Skat van onheil. Annelize Morgan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skat van onheil - Annelize Morgan страница 2

Skat van onheil - Annelize Morgan

Скачать книгу

sand na waar die bagasie uit die skuite gelaai word.

      Véronique laat haar blik weer eens oor die omstanders dwaal. Dis met ’n sinkende hart dat sy haar vader nie onder hulle herken nie. Dan volg sy monsieur Lorraine om haar bagasie tussen die ander te gaan uitsoek.

      Sy sien die man skielik raak toe sy omdraai. Hy leun teen ’n muur. Sy houding is een van uitdagende onverskilligheid, en dit prikkel haar nuuskierigheid. Sy swart hare is agter in sy nek met ’n fluweelstrik vasgebind; sy wit syhemp hang effens oop en ontbloot sy bronskleurige borskas, waaroor ’n goue kettinkie hang. Sy nousluitende broek raak weg in hoë kaplaarse met silwer gespes.

      Véronique staar hom ’n oomblik aan voordat sy vinnig wegdraai om te gaan kyk of haar trommels almal veilig op die strand is. Haar hart fladder onrustig. Wie is hierdie lenige, aantreklike Spanjaard? Wie is hierdie man wat lyk asof hy die duiwel met sy kaal hande sal aanpak?

      Sy loop haar in monsieur Lorraine vas.

      “Ek is op pad na Drakenstein, na my broer toe, mademoiselle!” sê hy opgewek. “Ek wens u alles van die beste toe.”

      Sy kyk half verward op en glimlag dan.

      “Merci, monsieur.” Sy aarsel voordat sy vra: “Weet u wie daardie man dáár is?” Sy beduie so onopmerklik as wat sy kan in die rigting van die Spanjaard, maar voel hoe sy effens verkleur toe sy bemerk dat hy na haar kyk.

      Lorraine lag vrolik.

      “U nuuskierigheid interesseer my, mademoiselle. Dit is Don Diego Fernandez, ’n Spaanse edelman wat seekaptein geword het.”

      Sy kyk vinnig na hom.

      “U bedoel tog nie …” Sy breek haar sin stomp af.

      Hy knik.

      “Hy is die kaptein van die Marquessa. U moet my nie verkeerd verstaan nie, maar ek móét u waarsku dat hy die mees gewetenlose, genadelose mens is wat op moeder aarde rondloop. Wees uiters versigtig as u hom wil nader oor u vader.” Hy glimlag. “Bonjour, mademoiselle!”

      Sy hoor nie meer wat hy sê nie, maar antwoord tog sag: “Bonjour, monsieur.”

      Teen laatmiddag keer Véronique terug na die Kasteel, waar die nuwe aankomelinge gehuisves word. Sy het nóg taal nóg tyding van haar pa ontvang. Niemand weet skynbaar wie die graaf van Sévigné is nie. Hulle ken hom ook nie as Jacques Tredoux nie. Hulle weet niks van hom af nie.

      Sy klee haarself vir aandete in ’n hemelsblou fluweeltabberd met silwer borduursels om die soom. Haar hare borsel sy totdat dit blink. Sy dra geen juwele nie en dit laat haar weer aan haar pa dink.

      Jacques Tredoux het met al hul geld en die familiejuwele na die Kaap gekom om ’n nuwe begin te maak na die herroeping van die Edik van Nantes. Hulle het soos diere voor die jagter gevlug tot in België, waar hulle eindelik ’n blaaskans gekry het. Die noue ontkoming gedurende die vlug het hulle agterdogtig gemaak en hulle het geleer om net op mekaar te vertrou.

      Haar pa het vooruit na die Kaap gekom om hier die kuns van wamakery te kom leer, sodat hulle ’n inkomste sou hê. Hy het Véronique aangesê om hom later te volg. Hy het besef dat die aanpassing vir haar baie moeilik sou wees. Sy was nog altyd die dogter van die graaf van Sévigné en het nooit swaarkry geken nie. Hy wou eers ’n huis hê waarin hy haar kon ontvang, en dit sou geld kos.

      Véronique tik ’n bietjie kleursel aan haar bleek wange. Wat het dan verkeerd geloop dat hy nooit aan haar geskryf het nie? Sy het later na Haarlem gegaan waar sy elke skip wat van Oos-Indië af gekom het, ingewag het – en nooit het daar enige tyding van haar vader gekom nie.

      Die onrus groei in haar. Voordat sy van monsieur Lorraine se aanbod gebruik maak om na sy broer se plaas op Drakenstein te gaan, sal sy eers na die kaptein van die Marquessa, Don Diego, gaan. Miskien weet hý wat van haar vader geword het.

      Aan die etenstafel dwing sy haarself om opgewek met haar mede-Franssprekendes te gesels. Almal is dit eens dat die kommandeur hulle nie juis as baie welkom in die Kaap beskou nie. Daar is ’n effense terughoudendheid by hom wat hulle nie tuis laat voel nie. Dit maak hulle verbitterd. Die meeste van hulle het maande lank gevlug voordat hulle eindelik hier aangeland het. Hier moet hulle ’n toekoms bou, en nou voel hulle dat hulle nie welkom is nie.

      Claude le Vau, ’n jong Fransman – eintlik nog ’n seun – raak openlik strydlustig. Hy lewer ’n vurige toespraak soos wat net ’n Fransman dit kan doen. Hy wil vir sy regte veg in die Kaap. Die Franse het ook ’n reg om hier te wees en die kommandeur het nie die reg om hulle van mekaar te skei soos wat hy doen nie. Hulle moet ’n deel van die land as hulle eie hê, waar hulle hul godsdiens kan beoefen en hulle kinders in die Franse tradisie kan grootmaak.

      Véronique luister in stilte na sy tirade. Op die oomblik kan dit haar werklik nie skeel wát met hulle gaan gebeur nie. Sy wil net haar vader tot elke prys opspoor.

      “Ag, Claude, bly tog stil!” roep een. “Ons wil nie hiér ook nog moeilikheid hê nie!”

      Claude draai om na die spreker. Sy aantreklike gesig dra ’n uitdrukking van die grootste verontwaardiging.

      “Wil jy hiér ook onderdruk word? Wil jy van die stommerik van ’n kommandeur ook ’n tiran maak?”

      “Claude! Dis nou genoeg!” Die gebiedende stem van een van die ouer mans laat die voortvarende Claude effens afkoel.

      Hy gaan sit en sy blik ontmoet dié van Véronique. Hy sit skuins teenoor haar, en hulle het vroeër die aand nogal heelwat gesels.

      “Ons is almal moeg vir moeilikheid, Claude,” sê sy sag.

      Hy frons.

      “Almal ruggraatloos … almal van julle!” sê hy deur sy tande.

      Sy skud haar kop.

      “Jy is nou baie onredelik. Elkeen van ons het sy eie probleme om hom oor te bekommer. Die kwessie met die kommandeur sal wel die een of ander tyd reggestel word.”

      “Dis valse hoop,” brom hy, maar bly nog skelm na Véronique kyk. Sy is vir hom een van die mooiste meisies wat hy nog gesien het. As seun van ’n skoenmaker het hy nog nooit met die adel te doen gekry nie en noudat hy op gelyke voet met hulle is, voel hy baie manhaftig.

      “Jy laat jou emosies met jou weghardloop, my liewe Claude,” sê sy en proe aan die stomende gereg voor haar. “Eet liewer jou kos. Dit is nogal baie keurig berei.”

      Soos ’n stout seun wat tereggewys is, tel hy sy eetgerei op.

      “Wat kan vir u belangriker wees as om gelukkig in u nuwe vaderland te wees?” wil hy weet.

      Sy glimlag effens.

      “Ek moet my vader vind. Die ander dinge is nie nou van belang nie.”

      Hy haal sy skouers op.

      “Ek sal die adel se traak-my-nie-agtige houding oor belangrike sake seker nooit verstaan nie.”

      “Jy maak ’n fout, Claude. Ons is nie traak-my-nie-agtig nie. Ons wil almal in hierdie land gelukkig wees, maar om opstandig te raak oor die dinge waarvan ons nie hou nie, gaan ons nêrens bring nie.”

      Hy gaan nors voort met eet.

Скачать книгу