Duet. Johan Ferreira
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Duet - Johan Ferreira страница 9
2 Februarie
Werk sag met die liggaam
1 Korintiërs 7:4 – Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
Johan is vanaand die gas op die laataand-inbelprogram op RSG. Die tema is die uitwerking van verkragting op die psige. ’n Swaar tema, waarna ek amper nie eens kans sien om te luister nie.
“Jy sal my vergewe as ek vanaand nie na jou oor die radio luister nie?” sê-vra ek toe Johan begin regmaak om te gaan. “Dis reg so, ek verstaan,” sê my man toe hy sy sleutels vat en die voordeur begin oopsluit.
Dis laat ná twaalf toe hy terugkom. “Dit was erg,” sê Johan toe ek hom oor die aard van die program begin uitvra. “Ek wil eintlik nie weer daaroor praat nie.”
Vir dié spesifieke program wat net voor middernag uitgesaai word, kan mense inbel of ’n SMS stuur met vrae aan die kenner of, soos in vanaand se geval, die sielkundige by die omroeper in die ateljees. “Weet jy, een vrou se man verkrag haar al 38 jaar lank binne die huwelik. Mense het só seer.”
Lank nadat Johan aan die slaap geraak het, lê ek steeds wakker. Hoe gebeur so iets? Ek staan op om vir my tee te gaan maak en my siel tot bedaring te bring. By die eetkamertafel langs my rekenaar sien ek my Bybel ooplê by ’n stukkie uit Korintiërs wat ek vroeër die aand nageslaan het.
“Verheerlik God in julle liggame,” lui die opskrif op die bladsy reg langs die blad wat ek aan’t lese was.
Eer jy jou maat met jou liggaam soos God in sy Woord beveel?
Here, dankie dat U Gees in ons woon en dat ook ons elkeen se liggaam aan U behoort. Amen
3 Februarie
Die liefdeskwilt van jou lewe
Jesaja 62:4 – Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,” en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.” Die Here het jou lief en jou land behoort aan Hom.
Gisteraand, terwyl ons saam as groep om die tafels sit by die retreat, word ons uitgedaag deur die aanbieder met die mooi stem en die sagte hart om sommer net daar op die leë bladsye van ons retreatboekie ’n laslapprentje van ons lewe te teken.
“Deel die blokkie in 9 of 12 stukkies, nes jy lus het. Gebruik woorde en tekeninge om die dinge wat vir jou belangrik is en dit waarvoor jy lief is te teken,” kom die opdrag.
In die sagte lig van die kerse op die tafel en terwyl die aanbieder vir ons sag sing, teken ek my liefdeskombersie op papier. In die boonste hoek heel links my man, langs hom die twee seuns, daarna volg ’n bord kos, die naam van die tydskrif waarvan ek die redakteur is, ’n herfsblaar, ’n swetterjoel ronde gesiggies om al die mense wat ek liefhet mee uit te beeld; kollegas, vriende en familie. Daar is ’n blokkie met die blomme van ’n krismisroos, ’n koppie koffie en dan die see.
Om my kombersie mee af te werk omsoom ek dit met ’n randpatroon waarop ek die Kruis met pen en ink borduur. Alles behoort aan Hom; alles wat ek het, kom uit sy hand en daarvoor sê ek dankie.
Elkeen van ons het ’n unieke lewensprentjie, ons eie handgemaakte kwilt van liefde. Teken die prentjie van jou lewe en daardie dinge waarvoor jy lief is op ’n stuk papier.
Dankie, Here, vir die mense wat ek liefhet, vir die wat mý liefhet, en die dinge wat my bly maak en my lewe vol maak. Amen
4 Februarie
Hy vergewe, keer op keer
2 Timoteus 2:13 – Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie ontken nie. (NLV)
Sedert ek in die sielkunde begin studeer het, het ek al vele gesprekke gehad oor die pyn en teleurstelling van verhoudingsbreuk. En dit onderskei nie tussen man en vrou of oud en jonk nie.
Die jong man op my bank kan een van my seuns wees. Sy hart is gebreek. Sy meisie het hom gelos vir ’n ander ou. Sy was sy eerste groot liefde en hy glo vas dis die einde van sy verhoudingslewe. Die grootste pyn is dat sy die ander jong man begin sien het terwyl hulle nog in ’n verhouding was.
Dikwels is ons middeljare breek ons harte ook. Die man in my spreekkamer het grys hare om die slape, maar nog fiks en volstoom met die lewe besig. Sukses laat sy oë blink en hy wil nog baie bereik. Dan sak sy kop. Hy was ontrou aan sy vrou en het sy hart vir iemand anders oopgemaak. Nou leef hy in diep seerkry en oorweldigende berou.
As ouer mense in my spreekkamer kom sit, worstel ek altyd met my opvoeding en stry teen die oom of tannie. Dan byt ek op my tande en noem hulle op die voornaam, soos ’n grootmens maak. Hierdie oom is in sy diep sewentigerjare en sy glimlag laat my aan my pa dink. Hy wil vrykom van die pyn van sy huweliksontrou van veertig jaar gelede.
As Christen leef ek met die diepe dankbaarheid dat God se karakter konstant bly. Hy kan gewoon nie anders wees as wie Hy is nie. God se getrouheid oor vergifnis vir ons is konstant en deurlopend beskikbaar. Onthou om weer en weer te vra.
Onthou ek daagliks wie God is?
Liefdevolle Vader, hou my in verbintenis met U. Amen
5 Februarie
Die spinnerak van sonde
Job 38:12-13 – Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?
As kind het my ma ons geleer om fyn te kyk op pad iewers heen. Sy het met ’n geoefende oog langstertvoëls op doringdrade en groepies meerkaaie langs die pad uitgewys om die langpad vir ons as kinders korter te maak. Daardie gawe het ek ook geërf. Kort voor lank het ek my eie kinders begin touwys maak in die kuns van dinge raaksien langs die pad.
Onlangs is ek en Johan op pad Oos-Kaap toe. Ons roete neem ons deur Smithfield, Aliwal-Noord en Queenstown, dan na Cathcart en Stutterheim, en via Oos-Londen kuslangs na ons bestemming.
Ons vertrek graag vroeg, lank voor sonsopkoms. Dié keer gaan ons vir ’n week see toe. Die veld het begin verkleur en die omgewing is minder groen as gewoonlik. Plek-plek slaan groot bosse populiere nou in geel getooi ons asem weg. Die lug is herfsblou en strepies yl wolkies dryf ver bo die horison.
Net buite Queenstown merk ek die vreemdste verskynsel. Dit lyk of die plate doringbome langs die pad in sneeu getooi is. Met die naderkykslag besef ek dit is spinnerakke – nou, soos die son van agter daarop skyn, duidelik sigbaar.
Dit laat my dié oggend dink aan die sonde in ons lewe. Hoe maklik is dit nie ragfyn versteek nie, met die gif van vernietiging daarin verskuil. Slegs as die son van God se lig vanuit die regte hoek daarop skyn, sien ons (en ander) dit raak en kan regmaak wat verkeerd is.
Laat sy Gees die sondes uitwys wat julle nie meer raaksien nie en sy Lig daarop skyn.
Here, laat ons die versteekte sondes wat ons huwelik skade doen, raaksien. Amen
6 Februarie
So wit soos nuut begin
Jesaja