Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman страница 22
Tinka het baie teësinnig vir hom vertel dat Janie beplan om Ockert Smuts na Pafuri toe te nooi. Sy weet uit ondervinding dat haar man maklik jaloers raak en het hoop gehad dat Okkie se besoek hom só kwaad sal maak dat hy inwillig om haar te laat teruggaan Johannesburg toe. O ja, sy het alles koelbloedig beplan en haar planne mooi agtermekaar gehad. Sodra sy weer in Johannesburg gevestig is, kom Walt agterna en dan gaan hulle saam na ’n prokureur toe om hom vir ’n egskeiding te dagvaar.
“Daar behoort nie probleme te wees nie,” het Janie gelag. “Binne drie maande is Walt en ek getroud en in Italië vir ons wittebroodsvakansie. Hy is nie soos Theo wat te suinig was om my met vakansie te neem nie. Ek hoop die gondels van Venesië en die Blou Grot by Capri help om die herinneringe aan ’n stowwerige stuk bosveld en ’n veldwagter wat met agt renosters getroud is, te laat vervaag …”
En nou sê Janie in ’n vroom stemmetjie dat sy baie foute gemaak het! Haar volgende woorde gaan seker wees dat die grootste een was toe sy met hom getroud is.
“Ja, dis menslik om foute te maak,” val Theo haar bars in die rede. “Maar nie gedurig nie en ook nie honderde elke dag nie. Sedert jy hier is, het jy nog niks reg gedoen nie. Maar jou grootste fout was natuurlik die een wat jy gemaak het vóór jy Pafuri toe gekom het – toe jy met my getrou het.”
Janie se keel trek toe. Dit help ook nie eers meer om haar vingers styf inmekaar te vleg nie, want sy voel hoe die warm trane oor haar wange begin loop en op haar nuwe ligblou broekpak drup. Dit het ook nie eers gehelp om haar mooi aan te trek vir Theo nie. Hy let nooit meer op wat sy aanhet nie en hy sal nooit sê sy lyk mooi nie.
“Spaar my asseblief die waterwerke,” sê Theo ru. “Ek weet in elk geval nie wat jy hoop om daarmee te bereik nie. ’n Histeriese vroumens het my nog altyd geïrriteer en jy is beslis nie ’n uitsondering nie.”
Theo sien dat Janie tevergeefs na ’n sakdoek soek, maar hy bied nie syne aan nie. Daardie dae is ook verby.
Theo lig haar nie in nie en Janie vermoed maar dis die Limpopo-rivier wat ’n halfuur later voor hulle lê. Daardie rivier netnou, waar die drif so diep was, was die Njelele-rivier, ’n sytak van die Limpopo. Dis na daardie rivier, wat gedurende die wintermaande slegs ’n droë loop is, wat die hoofkamp van Pafuri vernoem is. Die ander kamp is na die ruïnes vernoem waar sy en Theo vanoggend was.
“Is … d-dit …” Janie vee haar trane moedig met die agterkant van haar hand af en begin weer. “Is dit die Limpopo, Theo?”
“Nee, dis die magtige Apiesrivier,” sê Theo sarkasties.
Sy aandag is egter nie meer by haar nie. Hy het stilgehou en uitgeklim en is besig om die oorkantste wal van die rivier met ’n verkyker te bespied.
Janie sien ’n tweede Land Rover wat onder ’n boom getrek is, maar sy is bang om te vra aan wie dit behoort, bang Theo gee haar weer ’n sarkastiese antwoord en sê dit behoort aan Richard Burton of so iemand.
“Mag ek uitklim of moet ek weer in die motor bly sit?” vra sy.
“Klim maar uit,” antwoord Theo sonder om die Zeiss van sy oë weg te neem. “Moet net nie weer aan die loop gaan en ure van my kosbare tyd mors as ek jou moet gaan soek nie. Walt sal nie weer soos ’n ridder op sy wit perd opdaag om jou in sy arms te neem nie.”
Janie gaan stap al met ’n uitgetrapte voetpaadjie langs, maar waag dit nie naby die rivier nie. Selfs sy kan sien dat dit in vloed is. Die waters is rooibruin en kort-kort kom daar ’n boom verby wat hoër op deur die magtige waters meegesleur is.
Die gedreun maak haar bang. Van kleins af het sy ’n vrees gehad vir hoogtes, vol riviere en die donker, en ’n ewige grillerigheid vir insekte. Tant Johanna, wat haar grootgemaak het, het gesê dis nonsies, dis dinge waarteen sy moet stry, anders gaan sy ’n grootmens word met allerhande vrese en komplekse. Haar tante het nie verstaan nie. Sy het gesê dis ’n vermorsing van elektrisiteit om ’n nagliggie te laat brand en insekte is skadelose goed. Om hoogtevrees te hê is ipekonders, en ’n vrees vir vol riviere is maar net nog ’n stukkie nonsens wat uit ’n kind gekry moet word, al is dit met die platriem. Sy het alreeds drie kinders van haar eie en dis lastig om nou nog die kind van haar oorlede suster ook te hê om groot te maak.
Toe Janie met die voetpad terugstap, is sy diep ingedagte en merk eers die beweging op toe sy amper reg onder die boom staan. Haar knieë raak lam en haar oë is wydgesper. Haar mond gaan oop om te gil, dan onthou sy dat ’n mens ’n slang nie moet skrikmaak nie. Daar moet geen vinnige bewegings wees nie en ook geen onverwagte geluide nie. Sy tree baie stadig agteruit, een voet versigtig agter die ander sodat sy nie moet struikel nie. Sy tel nie haar treë nie en haar oë bly vasgenael op daardie lang, geelbruin slang wat van ’n tak reg bokant die paadjie hang. Daar is ’n suising in haar ore en ’n naar gevoel op die krop van haar maag as sy dink wat sou gebeur het as sy aanhou loop het, as sy nie betyds daardie flitsende vurktong en die koue swart ogies gesien het nie. Die slang se kop hang op omtrent dieselfde hoogte as haar gesig …
Meteens gee die grond agter Janie pad. Haar eerste gedagte is dat sy in die rivier se opdrifsels beland het en sy voel al hoe die koue water oor haar spoel en haar meesleur. Haar hande gryp wild na die boom langs haar, maar sy kan haar greep nie behou nie. Terwyl sy agteroor val, gil sy histeries, alle gedagtes aan die slang verdring deur haar vrees vir die rivier se malende water.
Theo storm die voetpad af, klap die molslang uit sy pad en met ’n paar lang treë is hy by Janie waar sy in ’n bondeltjie in ’n uitgekalfde gat lê, haar arm krampagtig om ’n boomwortel geklem.
“Wat is dit?” Hy probeer haar optel, maar sy klou net stywer aan die boom vas en huil deurmekaar van ’n rivier en water en van opdrifsels en strome wat haar sal meesleur.
“Janie!” Theo ruk haar heen en weer. “Wat is dit? Wat het gebeur?”
“Nee …!” skree sy en spartel om los te kom. “Die rivier gaan my intrek!”
“Luister na my,” sê hy dringend. “Jy is ver van die rivier af. Wat het gebeur?”
“Die water gaan my vat soos een van daardie boomstompe!” Sy spook histeries en probeer hom wegstoot. “Help my!”
Theo los haar ’n oomblik en klap haar hard teen die wang.
“Wat …?” Janie kyk verdwaas om haar rond. Haar hand gaan na haar wang toe en sy begin hygend huil.
“Wat het jy gesien?” vra Theo skerp. “Was dit terroriste op die oorkantste wal?”
“Jy het my geklap …” sê sy verdwaas. “Dit was s-seer.”
“Jy was histeries en dit was die enigste manier om jou te kalmeer. Wat het gebeur? Het jy seergekry?”
Die gebeure van die afgelope paar minute spoel soos ’n golf oor Janie. Sy herleef haar diepgewortelde vrees vir vol riviere en onthou