Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 18
“Ek … ek het nie so iets vir die hele wêreld vertel nie …”
“Al mense met wie jy gepraat het, was Katinka en Walt, en na húlle toe het jy baie vinnig met jou martelaarstorie gehardloop. Hoe dink jy moes ek voel toe tannie Labuschagne my in Messina bydam en uitvreet en daarvan beskuldig dat ek wreed en ongevoelig is? Toe sy aanbied om kos oor te stuur as my voorrade uitgeput is, wou ek slange vang! Gaan sit in die sitkamer, dan bring ek vir jou koffie. En gaan basuin dít ook asseblief uit aan die hele wêreld, veral aan Walt de Witt, want hy skinder baie graag. Skinder beter as wat hy skilder …”
Janie bly egter in die kombuis staan. Sy wil vra wie by daardie tannie Labuschagne stories aangedra het en sy wil ook sien waar Theo sy voorrade bêre sodat sy haar weg in die kombuis kan vind.
“Ek kan sien jy het blitsvinnig aan ’n verskoning gedink en ek wil dit nie hoor nie.” Theo draai haar hardhandig om en stoot haar deur toe.
As Janie nie so omgekrap en bekommerd was nie, sou sy die situasie geniet het. Die ou tannie wat Theo voor stok kry omdat hy sy vrou uithonger … Sy kan glo dat hy boos was, want hy is seker nie gewoond dat iemand hom die leviete voorlees nie.
“So ja …” gee Theo ’n kort rukkie later vir haar ’n koppie koffie aan, en ’n bordjie met ’n groot skyf sjokoladekoek. “Sien, ek het selfs in Messina vir my vrou koek gekoop; gehoop dit sal dien as ’n soenoffer … maar dit was vóór Katinka se ma my bygedam het.” Theo neem ’n slukkie koffie. “Terloops, ek het vergeet om jou te sê: Ockert Smuts het geskakel. Oom Gawie Labuschagne by die ingangshek het die oproep ontvang en die boodskap per radio hiernatoe deurgestuur.”
Daar gaan skielik vir Janie lig op. Nou weet sy waarom Theo opnuut so erg omgekrap is. Sy weet mos hoe jaloers hy op haar en Okkie se vriendskap was. Die dekselse Okkie; as hy net kon weet watter troebel waters hy geskep het.
“Wat wou Okkie hê?” vra Janie en onmiddellik weet sy dat dit die verkeerde ding was om te vra. Sy gee nie werklik om om te weet waarom Okkie geskakel het nie en sy weet nie waarom sy dit gevra het nie.
“Hy wou seker sê dat hy jou nog steeds liefhet en jou smeek om na hom terug te kom,” antwoord Theo sarkasties. “Of dalk wou hy vasstel op watter trein jy sal wees. Sê vir hom daar is elke aand net die een trein van Rhodesië af en dit kom op platform nege in, maar jy sal nie daarop wees nie.”
“Ek is nie van plan om Okkie terug te skakel nie,” sê sy kalm. Sy wonder wat Theo bedoel het toe hy gesê het sy sal nie op daardie trein wees nie. Hy is tog sekerlik nie van plan om al die moeite te doen om haar per motor terug te neem nie. Weet hy van iemand wat môre daardie kant toe ry en haar sal oplaai, of is daar miskien ’n lugdiens wat tussen Messina en die Rand vlieg?
“Nee, natuurlik gaan jy nie vir Okkie terugskakel nie, want daar is nie ’n telefoon op Njelele nie,” sê Theo onaangenaam. “Maar jy gaan seker onmiddellik ’n telegram stuur, of hoe?”
“Nee, ek gaan nie.” Janie weet die tyd het aangebreek dat sy en Theo moet gesels. Hulle moes eintlik gisteraand al gepraat het, maar toe was Katinka hier. Hoe onaangenaam dit ook al gaan wees, sy durf nie langer uitstel nie.
Sy moet mooi met Theo praat en hom op ’n manier so ver kry om na haar te luister. Sy het nie opsetlik sy bevele verontagsaam en uit die motor geklim net om hom te tempteer nie. Sy het nie gisteraand doelbewus probeer om hom kwaad te maak nie, en vanoggend het sy nie uitgepak nie omdat sy nie geweet het wat hý wil hê sy moet doen nie. Sy was vandag eensaam en hartseer en verveeld, daarom het sy ’n entjie gaan stap en die ontmoeting met Walt was bloot toevallig. Sy het nie bedoel om so lank by hom te kuier nie en sy wou graag tuis wees toe haar man kom, maar hy het vroeër gekom as wat sy gedink het. En tussen haar en Okkie is daar niks meer as ’n platoniese vriendskap nie. Sy is vies dat hy geskakel het en sy is nie van plan om hom weer te kontak nie, want hy beteken vir haar niks meer nie. Haar eie man is vir haar die belangrikste en dis vir hom wat sy liefhet!
Janie weet haar gedagtes is baie deurmekaar en sy kan maar net hoop haar sinne is meer ordelik en minder onsamehangend wanneer sy begin praat. Sy moet haar nie aan Theo steur as hy haar ’n dwars antwoord gee nie. Sy moet bly pleit en mooipraat. Hy moet haar ’n tweede kans gee om te toon hoe lief sy hom het en dat sy ’n goeie vrou vir hom sal wees. Sy moet hom daaraan herinner dat hy haar eenmaal liefgehad het – of, indien daar nie liefde was nie, dat hy graag met haar wou trou. Hy skuld dit aan homself om hierdie huwelik ’n kans te gee, háár ’n kans te gee. Sy het hom so lief en hy kan maar met haar rusie maak en raas, maar hy moet haar nie wegstuur nie. Sy het hom te lief …
Janie plaas haar koppie op die mooi stinkhouttafel neer en klem haar hande styf inmekaar op haar skoot.
“Theo …” begin sy pleitend.
Theo se gesig verhard. “Ek kan sien jy maak gereed om te bieg en te sê jy is jammer, jy het ’n fout gemaak. Jy het jou misgis. Jy is nog jonk en jy het verliefdheid vir ware liefde aangesien. Ek moet jou asseblief vergewe en nie vir jou kwaad wees nie, en kan ons asseblief nog steeds vriende bly. Jy is jammer jy het my hele lewe opgemors, maar jy wil graag jou vryheid hê. Spaar my egter die melodrama en die seepkis-toesprake wat jy in goedkoop liefdesverhale gelees het, en spaar ook jou asem. Die antwoord is nee. Nee, ek gaan jou nie jou vryheid teruggee nie en nee, ek sal jou ook nie laat teruggaan Johannesburg toe nie. En beslis néé – jy sal nie op daardie trein wees sodat Ockert Smuts jou kan afhaal en troos en sy ewige liefde aanbied nie.”
Theo het so vinnig gepraat en sy stem was so onverbiddelik dat Janie nie alles ingeneem het wat hy gesê het nie. Maar die laaste paar sinne dring tot haar deur en sy staar hom ongelowig aan. Hy weier om haar haar vryheid te gee of te laat teruggaan Johannesburg toe. Hoekom?
“Hoekom, Theo?” vra sy gespanne. “Hoekom wil jy met hierdie huwelik voortgaan?”
“Ek gee toe dat dit onder die omstandighede seker vreemd klink dat ek jou hier wil hou en met die klug van ’n huwelik wil voortgaan, maar ek het my redes. Dit klink seker kleinlik of onseker van my, maar ek erken nie graag in die oë van die wêreld dat ek my met ’n meisie misgis het nie – veral nie met die een wat ek uitgesoek het om my vrou te wees nie. Ek weet die mense sal agteraf lag en spot met Theo Vermaak, wat nog gedink het hy sit met ’n vrou, toe steel ’n ander man haar en nou sit hy droëmond, soos ’n aap op ’n klip. Nee, Janie, ek is ’n trotse en selfsugtige man en ek gaan nie toelaat dat jy van my ’n gek maak nie.
“Of dalk sal sommige mense my jammer kry en sê: ‘Foei tog, arme ou Theo. Die stadsjapie sit toe vir hom ’n paar ore aan … Hy moet lesse neem oor hoe om ’n vrou gelukkig te maak. Skaars twee dae by hom, en Janie skud Pafuri se stof van haar voete af en hardloop weg. Ons moet die arme man vir ete oornooi en met hom gesels oor die weer en die veldbrand en allerhande ander dinge, maar net nie oor die vrou wat hy verloor het nie. Dit moet soos dood in die huis wees. Die stomme man …’ Ek háát bejammering, Janie. Daarvoor is ek te trots. Niemand kry my jammer nie en niemand lag ook in sy mou omdat ek vir die gek gehou is nie.”
Terwyl hy praat, gryp Theo sy pyp en steek dit op, maar toe die derde vuurhoutjie óók breek, gooi hy die pyp vererg eenkant en soek sy sigarette.
“Op die kas,” sê Janie meganies, maar dit lyk nie of hy haar gehoor het nie. Hy stap soos ’n vasgekeerde dier op en af en wanneer hy by die venster kom, vlieg hy om en kom staan reg voor haar. Hy is bleek en sy mond is in ’n onverbiddelike lyn getrek.
“En