Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach страница 6
“Gelukkig hoef jy hulle nie deesdae te onthoof om van hulle ontslae te raak nie,” meen Eben.
“Dis jammer dat Charl nie koning Hendrik se magte het nie …” begin Thomas, maar toe bly hy verward stil.
Brenda onderskep ’n waarskuwende, ergerlike blik van Charl na sy nefie en sy sien dat Thomas bloedrooi van verleentheid word. Waarop het hy gesinspeel? wonder sy. Is Charl Naudé se huwelik ongelukkig? Wil hy van die mooi blonde Maureen ontslae raak? Indien wel, waar lê die probleem? Hy is so aantreklik dat vroue by hom sal aanlê. Is hy ’n rokjagter soos Thomas?
As hy is, stel dit haar geweldig teleur, mymer sy. Sy wil nie dink dat iemand wat so waardig voorkom voete van klei het nie.
Dis nogtans vir haar baie lekker om die opulensie van die paleis te beskou en hom as ’n kundige by te hê. Hy weet verbasend baie van die geskiedenis, hy is gevat en hy sorg dat hulle heeltyd vermaak en ingelig word.
Toe die besoek ten einde loop, is sy spyt. Charl vul haar met bewondering. Hy blyk so ’n afgeronde mens te wees. Maar volmaak kan hy tog nie wees nie? Waar lê sy swakhede? As hy ’n rokjagter is, kom sy dit nie agter nie, want hy flankeer nie met haar nie. Hy is met almal van hulle ewe sjarmant.
Iets wat haar tref, is dat mense met ontsag na hom kyk. Na hom én die aantreklike Thomas, maar meer na hom. Dis byna vleiend om langs hom te loop. Anders as Thomas, lyk hy nie asof hy enigsins agterkom hoeveel aandag hy trek nie. Sy moet haarself aan haar ma se woorde herinner: ’n mooi man is almal se man, en ’n mens moet eerder vir so iemand oppas. Dis die inbors wat tel, nie die voorkoms nie.
Hulle ry na ’n restaurant langs die Teemsrivier wat vir Brenda vreeslik duur en eksklusief lyk. Sy laat toe dat Charl haar elmboog neem en haar na ’n tafel stuur waar hulle oor die water en die verbygaande bote kan uitkyk. Sy aanraking is aangenaam. Onderdanige, oorgretige kelners dans letterlik om hulle rond.
Charl bestel wyn en hulle kyk na die spyskaart. Dis van dié waar die prys nie aangedui word nie, sien Brenda ongemaklik. Natuurlik kos elke dis ’n fortuin. Sy vang Eben se blik en sien dat hy dink wat sy dink.
“Ons dra graag by tot die ete,” bied hy aan.
Charl wil niks daarvan hoor nie. “Julle is my gaste vandag en ek betaal. Ek het julle verplig om ons te vergesel, en tot dusver vermaak julle my heerlik.”
“Sing for your supper,” grap Thomas.
“Ons waardeer dit regtig,” sê Brenda, en moet direk in die grysblou oë kyk. Hy het beslis ’n vreemde effek op haar. Dis asof sy nie gemaklik in haar vel is nie, en tog is hy baie interessante geselskap.
Nadat hulle bestel het, sit Charl terug. “Die kongres wat ek by Hastings Park bygewoon het, het meestal gegaan oor infertiliteit en in vitro-bevrugting. Ek het gepraat oor die werk wat ons mense by Tygerberg doen. Dis jammer julle aspirant-ginekoloë kon dit nie bywoon nie.”
Hy kyk na Brenda. “Jy het mos gesê jy wil ’n ginekoloog word, nie waar nie?”
Hy onthou sowaar, dink sy. En hy het nog beweer dat sy nie opgewasse is daarvoor nie.
“Dis steeds my plan,” sê sy beslis.
“Ek neig meer in die rigting van patologie,” sê Eben. “Dis meer beheerbaar as swanger vroue. Ek wil nie enige tyd van die dag of nag babas vang nie.”
Thomas grinnik. “Nee, hel, ek werk liewers met vroue. Patologie is so … droog.”
Brenda kyk minagtend na hom. Hy is tog so deursigtig. So oppervlakkig. Presies die soort mooi man waarteen haar ma haar altyd gewaarsku het.
Sy kom agter dat Charl haar met versluierde oë betrag, asof hy haar gedagtes lees. Hy kom seker agter dat sy nie juis gaande is oor sy nefie nie.
“Vertel ons van jou referaat,” vra sy vinnig, want hy maak haar ongemaklik.
Hy leun vorentoe en begin vertel. Sy probeer hom haar onverdeelde aandag gee, want Thomas lyk verveeld en Eben is slegs hoflik belangstellend.
Die kelner bring die wyn en hulle klink glase. “Op ’n blink toekoms vir julle drie jong mense,” sê Charl.
“’n Mens sou sweer jy’s oud en koud,” terg Eben.
“Ek het reeds die kronkelpaaie van die lewe bewandel, jong man. In jare mag ek jonk wees, maar in ervaring is ek baie oud.”
Brenda lag. “Hemel, dit klink of die pad van ginekologie en verloskunde lank en swaar kan wees.”
“Aits, oud maar nog nie koud,” kraai Thomas. “There’s life after …”
Weer is Brenda verbaas oor die afgesnyde, insinuerende sin en die frons op Charl se gesig. Hier gaan iets baie vreemd aan, besluit sy. Die kos kom egter, en hulle bespreking van die disse en die kwaliteit van die vleis neem haar aandag in beslag.
“Kry gerus nagereg,” moedig Charl hulle aan toe die borde weggeneem word. “Ek was al ’n paar keer hier en ek verseker julle dis vingerlek-lekker.”
Brenda is seker dat dié ete hom meer uit die sak gaan jaag as wat sy in ’n week verdien, maar sy kies ’n crème brulée.
“Dis ook my gunsteling,” sê Charl.
Die glimlag wat hy haar gee, is meteens sameswerend en ’n blos trek oor haar wange. Elke ding wat hy doen of sê, weeg net swaarder as enigiets wat iemand anders sê of doen. Wat ’n eienaardige gewaarwording.
“Baie dankie vir die heerlike dag,” bedank Brenda hom.
Charl glimlag en knik. “My plesier. Ek hoop Londen behandel julle verder goed. Kyk tog asseblief na my nefie. Moenie dat hy allerhande onbesonne goed aanvang, of met ’n Engelse verpleegster wegloop nie.”
Thomas grinnik. “Eerder ’n vrou wat my behoorlik kan onderhou. Ek is ’n duur ou. Net ryk vroue hoef aansoek te doen, dankie.”
Ongetwyfeld, dink Brenda. Sou hy ooit die vermoë hê om vas te byt en regtig ’n ginekoloog te word?
“Dit was ’n onverbeterlike dag, dankie,” sê Eben en skud Charl se hand.
Hulle wuif toe die groot, blink motor wegtrek. “Daar gaan my rolmodel,” sug Thomas. “Die probleem is net: ek kan nie soos hy wees nie. Ek het die een of ander ou sondaar van my voorgeslagte se gene ook gekry, en dit lei my die verderf in.”
“Het jy al gehoor van ’n wilsbesluit?” vra Brenda.
“Ja, Moeder Teresa. Ek wil dít doen en dát doen, ek wil, wil, wil.”
“Verspot soos altyd,” brom sy, maar sy glimlag vir hom. “Dankie vir jou aandeel, dat jy ons by jou oom as gaste aanbeveel het.”
Thomas haal sy breë skouers op en kyk spottend na haar. “Hy het nie al my voorstelle aanvaar nie, maar toe ek jóú naam noem, was hy inskiklik.”
Brenda is verleë. Sy weet nie of sy hom moet glo nie.
“Dankie