Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 17
Sy onderdruk die verskoning en haar ken lig uitdagend.
“Jy is vroeër terug as wat ek jou verwag het. Ek het gedink ek sal die hele dag alleen hier in die kamp moet sit.”
“Ja, dis voor die hand liggend dat jy my nie so gou terug verwag het nie, my vrou,” sê Theo koel en kyk insinuerend na Walt. “In die vervolg sal ek die toeter blaas sodra ek by die kamphek indraai, sodat jy betyds gewaarsku is jou man is by die huis.”
Theo draai om en stap die rondawel binne, dog in die deur steek hy vas.
“En ek glo nie jy behoort te kla dat jy die hele dag alleen by die kamp moet sit nie. Ek sien jy het sommer die eerste dag reeds vir jou afleiding gaan soek.”
“Janie en ek het mekaar toevallig by die rivier ontmoet …” begin Walt, maar hy bly stil toe hy sien dat Theo nie luister nie en reeds na binne gestap het.
“Jammer, aster,” sê hy onderlangs. “Gaan verduidelik jy maar hoe dit gekom het en pak al die skuld op my. My skouers is breed …”
Hy glimlag vlugtig vir haar en maak hom dan uit die voete.
Janie gaan nie dadelik binnetoe nie. Sy het nie die moed nie. Voor haar is ’n tranewaas en sy let nie op dat Walt rivier toe stap om te gaan kyk of die versigtige koedoe weer sy opwagting gaan maak nie.
Iets wat Theo gesê het, gee haar egter hoop. In die vervolg sal ek die toeter blaas … Dus daar gaan darem ’n volgende keer wees. Sy word nie summier huis toe gestuur nie.
Janie haal ’n paar keer diep asem om haar senuwees te kalmeer en stap dan met kloppende hart die rondawel binne.
Theo sit op die riempiesbank, sy bene lank voor hom uitgestrek en ’n koppie koffie in die hand. Daar is geen glimlag van verwelkoming op sy gesig toe sy die woonkamer binnekom nie, maar hy staan darem hoflik op en dit gee haar effens moed.
“E … het jy ’n aangename dag gehad, T-Theo?” stamel sy.
“Redelik. Maar seker nie so aangenaam soos jóú dag was nie. Ek vertrou jy het my neef se geselskap na wense gevind?”
“Ons het … sommer net gesels en hy het ’n paar sketse van my gemaak en … en dis al.”
“Jou geskets? Ja, ek het gedink hy sal dit doen. Dis deel van sy tegniek – stap een.”
Janie antwoord nie en gaan sit op die puntjie van ’n stoel.
“Jammer, net soos jý verbeel ek my dat ek nog ongetroud is … ek vergeet my maniere en bied jou nie eers iets te drinke aan nie. Sal jy koffie drink?” vra Theo.
Janie ignoreer die eerste helfte wat Theo gesê het, maar die tweede deel aanvaar sy as ’n vredesgebaar. Hy bied haar darem koffie aan, en die minste wat sy kan doen, is om vriendelik te antwoord.
“Dankie, maar dis seker nie vir jou nodig om gasheer te speel nie. Ek is die huisvrou en om koffie te maak, is seker my verantwoordelikheid.”
“Vergewe my as ek gasheer speel en jou ontuis laat voel,” sê Theo formeel. “Maar ek het die indruk gekry jy is nie van plan om jou intrek permanent hier te neem of om jou pligte as huisvrou te aanvaar nie.”
Janie sien ’n gapende afgrond voor haar voete en dink naarstiglik aan iets wat sy kan sê om haar op veiliger grond te bring.
Voordat sy egter aan ’n neutrale antwoord kan dink, praat Theo verder.
“Ek sien jy het nog glad nie uitgepak nie, Janie, en in plaas van jou nuwe huis te leer ken en tuis te raak, flenter jy heeldag met Walt rond. Wanneer is jy van plan om terug te gaan Johannesburg toe?”
Janie skrik vir die koue stemtoon en die feit dat Theo so reguit praat. So, dan het hy seker ook heeldag met dieselfde gedagte in sy kop rondgeloop, gewonder hoe gou hy van sy onwelkome vrou ontslae kan raak.
Sy het hierdie man egter te lief om hom so gou al te laat gaan. Slegs twee dae van getroude lewe en die een rusie na die ander! Daar is te veel op die spel om dadelik op sy vraag te kan antwoord. Sy moet tyd probeer wen en hom op die een of ander manier in ’n meer toegeeflike luim kry sodat hulle die saak soos twee redelike mense kan bespreek.
“E … jy het netnou van koffie gepraat,” sê sy met ’n gedwonge glimlaggie. “Gee jy om as ek eers vir my koffie gaan maak? Dan kan ons rustig oor die saak praat.”
“Jy is baie wys, my vrou,” sê Theo sarkasties. “Dis blykbaar wanneer ons moeilikhede begin – wanneer jy dors is. Gaan maak gerus vir jou koffie.”
Janie wil aanbied om vir hom ook nog ’n koppie koffie te gaan maak, maar sy is bang hy gee haar ’n dwars antwoord. Wanneer ’n mens twyfel, moet jy seker maar stilbly.
Sy het nie die vaagste benul waar Theo die koppies en pierings en koffiepoeier en melk en suiker bêre nie en kyk hulpeloos deur die kombuis rond. Pleks dat sy verlede keer meer vir Riana met die kosmaak gehelp het, maar toe sit sy mos soos ’n verliefde skooldogter buite by Theo!
Janie maak die kasdeure versigtig oop en toe, bang Theo hoor haar en dink sy krap in sy goed, of kom kyk dalk wat sy maak.
Haar soektog lewer egter niks op nie – sy soek seker in die verkeerde kaste. Sy wil Theo egter nie te lank alleen met sy gedagtes laat nie. Uit ondervinding weet sy dat hy impulsief kan wees en sy is bang hierdie keer se oorhaastige besluit is dalk die verkeerde een. Hy besluit dalk dat hierdie huwelik die grootste fout van sy lewe was.
Uit desperaatheid spoel Janie ’n emaljebekertjie uit wat in die wasbak staan en maak dit vol water. Theo sal seker nie oplet dat sy water sit en drink in plaas van koffie nie. Sy wens daar was ’n spieël in die kombuis en dat sy haar handsak byderhand gehad het. ’n Lipstiffie en reukwater help oneindig baie om ’n meisie selfvertroue te gee en dis iets wat sy binnekort baie nodig gaan hê. Hoe kry ’n meisie ’n man weer goed wanneer hy baie kwaad vir haar is? Veral as sy weet dit sal nie verwelkom word as sy haar arms om hom sit en hom ’n soentjie gee nie? Watter ander wapens is daar wat sy kan gebruik?
“Jy verbaas my telkens, Janie,” merk Theo op toe sy weer op die puntjie van die stoel gaan sit. “Ek het nie geweet jy is só handig in ’n kombuis nie. Twee minute weg en jy is terug met die koffie …”
“E … ja,” antwoord Janie verleë en neem ’n groot sluk water. Dalk help dit om haar senuwees te kalmeer. Sy kan die uitdrukking op sy gesig nie peil nie en dit maak haar senuweeagtig.
“Wil jy nie gou vir my ook koffie gaan haal nie?” Theo hou sy koppie uit en Janie het geen keuse anders as om dit te neem nie.
In die kombuis kyk sy weer desperaat rond en maak dieselfde kasdeure van netnou oop, maar met dieselfde resultaat. Dis blikkieskos en ’n stapel ou briewe en skroewedraaiers en hamers en ’n botteltjie spykers en dinge, alles behalwe koffie, melk en suiker, en tipies die kombuis van ’n alleenlopende man. Waar sou hy die koffie wegsteek?
“Probeer die koskas regs van die yskas. Dis al deur wat jy nog nie oopgemaak het nie,” merk Theo koel vanaf die kombuisdeur op.