Skat van onheil. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Skat van onheil - Annelize Morgan страница 5
Sy kyk vinnig na hom.
“Miskien …”
Hy aarsel voordat hy sê: “U vertrou mense te maklik, senorita. U soek na moeilikheid en daar sal nie altyd iemand wees om u te help nie. Waarom het u alleen na hierdie deel van die dorp gekom?”
Haar hartslag begin effens bedaar noudat sy besef dat hy haar geen leed wil aandoen nie.
“Ek was desperaat, monsieur. Niemand weet wat van my vader geword het nie en ek móét hom vind.”
Hy druk sy swaard terug in die skede.
“En waarom is dit so belangrik dat u hom só gou moet kry?”
Sy haal haar skouers liggies op.
“Hy het alles wat ons besit het by hom gehad. Sonder hom het ek geen heenkome in die Kaap nie.”
Sy blik rus ’n oomblik lank donker en onpeilbaar op haar.
“Ek verstaan,” sê hy na ’n lang stilte. “Maar u moet besef dat dit ’n wilde plek is hierdie. Die Kaap is vol gevare – gevare wat ’n storm op see nie eens kan ewenaar nie. Hier is meer moordenaars en struikrowers as wat daar in die hele Frankryk is!”
Sy kyk op na hom.
“Ek kan nie vir altyd in die Kasteel aanbly nie, monsieur. Ek moet my vader vind, want sonder hom het ek geen heenkome en geen tuiste nie.”
Hy knik stadig.
“Ons sal hom vind, senorita, dit belowe ek u. Ek is nie verantwoordelik vir wat gebeur het nie, maar hy was op my skip en ek sal u help om hom weer te vind.”
Sy kyk onbegrypend na hom. Waarom wil hy haar dan help? Kan sy hierdie Spaanse duiwel vertrou? Dis dalk beter om sy vriend eerder as sy vyand te wees, maar die gedagte stel haar geensins gerus nie. Sy besef egter ook dat hy haar baie sal kan help as hy wil, want almal het ontsag vir hom en sal hom geen inligting kan weier nie. Sy stem net nie saam met sy metodes nie.
“Merci, monsieur,” sê sy eindelik, skaars hoorbaar. “Ek het niemand anders op wie ek kan vertrou nie.”
Hy skik die valle van sy mansjette om sy polse.
“U sal weer van my hoor, senorita. Nou gaan ek u eers net tot buite dié deel van die dorp begelei. Ek wil u nie weer hier sien nie.”
Sy knik.
“Oui, monsieur, en baie dankie.”
Hy neem haar tot naby die Kasteel en laat haar dan alleen daar om die entjie na die ingang te stap.
Véronique voel nog bewerig van ontsteltenis. Sy is bly dat die Spanjaard haar teruggebring het, maar sy is nog steeds onseker of sy hom wel kan vertrou. Sy het nog nooit met iemand soos hy te doen gekry nie. Sy wonder hoekom almal die aantreklike Spanjaard so vrees. Is dit oor sy dinamiese persoonlikheid of is hy dalk ’n besonder goeie swaardvegter? Is hy werklik so gewetenloos as wat monsieur Lorraine vir haar vertel het?
Sy sidder liggies en probeer die herinnering aan hom van haar afskud, maar sy kan nie. Sy donker oë en lenige gestalte bly by haar …
Voor haar kamerdeur wag Claude le Vau haar in. Hy kom lomp op aandag toe sy hom bereik, en grinnik.
“Ek het vir u gewag, ma’mselle.”
Sy glimlag.
“So sien ek, Claude. Wat kan ek vir jou doen?”
“’n Sekere monsieur Lorraine het na u kom soek.”
Sy steek vas en kyk na hom.
“Monsieur Lorraine? En wat het hy gesê?”
“Hy het gesê dat hy u môreoggend kom haal na Drakenstein en dat hy iets met u wil bespreek.”
Sy lyk verlig.
“Dankie, Claude. Ek dink ek sal die uitstappie nogal geniet.”
Hy trap onseker rond.
“Mag ek u iets vra?” sê hy skielik lomp.
Sy kyk geamuseerd na hom.
“Wat wil jy vra?”
Hy sluk ongemaklik.
“Ek is ’n skoenmaker, ma’mselle, en dit lyk asof hier reeds te veel skoenmakers is. Miskien kan monsieur Lorraine … wel, miskien kan hy my help … om iewers ’n begin te maak.”
Haar oë versag.
“Ek sal met hom praat, Claude. Ek is jammer om te hoor dat jy in ’n penarie is.”
Hy kyk bedremmeld na haar.
“Dis niks, ma’mselle. Ek is al gewoond daaraan.” Hy glimlag skeef en maak hom vinnig uit die voete.
Véronique gaan haar kamer met ’n frons binne. Op haar vader se landgoed in Sévigné was hulle goed vir die arbeiders. Dit het nie oral so gegaan nie. Hier het hulle geen mag nie, tel hul titel niks, want hier is hulle almal net Franse. Claude besef nie dat sy vir hom niks kan doen nie. Sy kan met monsieur Lorraine praat, maar dis ook al. In Frankryk sou sy monsieur Lorraine se meerdere gewees het, maar hier is dit andersom. Sy het geen besittings nie en haar vader is nie hier om te bewys dat sy die dogter van ’n Franse edelman is nie.
Dis met ’n swaar hart dat sy die volgende dag in die koets klim wat gestuur is om haar na Drakenstein te neem. Monsieur Lorraine is ’n redelik welgestelde koopman wat net tot na die winter hier in die Kaap sal aanbly. Sy ken sy broer glad nie. Sy aanvaar dat hy ’n gesin het omdat hy hom hier in die Kaap kom vestig het.
Volgens monsieur Lorraine was sy broer ’n skeepsdokter totdat hy glo ’n skat hier aan die wilde kus van die Kaap ontdek het. Nou is hy ’n landheer en boer hy met druiwe vir die maak van wyn.
Die weer is net so onaangenaam as die vorige dag. Die wind het nog geensins gaan lê nie en dryf elke dan en wan koue reënvlae by die koetsvenster in.
Véronique trek haar mantel stywer om haar skouers. Die onplesierige weer maak haar nog meer bedruk as wat sy reeds voel. Daar is baie dinge wat haar gedagtes besig hou en die rit is dus nie vir haar heeltemal so vervelig nie. Die omgewing is plek-plek baie plat en lowergroen.
Dis ’n mooi land, dink sy en laat haar oë oor die omgewing dwaal.
Dis ’n lang, vermoeiende rit na Drakenstein en twee keer moet hulle langs die pad perde ruil.
Don Diego het haar teen struikrowers gewaarsku en sy voel skielik ’n bietjie onseker. Hierdie afgeleë paaie is ideaal vir struikrowers. Don Diego … Sy ril effens. Sy onthou weer sy donker oë met die onpeilbare uitdrukking daarin. En tog is daar iets aan hom wat haar aantrek. Daardie dag toe sy hom vir die eerste keer gesien het, het sy hom reeds met meer belangstelling beskou as wat nodig was.
Vroegmiddag ratel die koets deur die groot ingang na die landgoed wat aan monsieur Lorraine se broer behoort.
Véronique