Goue horisonne. Annelize Morgan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Goue horisonne - Annelize Morgan страница 4

Goue horisonne - Annelize Morgan

Скачать книгу

      Sy glimlag effens.

      “’n Mens kan dit so noem. Met tant Debora en Leentjie is ons nog vriende. Dis net oom Gert wat die wêreld so ’n bietjie moeilik maak.”

      Hy lag.

      “Nie ’n bietjie nie! Na wat ek vanoggend gesien het, dink ek dit grens aan ’n jong oorloggie.”

      Sy kyk ondersoekend na hom.

      “Spot jy nou?”

      “Natuurlik nie,” sê hy skielik ernstig. “Ek dink nie ’n mens moet jou moeder té ligtelik opneem nie. As ek jou oom Gert was, sou ek ’n bietjie minder skoorgesoek het.”

      Sy sug liggies.

      “Jy ken hom nie. Skoorsoek is sy kos. Hy weet dat my ma niks kan doen nie, maar miskien het hy tóg vandag ’n bietjie geskrik.”

      Hy kyk half nuuskierig na haar.

      “Hoekom trek julle nie? Verkoop die plaas en gaan woon elders.”

      Sy laat haar blik sak.

      “Ons kan nie. Oom Gert is die enigste een wat die plaas mag koop volgens my pa se testament en … hy bied ons net dertig pond daarvoor aan.”

      “So ’n jakkals,” sê Walker mymerend. “En nou sit julle maar op die eensame plaas met ’n beduiwelde buurman. Dis nie juis ’n aangename lewe nie, is dit?”

      Sy skud haar kop stadig.

      “Nee, aangenaam is dit nie, maar ek bly nog lief vir hierdie plek. Solank ons hier bly, het ons nog ’n inkomste uit die plaas. As ons trek, sal ons op ’n ander manier ’n bestaan moet maak.”

      Hy lag sag.

      “Jy kan altyd met ’n ryk man trou.”

      Carolien kyk hom skeef aan. Sy bruin hare blink in die son en sy donker oë is half in skadu’s gehul. Hy is nie te onaardig nie, dink sy afgetrokke. Hy is nie fris en groot soos Barend nie, maar tog is dit al asof hy taaier en harder voorkom.

      “Ryk mans is skaars,” antwoord sy na ’n kort stilte. “En dan soek hulle die verfynde dametjies uit … nie arm meisies soos ek nie.”

      “Onderskat jy nie miskien jouself nie?” wil hy versigtig weet.

      Sy lag en twee kuiltjies verskyn in haar wange.

      “Nee … ek onderskat nie myself nie. Ek het vroeg reeds geleer om die wêreld te aanvaar soos hy is. Ek kan geen jota of tittel aan hom verander nie.”

      Hy glimlag.

      “Jy sal dalk verbaas wees.”

      “Carolien!”

      Die uitroep laat die meisie orent ruk. Haar ma staan op die borand van die rif met die geweer in haar hande.

      “Wat is dit nou weer, Mamma?” wil sy moedeloos weet.

      “Walker! Gaan dadelik terug na jou tent toe! Ek het dit duidelik gestel dat ek geen vrypostigheid van julle gaan toelaat nie!”

      Walker staan stadig op en haal sy skouers net liggies op.

      “Jammer, meisie,” sê hy vir Carolien voordat hy met lang hale van haar af wegstap.

      Carolien kyk omgekrap na haar ma.

      “Was dit nou nodig, Mamma?”

      “Ja! Ek sal nie toelaat dat jy met rondlopers meng nie!”

      Carolien klim stadig die bult uit na haar ma toe. Toe sy die ouer vrou bereik, gaan sy staan.

      “Of meneer Walker nou ’n rondloper is of nie, Mamma, hy is nog ’n mens en iemand om mee te gesels. Hierdie verskriklike eensaamheid kan ’n mens tog ’n bietjie meer toegeeflik maak.”

      Hendrieka staar na haar dogter. Carolien is al een-en-twintig en in haar jong lewe het sy nog maar min mans ontmoet. Kan dit wees dat die eensaamheid te veel vir haar geword het? Carolien is mooi met haar blonde hare en helderbruin oë. Die mans sien haar raak, maar sy, Hendrieka, wou nog nooit ’n verhouding toelaat nie. Met ’n skok besef sy nou dat Carolien elke jaar ouer word en dat sy ’n eensame lewe tegemoet gaan.

      Sonder om verder te praat, draai sy vinnig om en stap terug na die huis.

      Carolien kyk haar ingedagte agterna. Wat sou Hendrieka se aftog beteken? Sy skud haar kop stadig toe sy haar moeder na die huis volg. Sy sien net nie meer kans vir al die onaangenaamheid nie. Miskien het dit tyd geword dat sy aan haar ma vertel presies hoe sy voel.

      Die Sondagoggend verloop baie rustig. Dis ’n sonnige, warm dag en dis op sulke dae dat Carolien altyd ietwat hartseer voel en sy weet nie waaroor nie. ’n Sondag het vir haar ’n somber atmosfeer wat soms neerdrukkend is.

      Teen die middag sien sy Harrison die veld in stap. Hy loop met gemaklike, lang treë asof hy presies weet waarheen hy wil gaan. Met ’n ligte skouerophaling draai sy van die venster af weg en gaan weer in ’n stoel sit en lees.

      Hendrieka maak haar verskyning in die deur.

      “Dis te warm om selfs te lê en slaap,” kla sy en vee die sweetdruppels van haar voorkop af.

      “Hoekom trek Mamma nie ’n koeler rok aan nie?”

      Hendrieka skud haar kop heftig.

      “’n Mens moet nog altyd die Sabbat respekteer,” sê sy beslis.

      Carolien se blik dwaal na haar moeder se tabberd van dik, gewaterde sy. Dis tot hoog teen die nek toegeknoop en ’n breë kantkraag hang oor die skouers. Dis geen wonder dat haar ma wil versmoor van die hitte nie, dink sy.

      Buite hoor hulle skielik opgewonde stemme en hulle kyk vraend na mekaar. So ’n lawaai is net ongehoord op ’n Sondag.

      Hendrieka stap na die stoep, gevolg deur Carolien.

      Harrison staan met ’n stuk klip in sy hande en die ander twee mans lag en babbel opgewonde. Hulle kyk op toe die ou dame op die stoep verskyn.

      Harrison hou die klip na Hendrieka toe uit.

      “Kyk hier, mevrou! Ek het dit op u plaas gekry … dis goud!”

      Hendrieka staar na hom.

      “Wat sê jy?”

      “Dis goud, mevrou! Ek was my lewe lank ’n delwer in Australië en ek het nog nooit sulke gouddraende erts gesien nie! Ek ken prospekteerwerk en u kan my maar glo! Hierdie is goeie, báie goeie goud!”

      2

      Hendrieka staar ’n lang ruk swyend na die verwaarloosde arbeider voor haar. Sy kyk nie een keer na die klip in sy hande nie.

      “Vat dit weg,” sê sy eindelik skor. “Vat dit net weg!”

      Die

Скачать книгу