Sluiers van die nag. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sluiers van die nag - Ena Murray страница 6
Maryke staan net stil na hom en kyk. Dis nog dieselfde man van tien jaar gelede, dieselfde man wat altyd ’n antwoord gereed het, nooit onverhoeds betrap word nie. Die man wat nog net so glad kan lieg.
“O. Ag, ekskuus tog. Ek veronderstel u en matrone Linde het nog nie ontmoet nie. Sy was mos met verlof en het maar gisteraand eers weer begin werk. Dit is dokter Weideman, ons nuwe superintendent, matrone.”
Sy mond gaan oop maar Maryke spring hom voor. “Aangename kennis, dokter.”
Sy mond klap toe en die bekende glimlaggie krul om sy mondhoeke terwyl sy wenkbroue lig. “Baie aangenaam, matrone Linde.”
“Nou ja, dan sê ek maar geruste nag aan u albei,” laat matrone Lüdick hoor en Maryke sien haar uitstap. Sy soek na ’n rede om haar terug te roep, maar die superintendent het reeds die deur agter haar toegedruk.
Hy draai om en Maryke sak met bewende knieë agter die lessenaar neer. “Is daar iets waarmee ek kan help, dokter? Ek moet met my saalrondes begin.”
Haar stem is koud en ver en die selfversekerdheid verdwyn van Ralph Weideman se gesig. Hy frons en kom nader. “Niks waarmee jy kan help nie, matrone. Maar daar is beslis iets wat jy kan doen.” Toe sy nie antwoord nie, druk hy met sy hande aan weerskante van die lessenaar en leun nader. “Jy kan gerus ophou om tot ’n standbeeld op te vries die oomblik as jy my sien. En jy kan gerus ophou om voor te gee dat jy my van geen kant ken nie, Maryke. Dis ’n kinderagtige speletjie wat …”
“Die dae toe ek deelgeneem het aan kinderagtige speletjies is presies tien jaar gelede verby, dokter Weideman.”
“Maryke, asseblief, dis waaroor ek met jou wil praat, maar jy wil my geen kans gee nie.”
“Daar is niks waaroor ek met u wil praat nie, dokter Weideman.”
“Bang, Maryke?”
Sy staan vinnig op, ’n pragtige wasbleek standbeeld. “U is die superintendent van hierdie hospitaal en my werkgewer, dokter. As sodanig is ek bereid om u te respekteer, maar ek verwag dieselfde. Wanneer u my aanspreek, is ek matrone Linde, asseblief.”
Hy sug, kyk haar met nougetrekte oë aan. “Jy gaan niks deur hierdie houding bereik nie … matrone. Jy kan aan die verlede niks verander nie.”
“Nee, niemand kan nie. Maar ’n mens kan daaruit leer.” Sy stap beslis om die lessenaar in die rigting van die deur. “Verskoon my. Ek moet aangaan met my werk.”
“Jy hardloop weg, matrone Linde – nes tien jaar gelede.”
Sy kyk hom vas aan, die grys oë ’n vaal wasigheid soos van ’n triestige, koue wintersdag. “As dit by weghardloop kom, was u wegspring honderd keer vinniger as myne.”
“Maryke, asseblief, dis nie waar nie. Goed, ek erken dit mag so gelyk het, maar ek het weer teruggekom, jou kom soek en toe was jy weg. Meisie …”
Sy deins van sy hande af weg, haar stem laag en skor. “As u ooit, ooit waag om u hande op my te lê …! Ek sal bedank, dokter. Ek sal weggaan. Die verlede is dood. Daar is niks daarvan oor nie.”
Sy gesig is ook nou strak, lyk eintlik half vreemd vir haar. “Dis daardie De Vries … Wat het jy hom van ons vertel? Wat beteken die man vir jou?”
Meteens herwin Maryke haar kalmte. Dit is amper vir haar asof sy ’n paar blou oë stip in hare sien kyk. “Dis my persoonlike saak en u het daarmee niks te doen nie. Nag, dokter.”
Sy stap uit, maar meteens is hy reg voor haar in die gang. “Dit sal nie help om weg te hardloop nie, Maryke. Die verlede haal jou altyd in. Ons praat later weer.”
Dan is sy by hom verby en verdwyn om die hoek. Ralph Weideman swets saggies. Hy draai in die teenoorgestelde rigting en stap sonder ’n kopknik by oom Daan verby na buite.
In die weke wat volg, lyk dit tog asof die nagmatrone se kil, vyandige houding die nuwe superintendent ’n bietjie afgeskrik het. Sy gewaar hom nie met ’n oog nie, en daaroor is sy innig dankbaar. Dit is nie vir die nagmatrone en die superintendent ooit nodig om mekaar te sien nie, en solank dit so kan bly, sien Maryke kans om met haar werk voort te gaan, kan sy selfs daarin slaag om die vrees in haar tot bedaring te bring en aan te gaan asof Ralph Weideman nooit weer in haar lewe verskyn het nie.
Tog is sy op haar hoede, betrap sy haarself dat sy altyd versigtig om haar rondkyk, haar hart ’n slag mis as haar kantoordeur skielik in die nag oopgedruk word.
Sy maak haarself oor en oor wys dat sy nie werklik iets te vrese het nie. Ralph Weideman het geen houvas op haar nie. Maar diep in haar hart weet sy dat dit nie die volle waarheid is nie. Hy het – hoewel hy nie daarvan weet nie. Sy moet net keer dat hy nooit daarvan uitvind nie, want soos sy hom ken, en ook nou weer leer ken het, sal hy nie huiwer om daarvan gebruik te maak nie. Wat haar die meeste verwar en ontstel, is hoekom hy nou skielik weer so ’n belangstelling in haar koester. Tien jaar gelede kon hy nie gou genoeg van haar ontslae raak nie. Vanwaar die skielike belangstelling nou?
Wanneer sy by hierdie vraag kom, voel sy altyd bang, voel sy hoe ’n staalband van vrees om haar keel vou. Sou hy tog weet, vra sy haarself beangs af. Hou hy hom maar so onskuldig? Wat het hom na hierdie hospitaal gebring? Hoekom haar skielik weer uitsonder? Hoekom so bly hamer op die verlede – die verlede wat jou altyd inhaal? Is Ralph Weideman besig om tot sy eie heimlike vermaak ’n speletjie met haar te speel?
Omdat dit nog nooit haar gewoonte was om van die personeel met ander personeel te bespreek nie, kan sy ook nie by iemand meer probeer uitvind van dokter Weideman nie. Sy weet nie eens of hy getroud is nie. Sy veronderstel hy is. Hy is al in die dertig. Dit sal baie vreemd wees as hy nie gedurende die afgelope tien jaar getrou het nie. Des te meer rede hoekom sy nie sy belangstelling in haar kan begryp nie.
Hy het seker ’n vrou en kinders. Hoekom dan die verlede so wil terughaal? Daar is tog geen sin in nie, behalwe … Weer trek haar keel toe. Behalwe as hy méér weet van die verlede as wat hy veronderstel is om te weet …
Onverklaarbaar smag sy skielik daarna om met iemand te praat, iemand teenoor wie sy haar vrese hardop kan lug, by wie sy kan raad soek, want dis of haar verstand in doodloopstrate sirkel, wanneer sy oor al hierdie dinge begin tob. Soms is sy op die punt om na die hoofmatrone te gaan. Maar dan besluit sy weer daarteen.
Soms wens sy selfs dat professor De Vries hom weer in haar persoonlike sake wil inmeng, haar selfs net wil vra hoe dit gaan sodat sy die opening kan kry om met hom te gesels. Maar dan weet sy net so goed dat, as so ’n oomblik sou opduik, sy weer sal terugtrek en net stom voor hom sal staan. Want te lank het sy gewoond geraak daaraan om dinge in haar hart te hou en dit met niemand te deel nie. Sy weet nie meer hoe om haar hart teenoor ’n medemens oop te maak nie.
Van professor De Vries sien sy egter ewe min. Net een keer het hy ’n noodoperasie kom uitvoer. Hulle het ’n paar professionele woorde gewissel, en hy het ingedagte gelyk, asof hy haar skaars raakgesien het.
Maryke is heeltemal onbewus daarvan dat die veraf blik haar daardie nag fyn bestudeer het. Dat die blou oë gesien het dat daar weer ’n bietjie kleur in haar wange was. Dat die grys oë maar soos altyd gesluierd was met daardie veraf weemoed daarin, maar dat hulle nie meer so paniekerig gelyk het nie.
Hy het tevrede geknik by die wete dat hy sy pasiënt in bekwame hande