Hoe kwesbaar die hart. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hoe kwesbaar die hart - Malene Breytenbach страница 5
“Hel! Hier sien ek ’n ou vriendin en al wat sy doen, is om my uit te vreet vir als wat sleg is.” Sy mooi gesig vertrek komies.
“Wel, jou sondes haal jou in. Jy sal nooit weer die kans kry om ’n weddenskap met my te wen nie.”
Hy is dadelik behoedsaam. “Waarvan praat jy, sussie?” sis hy.
“Jou weddenskap destyds dat jy my sal oorreed om na jou broer se partytjie te gaan, boetie,” sê sy opsetlik bedaard. “Onthou jy? Ek hoop jy het jou honderd rand darem goed bestee. Daarmee kon jy ’n ander meisie vir ’n hamburger geskiet het.”
Sy mond het oopgeval en nou lyk hy erg verleë. “Hel, Brenda … Ek het nie gedink jy sou dit uitvind nie. Ek het nie bedoel om jou gevoelens seer te maak nie.”
“Nee, omdat jy my gevoelens geensins in aanmerking geneem het nie. Maar dis water onderdeur die brug. Kom ons vergeet daarvan.”
Hy skud sy kop. “Ek is regtig jammer. Jy laat my soos ’n hond voel.”
“Dankie vir jou geselskap en toemaar, moenie huil nie. Nou moet jy my verskoon. Ek is weer aan diens.”
Sy staan op en los hom aan tafel, bewus daarvan dat hy haar agterna kyk.
Nou weet jy waar jy met my staan, Thomas Naudé, dink sy. Maar toe is sy half spyt. Hy is nog nuut en vreemd hier. Moes sy dit ooit opgehaal het? Dis so lank gelede. En juis hier waar dit lekker is om ’n ou bekende te sien. Sy sug. Ag nou ja, hy moet dit maar verwerk soos sy die destydse belediging moes verwerk het. Dit het haar nogal seergemaak, maar hy is gewoonlik so ligsinnig dat hierdie ding hom sekerlik nie lank sal laat sleg voel nie.
Soos Brenda voorspel het, maak Thomas ’n indruk op al wat vrou is. Dit gons behoorlik oor die aantreklike jong Suid-Afrikaanse dokter. Sy weier egter om betrek te raak by praatjies oor hom. Sy is hier om te leer, en die ondervinding gaan ’n aanbeveling wees as sy aansoek doen om in Suid-Afrika in ginekologie en verloskunde te gaan spesialiseer.
Sy en Eben is die oggend vry en hulle beplan om na Hampton Court-paleis te gaan. Daar is ’n klop aan haar deur en sy maak oop, want sy verwag hom. Tot haar verbasing is dit nie hy wat daar staan nie, maar Thomas Naudé.
“Haai. Is jy nog kwaad vir my?” vra hy sedig.
Sy glimlag. “Nee wat. Ek het gedink dis Eben. Ons gaan Hampton Court toe. Ons is besig om al die besienswaardighede die een na die ander in te ryg in ons vrye tyd.”
“Ag nee. My oom is hier vir ’n mediese kongres. My oom Charl. Onthou jy hom nog van die gewraakte partytjie af? Die ginekoloog?”
Dis asof haar asem ’n oomblik verstok. Sy knik. “Ja, ek onthou hom.”
Hoe kan ’n mens so ’n man ooit vergeet?
“Hy nooi ons – vir my, jou en Eben – uit vir die dag. Môre gaan hy terug. Wil julle nie eerder ’n ander dag na Hampton Court gaan nie? Hy neem mens altyd vir helse lekker etes uit, en hy is hier met ’n gehuurde Bentley. Ons hou ons lywe lords en ladies.”
Brenda is erg in die versoeking. “Wel, as Eben nie omgee nie, kan ons dit dalk oorweeg,” sê sy huiwerig.
Eben verskyn meteens. “Haai! Waaroor sal ek nie omgee nie?”
“My oom Charl is hier en hy wil ons drietjies vandag uitneem,” sê Thomas. “Hy is ’n ou wat ’n mens lekker treat. Ek beveel dit ten sterkste aan.”
Eben lyk half onwillig, maar hy kyk na Brenda. “Wil jy gaan?”
“Wel …”
“Oukei, ons sal saamgaan,” sê Eben gelate. “Ons kan volgende week die paleis gaan besigtig.”
Toe Charl Naudé agter die Bentley se stuur uitklim, slaan hy amper Brenda se asem weg. Dat ’n man so indrukwekkend kan wees, is ’n sonde. Sy moet haar met groot moeite ongeërg hou en groet hom vriendelik.
“Dankie dat u aan ons dink, dokter.”
“Dis ’n plesier. Ek het gedink dit sal lekker wees om saam met Suid-Afrikaners en Thomas se vriende te kuier.”
Sy grysblou oë bekyk haar goedkeurend van bo tot onder, voordat hy sy hand na Eben ook uitsteek. “Dokter Brynard? ’n Plesier om jou ook weer te sien.”
“En vir u,” reageer Eben beleef. “Noem my asseblief Eben.”
“Julle kan gerus maar vandag die ‘u’ los, hoor. Dis gans te formeel. Noem my Charl. Ek is nie soveel ouer as julle nie en ek wil nie soos ’n ou omie voel nie. Nou, het julle enige voorkeure waarheen julle wil gaan? Solank ons ook by ’n goeie restaurant uitkom.”
Brenda en Eben kyk vlugtig na mekaar. “Ons sou Hampton Court toe gegaan het,” sê sy. “Dis glo pragtig en dis boonop ’n mooi dag. Die weer kan hier so dikwels guur wees. Was u … jy … al daar?”
“Ek was jare gelede kortstondig daar. Dis nie net ’n mooi paleis nie, maar die tuine is verruklik. Sal ons soontoe gaan? En daarna iewers gaan eet?”
Brenda is verheug. “Dit sal baie lekker wees.”
“En ons ry boonop in styl,” lag Eben. “Ek sal voel soos prins Charles as ek met dié motor deur Londen toer.”
Charl lyk geamuseerd. “Nou goed. Brenda sit voor en die twee manne agter. Hulle kan backseat-drive en die pad aanwys. Ek neem aan julle het ’n padkaart?”
“Ek het een,” verseker Eben hom. “En ek het dit al goed opgeswot, want ek wil wragtig nie in dié groot plek verdwaal nie. Die blote gedagte aan verdwaal in Londen gee my horries.”
Brenda sug van lekkerkry toe die statige motor wegtrek. Sy loer na die man langs haar se sterk profiel en besluit dan dat sy liewers nie moet lyk asof sy haar oë nie van hom kan afhou nie. Duidelik het sy vrou nie saamgekom na die kongres nie. Watter verrassing om hom weer te sien! Met hulle eerste ontmoeting was sy nie seker of sy van hom hou nie, maar vandag het hy blykbaar besluit om sjarmant te wees.
Hulle loop en kyk na die rooskleurige paleis en Brenda is in vervoering.
“Koning Hendrik die Agtste het dié paleis van sy hoofminister, kardinaal Wolsey, afgeneem en dit vir sy tweede vrou, Anne Boleyn, gegee,” vertel Charl. “Hy was toe nog gek na haar, en die kardinaal kon dit nie regkry dat die Pous toestemming gee dat Hendrik van Catherine, sy eerste vrou, skei nie. Anne Boleyn het egter nie lank na die kardinaal nie tot ’n val gekom. Sy is onthoof en Hendrik het sommer dadelik met die derde van sy ses vroue, Jane Seymour, getrou. Ek onthou nog dat die gids ons destyds vertel het dat Anne Boleyn, Jane Seymour en die koning se vyfde vrou, Catherine Howard, wat ook onthoof is, hier spook. Dit was klaarblyklik gevaarlik om Hendrik se oog te vang of met hom te trou.”
“Ag, ek glo nie in spoke nie,” lag Thomas.
“As die koning so wreed van hulle ontslae geraak het, is hulle geeste seker rusteloos,” merk Eben op.
Thomas lag. “Ek wens