Oase. Stefani Serfontein
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Oase - Stefani Serfontein страница 8
Inspekteur Rassie haal sy selfoon uit sy sak, glip dit oop en druk met een haal die skakelknop op die foon. Toe iemand dadelik antwoord, blaf hy ’n paar vinnige bevele in die foon. Hy klap die foon weer toe en met sy groot liggaam en ongemaklike stap loop hy versigtig om die donker kol in die sand.
Die sand is omgeroei rondom die bloedkol. Die res van die strand lê vir kilometers gladgespoel deur laas nag se branders.
Kan dit ’n teken van ’n gestoei wees? wonder Ari’el.
Ari’el hoor ’n paar motors in die parkeerarea stop, en inspekteur Rassie maan die uniformmanne om versigtig te trap. Almal spring dadelik weg met ’n taak. Sommige neem die vingerafdrukke, ander die buitebandafdrukke. Een polisieman neem foto’s en toe die hele area ook met die geel polisielint afgesper is, sug die inspekteur hoorbaar. ’n Polisievrou in siviele klere praat sag met die twee snuffelhonde by haar. Hulle ruik aan ’n serp wat sy vashou en begin die spoor strandlangs vat.
Ari’el se hart klop benoud. My liewe Saartjie. Waar is jy? Het hulle jou gevang, dalk ontvoer? Lewe jy?
Weer eens bid hy in sy binneste dat hul Abba Vader haar sal beskerm, waar sy ook al is. Op die oomblik is sy hande afgekap en dit is beter dat hy vir die oomblik die ondersoek aan die bekwame hande en honde om hom oorlaat sodat hy so gou as moontlik kan hoor wat hulle dink.
Hy kyk gefassineerd hoe die deskundiges letterlik elke duim van die area fynkam. Die polisiehonde het duidelik ’n spoor gekry en storm na ’n area langs die rotse. Daar gaan staan hulle, gaan sit en kyk tjankend op na hul hondemeester. Die inspekteur blaf weer ’n bevel en een van die forensiese manne hardloop haastig na die area waar die honde sit. Ari’el stap agterna. Daar is ’n enkel ry spore in die nat sand, sportskoenspore, voete so klein soos Sarah se voete wat hy so goed leer ken het – geen hondespore nie. Waarom was haar hond nie by haar nie? Waarom het haar hond haar vervlaks alleen na die rotse laat loop? Honderde vrae maal deur Ari’el se kop.
Inspekteur Rassie roep na Ari’el en hy draf terug trappies toe. Hy spring die trappies twee-twee uit en toe hy bo kom, het die inspekteur al ingeklim en die karretjie se sleutel gedraai. So gou Ari’el in is, trek inspekteur Rassie met ’n spoed weg. Ari’el brand om liewer op die strand agter te bly en te hoor of hulle nie nog leidrade kry nie. Maar hy voel aan sy binneste dit gaan nie so eenvoudig wees nie.
“Ek neem jou saam sodat ek by jou ’n verklaring kan afneem. Ek is agterdogtig oor jou skielike verskyning op hierdie vreemde oggend. Ek hoop nie jy het iets met haar verdwyning te doen nie.” Die Inspekteur se stem is bars. “Ek wil alles weet. Ek ruik ’n rot in hierdie saak.”
Ari’el weet nie waar om met die storie te begin nie. Die inligting wat hy het, kan noodsaaklik wees vir die ondersoek om Sarah op te spoor. Maar hoeveel is hy bereid om met hierdie Suid-Afrikaners te deel? Dalk is dit die beste om maar by die begin te begin. Hy haal diep asem en begin verduidelik. Die inspekteur gee hom weer nie kans om meer as twee woorde te sê nie.
“Ek wil nie nou hoor nie. Jy gaan nou soos ’n soet seun jou storie mooi op papier vir ons neerskryf. Ek sal daarna toelaat dat een van die konstabels jou terugbring na jou fênsie ryding. En jy verlaat nie die stad sonder dat ek daarvan weet nie, gehoor,” dreig die inspekteur in sy Engels.
Hulle parkeer voor Sarah se huis waar alles nou doodstil en verlate is en dis net die geel polisielint wat in die ligte wind wapper. Ari’el se beskadigde huurvoertuig is die enigste een in die stil straat. Ari’el het gevra die inspekteur moet hom die geleentheid gee om sy rekenaarsak uit die vierwiel te haal.
Inspekteur Rassie maak ’n aanmerking oor die skrape aan die kant van die gehuurde SUV. Terwyl hul verder na Rassie se kantoor toe ry, vertel Ari’el vir Rassie van die twee motors wat hom van die lughawe af gevolg het en hoe die huurvoertuig beskadig geraak het. Rassie rek sy oë, maar lewer geen kommentaar nie. Hy knik net aanhoudend sy kop.
Hoofstuk 6
❧
Kaapstad, 18 Junie 2011
Ari’el probeer in die ry die inspekteur gerusstel en begin vertel hoe hy en Sarah verlede jaar ontmoet het.
By die kantoor aangekom, neem inspekteur Rassie Ari’el aan die arm en laat hom soos ’n regte krimineel op ’n houtbankie in die ondervragingslokaal sit. Hy plaas ook ’n folioboek en pen op die tafel voor Ari’el. “Gee maar jou rekenaarsak vir my, Dokter. Nou kan jy my alles op papier vertel. Skryf alles neer. Van hoe jy en Sarah ontmoet het, van haar beserings en veral die hele storie verlede jaar daar in die Saoedi-woestyn waarvan jy praat.”
Die inspekteur lag. “Ek het niks van jou in die koerante gelees nie. Waarom het julle dit geheim gehou? Waarom is jy toevallig op haar voorstoep die dag wat sy vermis word?
“Daarna sal ek jou ondervra om dinge wat steeds duister is in te vul.”
Ari’el neem gefrustreerd die pen op. Hy wil liewers daarbuite wees waar hy na Sarah kan gaan soek. In die beknopte ruimte van hierdie vertrek met die tafel, bankie en eenrigtingvenster aan die een muur, klink inspekteur Rassie se stem nog harder. Ari’el gee hom net ’n skuins kyk, gaan sit beheers op die harde houtbankie by die tafel en trek die folioboek nader.
Inspekteur Rassie stap uit die vertrek en trek die deur agter hom dig.
Vir ’n oomblik sit dokter Ari’el ben-Yusuf doodstil voor hom en staar. Hy knip skaars ’n oog terwyl hy die angs wat hy oor Sarah ervaar, onderdruk en rustig asemhaal. Wat hy nou doen, kan ook help dat sy gouer opgespoor word. Hy dwing homself tot kalmte. Ondervinding het hom geleer dit is beter om saam met die plaaslike wetstoepassers te werk. Die volgende uur skryf hy so volledig as moontlik ’n verslag oor die gebeure verlede jaar. Elke feit wat kan help. Noukeurig, in sy netjiese, regop handskrif skryf hy die datum, plek en tyd bo-aan die bladsy.
Ek is Ari’el ben-Yusuf, mediese dokter en chirurg van beroep, afgestudeer aan die Universiteit van Oxford, 1991; burger van die Republiek van Jemen, Jemens-Joods.
Gedurende die insidente wat in hierdie verslag volg, was ek lid van die vrywillige Rooikruisspan soldate, gestasioneer in die Saoedi-Arabiese woestyn, meestal in ’n ongeïdentifiseerde, tydelike tentekamp van die Rooikruis, tans werksaam vir die Koalisie vir Vrede in Jemen.
Ek verklaar hiermee dat die volgende feite is. Dit is insidente wat ek persoonlik beleef het en betrekking het op me. Sarah Jacobs wat tans vermis word in Kaapstad, Suid-Afrika.
Gedurende April 2010 was ek deel van ’n groep vrywillige soldate wat pasiënte wat dringend sorg nodig gehad het, vervoer het na die Hadassah-hospitaal in Jerusalem. Die middag omstreeks drieuur het ons op pad terug van Jerusalem die pad deur die Negev-woestyn geneem. Onderweg van Mitzpe Ramon na Eilat het ons skielik skote vorentoe tussen die heuwels hoor klap. Ons was gewoond aan die onderonsies tussen die Israeli’s en die Palestyne, maar was dadelik op ons hoede. Ons voertuie het in konvooi gery met een swaar gewapende missiel-Jeep vooruit, dan die gepantserde veldambulans en dan een gepantserde veldvoertuig as agterhoede.
•In die Negev-woestyn het ons op me. Jacobs se motor, wat in ’n lokval gelei is, afgekom.
•Die terroriste het padgegee toe ons nader kom.
•Ons het me. Jacobs uit die wrak bevry, in ons gepantserde ambulans gelaai en saam met ons geneem.
•Ons het die Israelse owerheid daarvan verwittig en