebrand het in die aanval, nog lewe en waar sy aangehou is. Volgens me. Jacobs, was sy nie soos bespiegel is, deur Hamas gevange gehou nie, maar is verpleeg in ‘n spesiale kamp van die Rooikruis-taakmag, iewers in die gebied tussen Jordanië en Jemen. Me. Jacobs is ernstig beseer in die destydse aanval, waarna die Palestynse vryheidsvegters wat haar aangeval het gevlug het, toe die Rooikruis-taakmag op die toneel verskyn het. Me. Jacobs is ‘n navorser van die Instituut vir Woestyn-studies in Kaapstad.
Die Rooikruis se taakmag is in die Saoedi-Arabiese woestyn op die been gebring, om gewondes en beseerdes in die Jemense-burgeroorlog te help en te behandel. Die huidige Jemense regering en veral die rebelle, beskou hierdie Rooikruis-taakmag as onwettig. Die Rooikruis-taakmag beweeg in die woestyn-gebied van Saoedi-Arabië rond waar hulle kwasi “hospitaalkampe” in vriendelike areas tussen die Berbers en Nomade skaapboere oprig. Hulle was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Me. Jacobs het verklaar dat sy “uitstekend versorg is”, en het onder meer gesê: “Ek is oneindig dankbaar teenoor die vriendelike Rooikruis-taakmag, wat my met geduld en vriendelike versorging, verpleeg het.” Op ‘n vraag waar sy verpleeg is, het sy die volgende geantwoord: “Ek weet glad nie waar die kampe is nie; ons het in tente, in die woestyn gebly. Ek is dankbaar dat dit nou verby is, en sien uit om na Kaapstad terug te keer.” Geen verdere vrae deur die pers is toegelaat nie, en me. Jacobs is vinnig omring deur ambassade-personeel na die persverklaring. Sy is na ‘n spesiale wagkamer geneem, en sal een of ander tyd terugvlieg na Kaapstad. Die Oggendblad kon by verdere navrae, geen ander feite oor die saak uit die ambassade-personeel kry nie. Dit is onbekend watter lugredery me. Jacobs na Suid-Afrika sal terugbring.
Oggendblad 10 Oktober 2010
Al wat hy verder hier voor hom het, is ’n paar foto’s: van Sarah Jacobs, haar huisie en die straat waarin die huis is. Dit is ’n taamlike ou, gevestigde woonbuurt met klein, outydse huisies wat kiertsregop langs mekaar ingepak is. Ook op die aansteekbord is die papiertjie met die ou buurvrou se naam en besonderhede.
“Ja,” het die tannietjie gesê, “as die weer lekker is, sien ek haar die meeste Saterdagoggende douvoordag hier verby suiker met haar hond op haar hakke; pragtige Labrador, nè? Dan kom sy so ná ’n uur en ’n half weer terug. Klokslag, boetie, klokslag. Dis waarom ek dadelik die polieste gekontak het toe ek die arme hond bebloed daar by haar hekkie sien lê het.”
“Hulle moes haar weke lank dopgehou het,” mymer Rassie hardop.
Dokter Ari’el se naam, foto en selnommer is ook op die bord vasgesteek
’n Ander papiertjie sê: “Vaalblou karretjie en groen Duitse motor.”
Inspekteur Rassie tik-tik met sy pen teen sy kop. Was sy net weer agterlosig soos die vorige keer in die Negev-woestyn, of het sy ná daardie ervaring ’n les geleer? Waar sou sy wees? As sy dalk geskrik het en iewers skuilhou, moet hulle haar hond gebruik om haar terug te lei. Dalk werk dit, dalk net.
Hou hierdie twee sake verband met mekaar? Ja, volgens die Jemen-Joodse dokter. Vanmiddag toe Rassie met haar broer gepraat het, was hy baie ontsteld.
“Broer: Generaal Kobus Jacobs,” krabbel hy op ’n geel nota. “Voorheen Weermaghoofkwartier, Pretoria.” Hy skryf die Weermag se hoofkwartier