Die lente kom weer. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die lente kom weer - Christine le Roux страница 2

Die lente kom weer - Christine le Roux

Скачать книгу

ja,” kom Ben se gemoedelike antwoord. “My bynaam is Teddie en joune: die Beer. Het jy dit nog nooit gehoor nie? Dis nogal raak gesê, as jy doodeerlik wil wees.” Hy haal sy skouers op. “Ek lyk seker soos ’n teddie, dik en gemaklik. En jy gedra jou moontlik soos ’n beer, of hoe sê ek nou?”

      Frans stoot sy kos rond soos hy die oggend die papiere op sy lessenaar rondgeskuif het. “Ek vind dit vermetel van die meisies. Bloot omdat ek hoë eise stel en verwag dat hulle hulle gedra en nie in die gange staan en giggel nie, is geen rede om byname te begin gee nie. Die meeste van hulle kom net kantoor toe om met die ander te sit en gesels en skindernuus uit te ruil. Ek duld dit nie en jy weet dit. Ons het hard gewerk om die firma op te bou – jy weet dit tog ook – en ek kan dit nie verduur om mense te sien rondloop nie. Hulle word betaal om te werk en dit is tog nie te veel verwag nie, is dit?”

      Ben kyk sy vriend nadenkend aan. “Nee, jy is reg, maar dit is tog nie nodig dat die arme goed in angs en bewing moet rondloop nie? ’n Grappie of ’n glimlag is tog seker soms toelaatbaar.”

      Frans haal net sy skouers op. Hierdie gesprek, of ’n variasie daarop, vind gereeld plaas. Hy is wel deeglik daarvan bewus dat die personeel baie lief is vir Ben en dat hulle lig loop vir hom, Frans, maar dit pla hom geensins nie. Sy eise is hoog. Voordat hy vir mevrou Nel in diens geneem het, het hy seker goed ses sekretaresses in die pad gesteek omdat hulle nie flink genoeg, vinnig genoeg, netjies genoeg of ernstig genoeg was nie. ’n Meisie wat sit en giggel omdat sy ’n fout begaan het, bly nie lank in sy diens nie. Ook nie een wat haar naels sit en bestudeer, of vir hom vra waarom hy nie getroud is nie.

      “Nou ja,” sê Ben. “Kom jy Saterdagaand by ons braaivleis eet?”

      “Dankie, ja, dit sal lekker wees.”

      Hulle staan op en stap uit; die lang, skraal man met die dik, effens deurmekaar hare en sy korter, ronder vriend. Terwyl hulle terugstap na hulle kantore, vertel Ben sy vriend hoeveel probleme hy met sy grassnyer het en hoe hulle jongste kind nou leer praat. Frans luister enigsins geamuseerd, maar met werklike belangstelling. Hy is peetpa van Ben en Elsa se oudste kind en bowendien is hy en Ben, hulle uiteenlopende geaardhede ten spyt, opreg lief vir mekaar.

      In die gang voor Ben se kantoordeur neem hulle afskeid. “Probeer om nie die nuwe meisiekind dadelik te verjaag nie,” vermaan Ben tergend voor hy groet.

      Frans stap alleen verder en toe hy agter sy lessenaar gaan sit, sien hy die stapel netjiese tikwerk wat juffrou Nel reeds voltooi het. Hy lees dit skepties deur, oortuig dat dit vol foute sal wees, maar moet tog ná ’n ruk teësinnig toegee dat dit uitstekend gedoen is. Hy teken die briewe en is net klaar toe sy inkom.

      “Tevrede?” vra sy koel, notaboek en pen in haar hand.

      “Ja.” Hy hou die lêer na haar uit en sy neem dit by hom.

      Sy kyk af na die notaboekie en lees die boodskappe wat sy daarop neergeskryf het. “Dit is mense wat gedurende die etensuur geskakel het,” sê sy. “Hulle het blykbaar verwag om u hier aan te tref.”

      “Bog,” sê hy kortaf. “Ek en my vennoot gaan eet elke dag saam.” Hy kyk na haar. “Was jy dan die hele tyd hier?”

      “Ja.”

      Hy lewer nie kommentaar nie en die res van die middag gaan vinnig en flink verby. Hy sal dit nooit erken nie en hy sou dit ook nooit geglo het nie, maar die nuwe meisie werk beter as mevrou Nel. Vyfuur op die kop steek sy haar kop om die deur en groet.

      “Tot siens,” sê sy. “Ek neem die verslag huis toe om dit daar klaar te tik. Dit sal môre gereed wees.”

      “Dis nie nodig om by die huis te werk nie. So dringend is dit ook nie.”

      “Ek verkies om dit klaar te maak,” sê sy kalm en loop. Net voor die deur agter haar toegaan, hoor hy hoe een van die ander meisies vir haar vra hoe sy dit regkry om vir die Beer te werk. Hy kners op sy tande en is vir ’n oomblik lank lus om in die gang uit te storm en te kyk wie die spreekster is, maar hy onderdruk die begeerte en maak gereed om huis toe te gaan.

      Hy is al gewoond aan die sukkelende middagverkeer en skakel die motorradio aan sodat hy nie geïrriteer moet word nie. Die mense is almal haastig om by die huis te kom en boonop dreig ’n storm, sodat stukke papier en koerante oor die strate waai. Net toe hy sy motor onder die woonstelblok inswaai, bars die storm los en toe hy bo-op die dak deur sy sitkamervenster kyk, sien hy net grys strome water teen die vensters. Dit bedruk hom en hy weet nie waarom nie. Gewoonlik hou hy van die reën, veral hier in die stad waar alles so moeg en vuil kan lyk, maar vanmiddag voel hy rusteloos en onvergenoeg.

      Hy het net die ketel aangeskakel toe die telefoon lui, en terwyl hy die gehoorstuk optel, sukkel hy om sy baadjie uit te trek.

      Dis mevrou Nel, haar stem yl en angstig. “Meneer Fourie,” sê sy. “Ek is so jammer dat ek nie vandag kon kom werk nie. Hulle wou ook nie hê ek moet bel nie, maar ek het net gesê ek moet, anders sal ek nooit kan rus nie.”

      “Dis alles in orde, mevrou,” sê hy gelate. “Ek is jammer om te hoor van u siekte.”

      “Ek is nie siek nie, meneer,” sê sy heftig. “Dis die dokter wat sê ek moet rus.”

      “Dan moet u na hom luister.”

      “My niggie is regtig baie knap,” pleit sy asof sy seker is hy is kwaad vir haar. “Sy werk vinniger as ek.”

      “Dis alles reg,” herhaal hy. “Ek wil hê u moet rus en sterk word.”

      “Dankie, meneer,” sê sy verleë. “En as daar enige probleme is, moet u my net laat weet.”

      “Ek dink nie dit sal nodig wees nie, mevrou. Sterkte en tot siens.”

      Hy maak vir hom ’n beker koffie en sak in een van die leunstoele neer. Die kamer is pragtig gemeubileer, luuks en gemaklik, en tog leweloos. Alles is smaakvol, maar ’n vreemdeling sal die indruk kry dat die meubelstukke deur iemand gekies is wat baie geld het maar geen liefde vir die voorwerpe nie. Die enigste ding wat aan die vertrek bietjie karakter gee, is ’n deurmekaar hoop tydskrifte op die koffietafel.

      Frans staan op en skakel die platespeler aan, maar ná ’n paar minute skakel hy dit weer af en gaan staan by die groot glasdeur wat op die balkon uitloop. Die water stroom oor die plaveisel van die balkon en die blombakke is reeds vol water.

      “Dan hoef ek dit tog nie vanaand nat te gooi nie,” sê hy hardop.

      Hy loop weer kombuis toe en maak die yskasdeur oop. Die liggie gaan vriendelik aan en verlig die kos binne-in. Hy haal ’n stuk vleis uit en staan fronsend daarna en kyk. Met sy voorvinger druk hy daarop en sien hoe sy vinger holtes in die vleis maak. Hy stoot die ander goed op die rakke rond en haal ’n klein sakkie met aartappels uit. Hulle lyk nie goed nie en hy weet waarom. Hy het dit die vorige week gekoop en byna ’n week lank in die lig laat lê, sodat die aartappels groenerig geword het. Een of twee het selfs begin uitloop. Die vorige dag het hy dit raakgesien en gou in die yskas gestop, maar dit was natuurlik te laat. Hy tel die sakkie op, gooi dit in die asblik en kyk vies na die stuk vleis. Wat kan hy nou hierby gaar maak? Gelukkig lui die telefoon weer en hy verlaat die kombuis dankbaar.

      Dit is sy suster wat van die opsigter se woonstel op die grondvlak af bel.

      “Haai,” sê sy. “Dis ek, sus. Hemel, maar is ek bly dat jy by die huis is! Ek was op pad na my woonstel in hierdie vreeslike reën en iets het met die motor verkeerd gegaan.

Скачать книгу