Sluiers van die nag. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sluiers van die nag - Ena Murray страница 3
Op haar stil, onopsigtelike manier los die matrone probleme op, bied sy hulp aan en kyk toe dat alles vlot, want menselewens is op die spel. Sy beweeg soos ’n stil skaduwee tussen die sale sonder dat sy deur die personeel opgemerk word en sonder dat hulle werklik besef dat iemand daarvoor verantwoordelik moet wees dat alles so glad en sonder onnodige vertraging verloop. Wanneer iets nodig is, is dit meteens net daar en daar is nie tyd om te wonder hoe dit daar kom nie.
Dis eers teen vieruur die oggend dat die vreemde rustigheid wat deel van ’n slapende hospitaal is, weer stadig begin terugkeer. Die rooi ligte bokant die teaters word afgeskakel. Daar is oorwinnings behaal en daar is ook teruggestaan vir ’n Groter Mag.
In die kraamafdeling lê ’n klein mensie aan sy duim en suig met ’n uitdrukking op sy gesiggie asof hy ernstig twyfel of hy veel gaan hou van hierdie nuwe wêreld waarin hy hom so skielik bevind. ’n Entjie verder af lê sy moeder uitgeput en slaap onder die kalmering van verdowingsmiddels.
En in saal D, waar ’n flou liggie in een van die privaat kamers brand, word die flou klop van lewe in die bleek pols noukeurig getel.
’n Stil skim skuif langs die saalsuster in en ervare vingerpunte neem die taak oor.
Die grys oë is vol respekvolle begrip. Sy het reeds die voetstap van die dood leer ken wanneer dit opklink. Haar stem is soos altyd gedemp. “Ek sou die dokters nie graag weer wou lastig val nie. Hulle het vannag volspan gewerk ná die busongeluk. Maar ons kan nie anders nie. Wie is sy dokter?”
“Professor De Vries, die nuwe hoofchirurg.”
“Ontbied hom onmiddellik. Ek hoop nie hy het al vertrek nie. Ek sal solank hier bly.”
“Goed, matrone.”
Twee uitgeputte manne wat ná ure oor die operasietafel net die teater verlaat, gaan staan toe die nuwe hoof van die chirurgiese afdeling se kodenommer op die televisieskerm bokant die deuringang verskyn.
“En nog is het einde niet,” prewel die blonde man.
Die ander een trek sy wenkbroue op. “Ek vermoed dis my trageotomie.” Hy draai kortom en verdwyn by die teatersuster se kantoor in. ’n Oomblik later is hy terug in die gang. “Dit is hy. Dankie vir u hulp, dokter. Dit was gaaf dat u vannag bereid was om te kom help. Dis nie die superintendent se werk …”
“Vergeet daarvan, professor. Ek is nou nugter wakker. As u nie omgee nie, stap ek saam.”
“Soos u wil.”
Hulle stap stilswyend langs mekaar, skynbaar ontspanne, maar met ’n gedetermineerde spoed. Die lang, donker man is haastig om in saal D te kom, want iemand daar is besig om met die dood te worstel … Die man langs hom is ewe haastig om in saal D te kom. Miskien sal hy haar dáár aantref. Toe hy oor die radio gehoor het van die groot busongeluk, het hy onmiddellik hospitaal toe vertrek. Hy kon van hulp wees. Hulle sou volspan nodig hê volgens die berigte oor die nuus. Dan ook … dit was ’n verskoning vir die superintendent om in die nag by die hospitaal besoek af te lê. Die superintendent van ’n groot hospitaal word gewoonlik net bedags daar aangetref. Dit sou vreemd lyk as hy skielik in die nag opdaag sonder enige rede.
Sy oë het rondgesoek, maar hy het haar nie te sien gekry nie. Daarna was hy verplig om persoonlike gedagtes eers op die agtergrond te skuif en het hy hom toegewyd besig gehou met die taak. Maar nou is alles afgehandel. Wat daar te redde was, is gered. Daar is geen rede om langer hier te vertoef nie.
Hy weet baie goed dat sy voorstel om saam te stap beslis vreemd moet voorkom. Almal is hondmoeg en oor sowat drie ure sal die dag breek en ’n nuwe dagtaak op hom wag. Maar hy kan nie gaan voordat hy nie sekerheid gekry het nie … Hy het netnou vlugtig by die nagmatrone se kantoor ingeloer, maar dit was leeg.
Maryke is skaars bewus daarvan dat nog ’n gestalte saam met die hoofchirurg die vertrek binnestap. Sy weet net professor De Vries is, dank die Vader, nog nie huis toe nie!
Sy sien die sterk hande voor haar inskuif, hoor die gedempte bevel: “Suigpomp! Daar is ’n obstruksie!”
“Dis gereed.” Vir die volgende paar minute word daar nie gepraat nie, werk hulle saam. Twee mense, twee paar hande, maar asof gelei deur een brein. Al die vernuf en kennis waartoe die menslike verstand in staat is, word tot die uiterste ingespan en daar word vinnig gewerk, maar akkuraat, dodelik akkuraat. Daar is nie tyd om foute te maak nie, want tyd en kosbare asem is in ’n onheilspellende wedloop gewikkel teen mekaar.
Dan, eindelik – asof ’n ewigheid in ’n paar minute saamgehok was – kom die verligting, sien hulle die bors diep op en af dein, sien hulle die gevaarlike blou kleur van die lippe verdwyn, die verwronge gelaatstrekke tot moeë kalmte terugkeer …
Met ’n gloed van oorwinning in haar grys oë kyk Maryke op na die man aan die oorkant van die bed. Vir die eerste keer kyk sy die nuwe professor vol in die gesig … en vir die tweede keer kyk sy vas in ’n paar deurdringende blou oë. Die herkenning is onmiddellik. Die man in die grys pak …
’n Stem vanaf die voetenent van die bed sny tussen die twee mense deur wat mekaar staan en aanstaar. “Dan is dit werklik jy! Ek het gewonder of my nagmatrone dié Maryke Linde is wat ek ken.” Haar kop ruk sywaarts en sy sien hom nader stap vanuit die halfskemerte tot in die ligkring. “Onthou jy my nog, Maryke?”
Hy staan daar voor haar. Ralph Weideman … dié Ralph Weideman. Die bekende glimlag is om sy lippe, die blonde kuif soos altyd golwend van die voorkop af weg na agter, die ligblou oë vrolik, sonder kommer. Die aantreklike gelaatstrekke is nog dieselfde – asof daar nie tien jaar oor hulle gegaan het nie. Sy hand is na haar uitgestrek, na háár. En hy vra aan háár: Onthou jy my nog, Maryke?
2
Onthou sy hom nog?
Haar hande span wit om die bedlaken en in die sirkellig van die bedlamp lyk haar wange byna deurskynend bleek. Vir die blou oë wat van die oorkant van die bed op haar vasgepen is, vertoon sy soos ’n standbeeld, maar tog kleef daar op hierdie oomblik so ’n duidelike weerloosheid aan haar dat dit hom meteens laat optree. Kortaf, bevelend praat hy asof hy nie bewus is daarvan dat die blonde man iets gesê het nie.
“Ek wil ’n spesiale verpleegster by hierdie pasiënt hê, matrone. Pols en asemhaling elke tien minute gekaart en ek moet onmiddellik verwittig word van enige verandering wat intree … onmiddellik!”
Soos ’n drenkeling in ’n storm rig sy haar tot die man in die grys pak oorkant haar, bly na hom kyk hoewel sy weet dat hy vir die tweede keer tot in haar siel staar. Benewens al die verbysterende emosies wat in hierdie laatnaguur in die grys oë saamgehok is, lees hy ook dankbaarheid. Dankbaarheid vir die paar oomblikke van grasie wat sy tussentrede haar geskenk het.
“Ek sal reël vir ’n spesiale verpleegster, professor.” Vreemd dat ’n mens se brein nog funksioneer terwyl die res van jou liggaam lamgelê is. Vreemd dat ’n mens se stem normaal kan klink terwyl die wildste storm in jou woed. Vreemd, ook, dat hierdie vreemdeling se blou oë onpersoonlik is en terselfdertyd tog ook begrip toon wat sy nie kan miskyk nie, begrip waarna sy op hierdie oomblik van nood gryp.
Ralph Weideman laat sy uitgestrekte hand sak en sy oë word peinsend. Dan krul sy een mondhoek. Natuurlik. Dis nie nou die regte oomblik nie. Sy blik rus opsommend op die afgewende gelaat.
“Goed. Ons kan maar gaan, dokter,” sê sy kollega saaklik.
Maar die nuwe superintendent