Die lente kom weer. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die lente kom weer - Christine le Roux страница 7
Haar broer en tante het dadelik van hom gehou en ná ’n jaar was hy deel van hulle klein kringetjie. Ten spyte van al sy pogings het sy nooit regtig tuis gevoel in sy ouerhuis nie. Sy moeder het haar aanvaar, ja, maar Kristien het altyd die gevoel gekry dat sy iets terughou. Pierre se vader was heelwat ouer as sy vrou – ’n stil, akademiese man wat omtrent nooit gepraat het nie en wat altyd ’n vreemdeling gebly het. Die ander broers en susters was hartlik en veral met een suster het Kristien goed klaargekom.
Pierre het gou van trou gepraat, maar sy wou nie haastig wees nie. Sy het van hom gehou, en sy kon selfs sê dat sy vir hom lief was, maar iets het haar verhinder om volkome seker te wees. Sy kon nie agterkom wat dit was nie. Hy was bedagsaam, liefdevol en vol oorspronklike planne, maar dit was eers toe haar broer eendag met haar gesels het dat sy besef het wat dit was wat haar gehinder het.
Hulle het in die tuin geloop toe hy skielik na haar draai. “Kristien, jy het baie verander die afgelope jaar. Is jy gelukkig?”
“Ja,” het sy verbaas gesê. “Lyk ek dan ongelukkig?”
“Nee, nee, maar onthou, ek ken jou goed.” Hy het stilgebly en hulle het albei gedink aan die jare wat hulle alleen in hulle ouerhuis aangebly het. Dit was net hulle twee en die getroue huishulp wat al die jare vir hulle gesin gewerk het. Hulle het albei gewerk en nie eintlik sosiaal omgegaan nie. Wanneer hulle saans by die huis gekom het, was hulle tevrede om in mekaar se geselskap te wees – nie net tevrede nie, maar gelukkig. Hulle was dieselfde soort mense, het van dieselfde boeke en musiek gehou, het gemaklik in mekaar se teenwoordigheid gevoel. Toe ontmoet Neels vir Marie en toe hulle besluit om te trou, het hulle tante hulle aangeraai om die ou huis te verkoop en van nuuts af te begin.
Neels en Marie het aangedring dat Kristien by hulle kom bly, maar sy het geweier. Dit was nie reg nie, het sy gevoel. Hulle was jonggetroudes en sy sou ’n onnodige las in die huis wees. Dit is waarom sy toe haar eie woonstel gekry het.
Haar broer het gebuk by ’n struik en ’n dooie blomknop afgebreek. “Ek hou van Pierre, soos jy weet, en dis vir ons ’n riem onder die hart om jou so gelukkig te sien. Dis net …”
“Wat?” wou sy weet, ’n beklemming om haar hart.
Neels het pleitend na haar gekyk. “Jy weet hoe lief ek vir jou is, nè? Jy weet ek sal nie iets doen of sê om jou ongelukkig te maak nie. Maar dit voel vir my asof jy iets in jou persoonlikheid onderdruk om by Pierre aan te pas. Verstaan jy wat ek bedoel? Jy was nog altyd ’n ernstige, diepdenkende mens. Ek veroordeel jou nie, maar dit wil net vir my lyk asof jy nou heeltemal na die ander kant geswaai het en jou hart en siel in Pierre se ligsinnige en meer oppervlakkige leefwyse ingewerp het.”
Sy was geskok en het bly staan, die reuk van rose en nat grond in haar neus. “Pierre se leefwyse is nie so ligsinnig nie!”
Neels het ’n blaar tussen sy vingers gevou en weer gevou en nie na haar gekyk nie. “Miskien is dit die verkeerde woord. Ek is jammer. Ek hou van die man, maar ek weet net nie of hy die regte man is vir jou nie. Op die oomblik geval sy lewenstyl jou, maar gaan dit jou nie ná ’n paar jaar hinder nie? Hou jy regtig van al sy vriende? Sien jy kans om die res van jou lewe só te leef?”
“Ek weet nie,” het sy miserabel geantwoord. “Ek het nog nie so daaroor gedink nie.”
“En daar is nog ’n ding,” het hy voortgegaan, vasbeslote om te sê wat gesê moes word. “Hy is ’n baie eiesinnige mens. Hy doen wat hý wil doen en niemand sal hom van plan laat verander nie. Stem jy saam?”
“Ja,” moes sy toegee.
“Goed. Weer eens, op die oomblik geval dit jou omdat jy moontlik moeg is om onafhanklik te wees. Jy neem al so lank jou eie besluite. Jy moes as ’n relatief jong meisie leer om op jou eie bene te staan en jou eie besluite te neem omtrent jou lewe. Nou is daar ’n man wat alles vir jou besluit en wat hý sê, doen jy. Hoe lank gaan jy daarvoor kans sien? Het jy al ooit enige wens van Pierre teëgegaan?”
Sy het probeer dink. “Nee, ek kan nie onthou nie. Ons doen maar gewoonlik wat hy wil doen.”
“Juis. En hinder dit jou nie?”
Sy was verward. “Ek het nog nie so daaroor nagedink nie. Soms wens ek hy wil nie so vasbeslote wees nie, ja. Soms wens ek hy wil my meer in ag neem, ja. Maar …”
Neels het na haar gedraai en sy hande op haar skouers gesit. “Ek is baie gelukkig getroud, soos jy weet, en ek sou graag wou hê dat dieselfde geluk jou ook te beurt moes val. Dink net goed na, dis al wat ek vra. Ek wil nie hê Pierre moet iets in jou dooddruk wat kosbaar is nie.”
Sy het hom belowe dat sy daaroor sou nadink, maar al wat gebeur het, was dat sy Pierre aan ’n lyntjie gehou het. Hy wou trou en sy het gesê sy was nie seker nie. En die gesprek met Neels het haar bedruk, want sy kon week ná week meer sien dat hy gelyk gehad het.
Sy het Pierre begin toets.
“Ag nee,” het sy een aand gesê. “Ek is regtig nie lus vir ’n partytjie nie. Kom ons bly by die huis en luister musiek.”
Hy het na haar gekyk asof sy van haar sinne beroof was. “Nee. Ek is lus vir jolyt. Jy ook, jy wil dit net nie erken nie.” Hy het haar om die middellyf gegryp en haar ’n slag in die rondte gedraai. “Toe, erken dit. Weet ek nie altyd beter nie? Het ek nie van daardie eerste aand af geweet wat jy wil hê nie? ’n Mens moet jou aan die gang hou, anders word jy alte maklik neerslagtig.”
“Dis nie waar nie, Pierre,” het sy geprotesteer. “Jy laat dit klink asof ek ’n bedrukte, morbiede mens is. Ek is net nie vanaand lus vir ’n lawaai nie.”
“Lawaai? En wie sê dit gaan ’n lawaai wees?”
Op die ou end het sy maar saamgegaan om die vrede te bewaar, maar het dit glad nie geniet nie. Dit het al hoe meer gebeur dat sy teësinnig geraak het, en Pierre het dit opgemerk en haar daaroor probeer terg. Soms het hy kwaad geword, maar dan kon hy weer so liefdevol wees dat sy hom vergewe het en dan het alles weer goed gegaan. Tydens so ’n kalm periode het sy ingewillig om verloof te raak en die weke ná hy die groot, blink diamant aan haar vinger gesteek het, was besonder vredevol en sonder konflik. En tog was sy nie haastig om ’n troudatum vas te stel nie. Pierre kon nie verstaan waarom sy wou wag nie en sy kon dit ook nie aan hom verduidelik nie.
Een aand was hulle vir ’n wonder tuis. Sy het gesit en lees en hy was kwansuis besig met kantoorwerk, maar toe sy opkyk, het sy gesien hy sit haar deurborend en aankyk.
“Weet jy,” het hy skielik gesê. “Ek weet nou wat verkeerd is. Jy moet jou hare laat sny.”
Sy het verbaas aan haar hare gevat, wat soos gewoonlik in haar nek vasgebind was. “My hare? Hoekom?”
“Dit laat jou oud lyk so. As jy dit kort laat sny en laat krul in hierdie styl wat nou die mode is, sal jy pragtig lyk.”
“Nee, Pierre. Ek hou van my hare so en ek weet ek sal nie mooi lyk met kort krulhare nie.” Sy het ’n grap daarvan probeer maak. “Ek is eenvoudig nie ’n krullerige soort mens nie. Jy weet dit tog.” In haar hart was sy seergemaak, want sy het altyd gedink haar dik, blink hare is een van haar bates en sy het nooit besef hy hou nie daarvan nie.
Maar hy was skielik vol entoesiasme vir sy nuwe idee en hy het opgestaan en al om haar stoel geloop. “Ja. Ek kan dit