Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 8 - Elza Rademeyer страница 4
“Jy vra nog! Wat ek bedoel, is dat ek nie soveel tyd sou vermors het om jou te leer ken nie.”
Sy bloos toe sy snap wat hy bedoel, en kyk vinnig anderpad toe sy sien op watter manier hy na haar kyk. Dis nie dat sy nie van hom hou nie, flits dit deur haar gedagtes, maar hy moet haar nie staan en oorweldig met sy attensies nie. Want dis nog lank nie te sê sy hou meer van hom as van enige van die ander mans saam met hulle nie. Gelukkig kom sluit Ben by hulle aan en toe hy hom weer na haar draai, begin sy vinnig oor ander dinge gesels.
’n Rukkie later terwyl hulle besig is om aan die braaivleis te smul, kyk sy op en skrik so groot toe sy Peet se blik op haar betrap, asof hy haar al lankal dophou, dat sy summier in ’n stukkie roosterbrood stik. Jan slaan haar op die rug en gee haar wynglas aan. “Hier, neem ’n slukkie.”
Sy gehoorsaam en waag dit eers weer veel later om na Peet se kant toe te kyk. Hy sit nog steeds na haar en staar, en lyk so geamuseerd dat sy haar oombliklik vererg. As hy dink hy kan haar ontsenu, maak hy ’n fout, sê sy vir haarself en hou haar blik in syne. Maar die paar sekondes wat hulle in mekaar se oë staar, voel spoedig na minute. Dit noodsaak haar om eerste handdoek in te gooi, want sy glo haar wange is besig om bloedrooi te verkleur.
“Jy’t dan amper niks geëet nie,” sê Jan toe hy haar bord by haar neem om dit by die ander vuil skottelgoed te gaan voeg.
“Ek was nie honger nie,” jok sy. Welwetend dat sy so honger soos ’n wolf was tot sy Peet se blik op haar betrap het. Nugter weet hoekom hy haar so ongemaklik laat voel.
Sy waag dit dan ook nie om weer na sy kant toe te kyk nie. Maar toe dit slaaptyd raak, en van die ander reeds weg is om te gaan stort, verskyn hy eensklaps voor haar stoel. “Kom, ek wil jou iets wys.”
Haar hart mis ’n slag. “Wat?” vra sy en maak asof sy nie sy uitgestrekte hand raaksien nie.
“Kom,” sê hy weer. “Jy moet buite die ligkring van die vuur staan om dit te waardeer.”
Haar blik vlieg rond om te kyk waar Bets en Jan is. Dan val dit haar by Bets is saam met ’n paar ander meisies weg om te gaan stort. En Jan staan daar eenkant met Ben en gesels. Toe laat sy maar huiwerig toe dat hy haar aan die hand agter hom aantrek.
“Dis waarvan ek vanmiddag gepraat het,” sê hy toe hulle buite die ligkring staan. “Is dit nie mooi nie?”
’n Oomblik of wat vergeet sy van haar ongemak toe haar blik op die mooi prentjie van die maanstrale oor die rivier val. “Dis asemrowend mooi,” sê sy verruk.
“Ek het gedink jy sal dit waardeer.”
Sy wonder vlugtig hoekom hy dink sy sou dit waardeer, en hoekom hy haar uitgesonder het om dit voor te wys, maar sy is te bang om ’n gesprek met hom aan te knoop. En skielik té bewus van sy nabyheid.
“Dis feitlik al wat ek onthou van die vorige keer toe ek hier was.”
“Ja, dis iets om te onthou,” sê sy voordat sy wegdraai en tent toe loop om haar flits en handdoek te gaan haal.
Dalk het sy te veel wyn gedrink, flits dit deur haar gedagtes op pad wasgeriewe toe. Dié dat sy wil glo Peet neem meer notisie van haar as van die ander meisies. En al is dit ook so, dan is dit tog maar net oor sy Bets se vriendin is. Sy moenie vergeet hy’s Bets se kêrel nie. Sy moet dit vir geen oomblik vergeet nie!
2
“Wat dink jy van Jan?” wil Bets weet toe hulle laatnag in die tweemanstentjie lê wat hulle deel.
“Wel, hy’s heel gaaf. En hy kan baie mooi kitaar speel.”
“Jy klink nie baie entoesiasties oor hom nie,” kla Bets.
“Wat verwag jy? Ek ken hom dan nog net ’n paar uur.”
“Ek het gedink julle gaan dadelik verlief raak. Met die eerste aanblik, soos ek en Peet.”
“Mense verskil van mekaar. Almal is nie soos jy en Peet nie.”
“Wat dink jy van Ben, ons toerleier?”
“Dat hy maklik die aantreklikste man in die toergroep is,” sê sy eerlik.
“Hmm. Ek wonder wat sien hy in daardie ou vaal kleurlose meisietjie van hom?”
“Elsie? Wel, sy lyk vir my heel gaaf. Miskien het sy ’n mooi geaardheid.”
“As jy nie van Jan hou nie, moet jy dalk jou flikkers vir Ben gooi,” gaan Bets voort. “Jy sal hom met gemak van háár kan afvry.”
“Skaam jou. Ek koester nie daardie soort gedagtes nie.”
“Jy’t nie geskroom om Wouter van my af te vry nie.”
“Bets, asseblief, daardie storie is al holrug gery. Hoeveel keer het ek nie al vir jou gesê daar was nie ’n greintjie gevoel in my vir die vent nie? Jy kan in elk geval dankbaar wees jy’s ontslae van hom, want …”
“Toemaar,” onderbreek Bets haar sin. “Ek huil lankal nie meer oor hom nie. Maar bewaar jou siel as jy dieselfde met Peet probeer doen. Hy is myne, en myne alleen. Onthou dit maar net.”
Alet bly liewer stil. Niks sal Bets tog ooit van die waarheid oor Wouter oortuig nie. En Peet … Sy sal Bets se waarskuwing ter harte neem en so ver moontlik van hom af wegbly. Want of sy dit wil erken of nie, hy hét ’n manier om haar te ontstel.
Die volgende oggend toe sy uit die tentjie kruip, is die eerste ding waarteen sy vaskyk die stewige sitvlak en twee fris sonbruin bene van ’n man in ’n kortbroek wat gebukkend staan en tentpenne uit die grond trek. Toe hy orent kom en in haar rigting kyk, duik sy vinnig terug in die tent. Peet! Wat het haar laat dink hy’t maer bleek bene?
Sy maak eers seker dat hy weg is voor sy weer uit die tent kruip om haar na die ablusieblok te haas. Maar daar aangekom, is al die storte reeds beset, en moet sy noodgedwonge wag vir een van die ander meisies om klaar te maak. Terwyl sy wag, kom Elsie ook daar aan. “Ons twee is te laat, lyk dit my,” knoop sy ’n geselsie met haar aan. “Al die storte is beset.”
“Ek gee nie om om te wag nie,” sê Elsie met ’n glimlag. “Want die meisies wat eerste klaar is, sal moet ontbyt maak. So hoe langer ons twee draai, hoe minder werk gaan ons hê.”
Sy kan nie dink hoekom Bets sê Elsie is vaal en kleurloos nie, kom dit by haar op terwyl hulle staan en gesels. Sy’t pragtige oë en ’n natuurlike blos op die wange. Sy het eenvoudig nie grimering nodig nie.
In hul gesprek kom dit uit dat Elsie ’n fotografiese model is, en dat sy saans ander modelle oplei. Alet wonder wat Bets se reaksie daarop gaan wees. Dog, die enigste kommentaar wat sy daarop lewer toe sy haar van hul gesprek vertel, is dat dit niks verander aan haar kleurloosheid nie. “Sy bly vaal, Alet. Ek kan nie glo sy is Ben se meisie nie.”
“Jy beter jou roer,” jaag Alet haar aan. “Amper al die tente is afgeslaan, en jy’t nog nie eens begin pak nie.”
“Jy’s nes Peet. Altyd aan die werk. Gun niemand tyd vir ontspanning nie.”
Alet loop draaie om Peet terwyl hulle ontbyt nuttig en