Die einde van die reënboog. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die einde van die reënboog - Annelize Morgan страница 4
Madame Roubaix kom ’n paar minute later terug en drafstap haastig na die sitkamer toe Colette haar vertel dat die belangrike gas daar op haar wag.
Colette gaan voort met haar werk. Sy draf heen en weer tussen die kombuis en die eetkamer en haar blik dwaal telkens na die sitkamerdeur wat toe bly. Sy wens die man wil uitkom sodat sy net nog een keer na hom kan kyk. Dalk sal dit die laaste keer wees dat sy hom sal sien.
Eindelik gaan die deur oop en die lang man kom uitgestap. Madame Roubaix lyk ietwat bekommerd toe sy hom na die buitedeur vergesel.
Colette sluk hard en kyk hulle agterna. Hy het nie eens in haar rigting gekyk nie, dink sy teleurgesteld. Hy het al klaar vergeet dat daar ’n eenvoudige kelnerinnetjie bestaan.
O wel, dink sy en haal haar skouers liggies op, ek kon seker niks anders verwag het nie. Dit was net ’n lawwe droom.
Madame Roubaix en die vreemdeling praat nog met mekaar. Madame lyk baie bekommerd en die lang man se gesig is hard soos graniet. Dit laat die gaste in die eethuis onder mekaar fluister. Hulle kan nie hoor wat die twee gesels nie, maar hulle kan raai dat die vreemdeling se besoek nie juis vriendskaplik was nie.
Colette deel die borde swyend uit. Toe sy weer een keer vlugtig opkyk in die vreemdeling se rigting, sien sy hoe sy sysakdoek val. Hy is onbewus daarvan dat hy dit verloor het. ’n Oomblik lank aarsel sy en dan stap sy vinnig soontoe en tel dit op.
“Monsieur?”
Hy kyk ietwat geïrriteerd om.
“Ja?”
“U het dit laat val.”
Net een sekonde lank ontspan sy gesig in ’n effense glimlag.
“Merci, mademoiselle.” Dan draai hy om en met ’n kopknik in madame Roubaix se rigting verlaat hy die eethuis.
Colette is byna seker dat sy hom nooit weer sal sien nie.
2
Jerôme volg die kok soos ’n hond. Sy probeer hom ignoreer, maar elke keer kom hy vierkant voor haar staan sonder om ’n woord te sê.
“Jy is in my pad, jou ou stuk sening!” sê sy skerp.
“Ek wag vir Colette se kos.”
Sy beduie na die tafel.
“Daar lê twee appels!”
“Hulle is vrot!”
“Dis al wat ek haar kan gee!”
“Jy sal vir ’n ordentlike bord kos sorg!” skree Jerôme in sy skril stemmetjie.
Anna staan en gluur die ou man aan. “Van die bredie wil ek môre pastei maak en van die aartappels gaan ek sop kook!”
Jerôme wip op en af.
“Dan vat ek dit self!”
“Jy sal dit nie waag nie!”
Hy drafstap om die tafel na die groot es waar die potte kos nog staan. Anna probeer hom voorkeer, maar hy het reeds ’n lepel in die pot bredie toe sy hom bereik.
“Los dit uit!”
“Probeer my keer!” jil die ou man plesierig en skep ’n groot lepelvol in ’n bord.
Sy probeer die bord by hom gryp, maar hy raps haar venynig met die lepel oor haar kneukels.
“Ek sal madame Roubaix hiervan sê!” skree Anna en vryf haar seer kneukels.
“Doen dit gerus!” kap hy terug en maak die bord vol met die aartappels. “Sy sal dalk regtig graag wil weet hoekom Colette elke dag uitteer en al moeër word. Sy sal graag wil weet hoekom haar kelnerin nie so goed kan werk soos in die begin nie!”
Anna gluur hom aan.
“Jy sal dit nog berou, Jerôme de Villiers!” sis sy woedend. “As ek teen die einde van die week nie meer genoeg kos het om vir die gaste voor te sit nie, sal madame Roubaix wil weet wie dit opgeëet het!”
Oupatjie lag net plesierig en skink ’n groot beker vol melk.
Anna bal haar vuiste van frustrasie toe Jerôme met die bord kos en die beker melk by die kombuis uitstap. Hy is net by die deur uit toe die lepel by die kombuis ingevlieg kom en teen die oorkantste kas val.
Oupatjie gaan by die trap op na die klein kamertjie wat hy en Colette deel.
Colette het reeds gewas en haar nagrok aangetrek toe hy inkom. Haar blik val op die bord stomende bredie en sy sluk hard.
“Waar kry Oupa dit?”
“Ek het die kok so ’n bietjie vasgevat,” sê hy opgewek en sit die bord en beker versigtig op die tafel neer. “Toe, eet nou. Môreaand bring ek weer vir jou kos.”
Terwyl Colette eet, praat hulle nie veel nie. Toe sy die bord eenkant toe stoot en die melk nader trek, grinnik die ou man.
Sy glimlag. “Daar was vandag ’n edelman in die eethuis, Oupatjie. Ek het ’n kniebuiging voor hom gemaak en hy het selfs met my gepraat!” Haar oë blink.
Hy loer agterdogtig na haar.
“Het die kos nou jou verstand aangetas? Ek is nie blind nie, meisiekind! ’n Vroumens se oë blink net so wanneer sy smoorverlief is.”
Sy lag sag.
“Ag tog, Oupa, ek sal hom nie weer sien nie. Dit was net wonderlik om met so iemand te kon praat. Sy klere was van fluweel en egte sy. Daar was ’n smarag in sy dasspeld en hy het nie sy hare gepoeier soos hulle in Frankryk doen nie. Op sy skoene was daar silwer gespes en die knope van sy baadjie was ook van silwer.” Colette se blik raak dromerig. “Ek het sy sakdoek vir hom opgetel en vir hom gegee. Hy het gesê: ‘Merci, mademoiselle.’”
Jerôme gee ’n hiklaggie.
“’n Mens sou dink hy het gesê: ‘Jy is die mooiste vrou in die wêreld, mademoiselle!’ Genade, meisiekind, dit was blote goeie maniere.”
Colette kyk vies na haar oupa.
“Moet Oupa altyd so ’n ou pretbederwer wees?”
Hy snork verontwaardig. “Ek wil jou voete op moederaarde hou, dis al. Vergeet van daardie pierewaaier. Ons moet liewer beplan hoe ons ’n ander blyplek en werk kan kry. Hier sal ons krepeer van ellende.”
Sy sug liggies.
“Oupatjie sal die kok nie elke keer kan afdreig nie. Nou maar goed, ons moet weer begin. Ons gaan woon in ’n ander herberg en soek ander werk.”
Jerôme vryf oor sy baard. “Moet ons nou sommer alles net so los?”
Sy kyk skuins na hom. “Oupa kan hier bly, maar ek