Die lente kom weer. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die lente kom weer - Christine le Roux страница 5
“Wat van Neelsie?” het sy haar broer gevra.
Hy het net sy kop geskud, te verdwaas om te praat. “Marie is dood,” het hy oor en oor gesê en dit was Kristien wat op die ou end die baba geneem het. Haar broer wou nie langer in die groot huis bly waar elke meubelstuk vol herinneringe was nie en hy het dit verkoop en weer in ’n woonstel gaan bly. Sy het onbepaalde verlof geneem – soos sy vir meneer Fourie gesê het – maar op die ou end het sy bedank. Dit het sy nie vir hom gesê nie, maar sy kon nie haar ou firma aan ’n lyntjie hou nie en dit was nie vir haar noodsaaklik om te werk nie, aangesien haar broer haar maandeliks ’n meer as voldoende toelaag betaal het.
Die eerste paar weke was die versorging van die baba iets wat sy werktuiglik gedoen het. Sy het nie altyd geweet wat om te doen nie en sy was ook die hele tyd daarvan bewus dat die baba nie hare is nie. Wanneer Neels die dag weer trou, sal hy sy kind wil terughê. En tog kon sy nie afsydig bly nie. Die baba het dit nie toegelaat nie. Hy wou liefgehê word en sy kon nie anders nie, sy het vir hom lief geword. Sy het hom liefgekry asof hy haar eie kind is en dit het haar broer tevrede gestel. Selfs nou, nege maande later, is die situasie nog net so vaag. Neels sê hy sal nooit weer trou nie, maar sy weet sy kan dit nie glo nie. Hy kan weer iemand ontmoet en dan is sy klein Neelsie kwyt. In haar hart het sy al vrede gemaak met die konflik. Al is dit dan net tydelik, moet sy die kleinding liefhê asof dit permanent is.
Pierre het gesorg vir die derde skok. Hy het die aand vervaard by haar aangekom nadat hy die nuus van Marie se dood gehoor het en toe hy inkom, het sy met die baba op haar skoot gesit.
“Ek is so jammer,” het hy gesê en by haar stoel gekniel. “Ek is jammer ek was nie op kantoor toe jy gebel het nie.”
Sy het net voor haar gesit en uitstaar en werktuiglik alles vertel wat daar te vertel was. Hy het geluister met sy arm om haar skouer, en sy was opreg dankbaar vir sy bystand en simpatie. Toe het die baba gehuil en sy het opgestaan en die klein dingetjie teen haar skouer gehou.
“Pas jy die baba vanaand op?” het Pierre gevra.
“Nie net vanaand nie. Ek sal hom van nou af versorg.”
“En jou werk?”
“Ek het verlof geneem.”
Daardie aand het hy nie verder iets gesê nie en die volgende paar weke was hy swygsaam. Hulle kon vanselfsprekend nie meer so dikwels saans uitgaan nie, al was Marie se goeie huishulp altyd bereid om die baba op te pas. Alles het op ’n krisis uitgeloop toe Pierre een aand kom kuier het toe die baba knieserig was. Hy wou gesels en trouplanne maak en die baba het gehuil terwyl Kristien op en af in die sitkamer geloop het.
“My goeie genade!” het hy uiteindelik uitgeroep. “Hoe kan ons iets bespreek onder hierdie omstandighede?”
“Jy is reg,” het sy afgetrokke geantwoord, al haar aandag by die baba. “Ons moet maar ’n ander aand weer probeer.”
“Nee.” Sy stem was skerp en vasberade. “Dis tyd dat jy jou regruk. Ons kan nie langer so voortgaan nie.”
“Wat bedoel jy?” het sy oor die donsige koppie van die baba gevra. “Ons het geen keuse nie.”
“O ja, ons het,” was sy besliste antwoord. “Jy het nie meer tyd vir my nie. Jy stel nie meer belang in ons trouplanne nie. Jou aandag is net heeltyd by die kind.”
Haar oë het vol trane geskiet. “Wat kan ek anders doen? Daar is niemand anders om na hom te kyk nie. Ek dog jy het altyd gesê jy is lief vir kinders?” Sy kon nie help om beskuldigend te klink nie.
“Ek is,” het hy homself probeer verweer. “Ons eie kinders. Jou broer moet ’n ander plan maak; hy kan nie verwag dat jy die kind moet versorg nie.”
Die baba het teen haar skouer aan die slaap geraak en sy het hom gaan neerlê. Toe sy terugkom, was Pierre egter nog net so ontstoke.
Sy het kalm na hom gekyk en gaan sit. “Daar is geen ander uitweg nie. Ek sal nooit toelaat dat die kind na vreemdelinge of na ’n inrigting gaan nie. Ek is dit aan Marie verskuldig. As jy my liefhet soos jy sê, sal jy dit so aanvaar. Dit is nie een van ons se skuld dat dinge gebeur het soos dit gebeur het nie en ons moet dit so aanvaar en daarmee saamleef.”
“Nee,” was sy kortaf antwoord. “Ek weier om dit so te aanvaar. Toe ek jou Saterdagaand wou uitneem, was jy te moeg en het nee gesê. Dit gebeur al hoe meer. Jou hele lewe draai skielik om die baba en ek is net nie meer belangrik nie.”
“Ek is jammer,” het sy moeg gesê. “Dit is seker waar, maar ek weet nie wat om anders te doen nie. Dis vir my ook ’n groot aanpassing en ek is dikwels moeg.” Sy het haar hande opgelig en weer laat sak. “Ek is jammer.”
Hy het op die armleuning van haar stoel kom sit en haar op die voorkop gesoen. “Ek sal jou sê wat ons doen. Ons gaan die naweek weg, net ek en jy. Dit kan ons net goed doen en miskien sien ons alles dan weer in die regte perspektief.”
“En die baba?”
Sy gesig het verstrak. “Los hom by jou tante of by Lina.”
Sy het haar kop geskud. “Nee, ek kan dit nie doen nie. Tante is nie meer jonk genoeg om na ’n baba te kyk nie.”
“Jy sal moet kies, Kristien,” het hy gesê en opgestaan. Sy onthou dit nog so goed. Sy het opgekyk na hom waar hy voor haar gestaan het en om sy mond was ’n harde trek. Meteens het sy gewonder hoe goed sy hom regtig ken en hoe lief sy werklik vir hom is. Die man wat voor haar gestaan het, was ’n vreemdeling. Dit was nie die Pierre wat saam met haar gelag het nie. Dit was nie die man wat gesê het hy ken en verstaan haar nie.
“Ek wil liewer nie nou daaroor praat nie,” was haar lafhartige uitweg. “Ek is moeg vanaand. Miskien kan ons in die naweek uitgaan.”
Hy het haar die Saterdagmiddag kom haal en sy het traag die baba en sy oppasser by haar tante gaan aflaai. Pierre se bui het opmerklik verander toe hulle weer alleen was en sy kon byna glo dat hy weer die ou, onselfsugtige man was vir wie sy lief geword het. Maar toe neem hy haar na sy ouers en hulle het nog nie eers tee gedrink nie, toe sy ma haar begin takel het.
“Jy is besig om ’n groot fout te begaan, Kristien,” het sy met die deur in die huis geval. “Pierre is ’n geduldige man en lief vir kinders, maar daar is perke. Jy kan nie verwag hy moet sonder meer aanvaar dat julle troue uitgestel word net omdat jy na jou broer se baba moet omsien nie! Pierre kom tog eerste in jou lewe, nie waar nie?”
Kristien het goed nagedink en toe haar kop geskud. “Op die oomblik kom die baba eerste,” moes sy erken. “Ek is jammer dat dit so gebeur het, maar dit is nou so.” Wat sy nié gesê het nie, is dat sy nie kon verstaan waarom dit op ’n keuse moes uitloop nie. Waarom kon hy haar nie aanvaar en liefhê ten spyte van die nuwe wending in hulle lewe nie? Hoe lief was hy dus in werklikheid vir haar?
“Dis jammer,” het Pierre se ma gesê en die klokkie gelui dat tee gebring moes word. Sy het nie jammer gelyk nie en Kristien het die indruk gekry dat die vrou heimlik bly was.
Kort nadat hulle tee gedrink het, het sy Pierre gevra om haar huis toe te neem en sy het gesien hoe deurborend hy na haar kyk toe sy die baba weer in haar arms hou. En toe sy die diamantring van haar vinger afhaal en woordeloos na hom uithou, het hy net na haar gekyk met ’n onpeilbare uitdrukking in sy oë en dit geneem.
Die aand het sy gesit en dink aan