Die lente kom weer. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die lente kom weer - Christine le Roux страница 3
“Het jy nie ’n sambreel nie?” vra hy.
“Moenie nog staan en praat nie,” sê sy bibberend. “Het jy iets wat ek kan aantrek?”
Hy loop voor haar uit na die slaapkamer en haal ’n kamerjas uit die kas. “Hier,” sê hy. “Trek dit aan.”
Sy loer guitig in die kamer rond. “Is jy alleen hier?”
“Natuurlik. Wie het jy verwag?”
“’n Mens weet nooit nie. Jy is tog my alleenloper-broer.”
“Jy is laf, Maryke. Trek jou klere uit en vryf jou hare droog. Wil jy koffie hê?”
“Dit sal heerlik wees, dankie.” Sy begin sommer haar bloes losknoop en hy loop haastig uit en skakel die ketel weer aan. Hy is eintlik baie lief vir sy suster, al maak sy hom gewoonlik radeloos.
Terwyl hy die koffie in die koppies gooi, kom sy die kombuis binne, haar skraal lyfie verdwynend in die groot japon. “En dié?” vra sy en druk ook ’n vinger in die vleis.
“Dis my aandete.”
Sy skud haar kop. “Dis genoeg vir ons albei, maar wat gaan ons daarby eet? Het jy aartappels?”
“O,” sê hy tergend. “Eet jý ook vanaand hier?”
Sy maak die kombuiskassies oop en pruil omdat die meeste leeg is. “Ja,” sê sy. “Of gaan jy uit?”
“Nee. Wat van jou kitaarspeler – of fluitspeler? Wat doen die man nou weer?”
“Hy is lid van ’n orkes,” sê sy waardig. “Net, hy tree vanaand op. Ek is los. Buitendien sal jy eers my motor moet regmaak.”
“Maryke,” sê hy sugtend. “Jy weet net so goed soos ek dat ek van die binnekant van motors net mooi niks weet nie. Kom ons gaan drink ons koffie in die sitkamer.”
Toe hulle albei sit, kyk sy krities in die rondte en trek haar kaal voete onder haar in. “Jy weet,” sê sy meerderwaardig, “Ma-hulle het kastig gesê ek kan net stad toe kom omdat jy reeds hier is en ’n ogie oor my kan hou, maar as hulle weet wat die toedrag van sake werklik is, weet ek darem nie …”
“Wat bedoel jy?” vra hy onthuts.
“Kyk hoe leef jy,” sê sy en skud ’n hand uit die lang mou om dit deur die kamer te waai.
“Wat is verkeerd daarmee?”
“Kyk net hierdie kamer: stof op die boekrakke en nie ’n blom in sig nie. Ook nie eers ’n koekie om by die koffie te eet nie.”
“Ek is jammer,” sê hy sarkasties. “Ek was vandag so besig dat ek nie by koekbak uitgekom het nie.”
“Jy kan koop,” sê sy onverstoord. “Jy is ryk en belangrik genoeg. Kan jou sekretaresse dit nie doen nie? In al die boeke wat ek al gelees het, stuur die baas net sy sekretaresse uit om alles te doen.”
“Myne werk,” sê hy. “Sy het nog minder tyd as ek om rond te loop en koek vir my gulsige suster te koop.”
“Ek is nie gulsig nie,” kla sy, “Net nat en honger.”
“Foei tog,” spot hy. “Nou ja, jy kan netnou vir ons lekker kos maak. Ek het baie blikkieskos.”
“Dis wat ek bedoel,” antwoord sy en voel hoe die koffie haar warm maak. “As Ma moet weet jy leef van blikkieskos … Hoekom jy nog nie getroud is nie, weet nugter. Moet ek ’n paar van my vriendinne aan jou kom voorstel?”
“Asseblief nie!” keer hy vinnig. “Ek het hulle al gesien.”
“Wat makeer hulle?” vra sy geaffronteer. “Hulle is liewe meisies.”
“Ongetwyfeld. Dis net dat ek al ’n bietjie oud is om met kunsstudente uit te gaan.”
“Jy is nie oud nie,” weerspreek sy hom. “Wat is jy nou – twee-en-dertig? Dis nog nie so oud nie.”
“Vir ’n laatlammetjie soos jy ís dit seker nie, maar kyk na Ben. Hy is net ’n jaar ouer as ek en hy het al twee kinders.”
“Ja,” mymer sy. “Ek kan my kwalik voorstel hoe dit sal wees as jy ’n vader is. Nie dat ek sal omgee nie. O nee, ek sal daarvan hou om tante te speel. Ons sal ’n plan moet maak.”
“Nee,” keer hy. “Ek ken jou planne en ek stel nie belang nie. Ek leef lekker so alleen.”
Sy sit haar leë koppie neer en staan op. “Jy het maar redelik bedruk en eensaam gelyk toe ek hier aankom. Maar eers sal ek vir ons gaan kos maak. Daarna kan ons vir jou ’n vrou soek.”
Hy lag, ’n diep lag wat sy gewoonlik ernstige gesig verstommend laat verander. “Loop,” sê hy. “En wys vir my of jy vir jou bejaarde broer kan sorg.”
Hy loop nietemin agter haar aan kombuis toe en leun teen die yskas terwyl sy werk. Hy is baie lief vir sy enigste sustertjie, al is sy soveel jonger as hy. Dit is eintlik maar eers die afgelope paar jaar dat die ouderdomsverskil tussen die twee onbelangrik geword het. Nou is albei volwasse en groot maats.
“Weet jy,” mymer hy. “Ek dink nou weer aan die dag toe Ma-hulle my gesê het ek gaan ’n maatjie kry. Ek kon dit net nie glo nie. Al my maats het broers en susters gehad; ek was die enigste alleenlopertjie en ek kon uit my vel spring van opgewondenheid toe ek die nuus hoor. Hoe oud was ek – elf? Terwyl Ma in die verpleeginrigting was, het ek al my ou speelgoed uitgepak en besluit watter ek vir jou sal gee.”
“Ek wed dit was al die stukkende goed,” terg sy en draai om, ’n tamatie in een hand en ’n mes in die ander.
“Dit was nie!” sê hy verontwaardig. “Dit was net die goed waarmee ek nie meer gespeel het nie. My teddiebeer en so. En toe kom Ma by die huis en in plaas van ’n maatjie het sy ’n piepklein dingetjie in die arms. Ek was so teleurgestel; ek onthou nóú nog hoe ek gevoel het.”
“Jy was sommer net dom,” antwoord Maryke saaklik. “Hoe kon jy nie geweet het ek sou ’n klein babatjie wees nie?”
“Ek weet, ja. Later het ek besef dit was ek wat verkeerd was. En tog was jy omtrent vyftien of sestien voor ek jou as maat beskou het. Voor die tyd was jy net ’n simpele ou dogtertjie.”
Maryke steek vir hom tong uit en sit die biefstuk in die warm pan. “Jy kan vir ons tafel dek. Die blikkieskos is warm en nes die vleis gaar is, moet ons eet, anders is al my moeite verniet.”
Hy haal tafelmatjies uit ’n laai en dek vir hulle op die ontbytblad en hy kan nie help om te lag toe sy triomfantlik die kos voor hom neersit nie.
“Daar,” sê sy. “Jou suster het jou al weer van hongersnood gered. Hoe gaan dit by die werk?”
“Goed,” antwoord hy kouend. “Ek het ’n nuwe sekretaresse.”
“Die arme ding,” sê Maryke en draai om om in die kassie te soek na die sout. “Ek wonder hoe lank sy dit