Vertrou nie op prinse. Evelyn Wessels

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vertrou nie op prinse - Evelyn Wessels страница 8

Vertrou nie op prinse - Evelyn Wessels

Скачать книгу

“hy het. Maar ek het regtig ook die opmerking oor die skildery in Walters se boek gelees – dit was nie versinsel nie.”

      “Ek het geen oomblik daaraan getwyfel nie,” sê Ryk Hofmeyr en lag haar met sy blinkblou oë toe sodat sy skielik nie baie vas op haar voete voel nie.

      * * *

      Terug by die hotel verklee Louise haar in gemakliker klere en geniet ’n heerlike, ligte maaltyd by een van die hotel se restaurante. Met registrasie het die ontvangsdame aan haar verduidelik dat al haar etes by haar verblyf ingesluit is, solank sy dit in die hotel nuttig. Van der Byl-Hofmeyr sou alle rekeninge betaal.

      By die hotel se concierge verduidelik sy dat sy na winkels met ou juweliersware, estate jewellery, soek en vra of hulle iets kan aanbeveel. Sy soek iets om darem haar voorkoms vir die aand se uitgaan so ’n bietjie te verglinster. Die vrou beveel dadelik aan dat sy in Langstraat moet opstap. “Baie van die antiekwinkels daar hou ook juwele aan.”

      Sy bring ’n genotvolle middag deur. Afgesien van die antiekwinkels is daar ook heelwat tweedehandse boekwinkels en sy moet haar dwing om op haar horlosie te kyk om nie alle sin vir tyd te verloor nie. In ’n antiekwinkel met die reuk van vervloë tye en geparste roosblare vind sy presies wat sy soek: ’n pragtige ou halssnoer en oorkrabbertjies van markesiet wat amper soos diamantjies glinster.

      Terug by die hotel kan sy net ’n halfuur rus voordat sy moet bad en aantrek vir die aand. Sy is verplig om dieselfde grys boucléromp van die oggend weer aan te trek, maar die baadjie verruil sy vir ’n silwergrys syhemp wat sy as alternatief vir die onderhoud saamgebring het omdat die Kaapse weer so onvoorspelbaar is. Hierby sal sy haar grys kassemier serape-mantel dra. Dit was ’n verjaardagpresent van James in Engeland, “omdat dit so mooi by jou oë pas”. Sy kam haar goudblink hare op in ’n Franse rol wat haar altyd elegant laat voel. Die nuwe halssnoer en oorkrabbertjies het presies die gewenste effek – hulle verleen net die nodige tikkie glinstering aan haar hals en ore. Wanneer sy haar in die spieël bekyk, dink Louise taamlik ingenome dat selfs Ryk Hofmeyr nie skaam hoef te voel om vanaand saam met haar gesien te word nie.

      Sy gaan in die hysbak af en wag vir hom in die voorportaal. Dit is met iets soos kinderlike opgewondenheid dat sy deur die hotel se groot glasvensters die middernagblou Rolls-Royce sien wat in die hotel se aanrit opry. ’n Chauffeur klim uit en hou die deur oop vir Ryk Hofmeyr, deftig in ’n donker pak.

      Toe hy by haar kom, sê sy reguit: “Ek het nog nooit in ’n Rolls-Royce gery nie!”

      “Vanaand is die aand,” glimlag hy en vergesel haar na buite. Die chauffeur hou vir haar die deur oop en Ryk wag totdat sy haar in die luukse sitplekke tuismaak voordat hy omloop en aan die ander kant inklim. Hy stel haar aan Gerald, die chauffeur, voor.

      Voor die operahuis word hulle met groot grasie afgelaai en die Rolls-Royce vertrek weer.

      “Gaan Gerald nou al die pad terug na Schoongelegen en dan kom hy ons weer na die uitvoering haal?” vra Louise.

      “Nee, dit is nie regtig te ver om van Schoongelegen af te kom nie, maar ons het ook ’n huis in Oranjezicht vir geleenthede soos dié, wanneer ons in die stad moet wees. Dit is net ’n paar minute soontoe. Gerald gaan nou ’n lekker aandete geniet en die aand voor die televisie deurbring. Dan is hy weer hier om ons op te laai wanneer die vertoning verby is.”

      Hulle stap die trap op voor die Kunstekaap-teater en dan deur die glasdeure na binne. Onmiddellik flits ’n kameralig op hulle.

      “O, my wêreld,” lag Louise, “as dit nou in die koerant ver-skyn, gaan almal wonder wie die nuwe vrou aan jou sy is. Min weet hulle ek is maar net ’n voornemende werknemer!”

      “Die foto sal my reputasie as metgesel van skoonhede geen kwaad doen nie,” antwoord Ryk galant.

      Louise voel hoe haar gesig effens warm word na die onverwagte kompliment.

      Hulle neem hul plekke in kort voordat die ouverture begin. Louise sak terug in haar sitplek en laat die lieflike musiek oor haar spoel. Dan begin Mozart se komiese drama oor liefde en verraad. Louise wag vir haar gunsteling-arias in die eerste bedryf. In “Soave sia il vento” sing die ouer Don Alfonso en die twee jong susters, Dorabella en Fiordiligi, die twee jong mans – verloof aan die twee meisies – ’n goeie skeepsreis met gunstige winde toe. Die lieflike trio gly lig en melodieus oor die gehoor. ’n Mens hoor as ’t ware die boot deur die golwe vaar.

      Die musiek is verruklik en Louise voel heeltemal betower. Skielik word sy bewus van ’n geamuseerde blik op haar. Verontwaardig loer sy na haar metgesel. “Is jy dan nie meegevoer deur die musiek nie?” vra sy toe die applous losbars.

      “O, absoluut,” sê Ryk droog, en kyk belangstellend na die verhoog. Fiordiligi se “Come scoglio” – onveranderlik soos ’n rots is haar liefde vir Guglielmo, verklaar sy – is nog ’n hoogtepunt. En wanneer Ferrando weer oor sy liefde vir Dorabella sing, “Un aura amorosa”, vergeet Louise vir die oomblik van die man langs haar en ervaar net die genot van die hemelse melodie, waarin Mozart die idealiserende liefde van ’n man vir ’n vrou vasgevang het.

      Pouse is dit vir Louise asof sy uit ’n ondersese droomwêreld opstyg en deur die watervlak van die werklikheid breek. Sy tuur lighoofdig om haar toe die gehoorsaal se ligte aanflits. “O, dit was onbeskryflik!” sug sy in vervoering.

      “Kom ons gaan drink koffie,” sê Ryk en hulle beweeg stadig saam met die stroom mense uit die gehoorsaal na die foyer.

      Terwyl hulle koffie drink, bespreek hulle eers die produksie en die gehalte van die sangers. Dan vra Louise uit die bloute ’n vraag wat sy nog die hele dag brand om te vra: “Ek weet van James dat jou oumagrootjie die Kaap – en haar familie – saam met Claude Becker verlaat het. Het sy nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie?”

      “Sy het wel,” sê Ryk. “Haar pa, sir Henry, het mos ’n beroerte gekry net nadat sy haar man – my oupagrootjie – verlaat het. Dit was in 1911, dink ek. Sir Henry was toe ’n algehele invalide, maar het nog vyf jaar gelewe. In 1916, dus in die middel van die Eerste Wêreldoorlog, is hy oorlede. Die Beckers het hulle aan die begin van die oorlog in neutrale Switserland, Claude Becker se vaderland, gevestig. Ek sê ‘die Beckers’, maar omdat my oupagrootjie nie van haar wou skei nie, is Laura en Becker nooit wettig getroud nie. Sy het blykbaar in die omgang as ‘madame Becker’ bekend gestaan, maar wettig het sy altyd mevrou Hofmeyr gebly. Dit was destyds moeilik om te skei en omdat my oupagrootjie die onskuldige party was, kon sy hom nie vir ’n egskeiding dagvaar nie; hy moes háár dagvaar en hy het geweier om dit te doen.”

      Louise knik simpatiek – sy weet nie watter party van die driehoek sy die jammerste kry nie.

      “Nou ja, na haar pa se dood het hulle weer hier in die Kaap opgeduik. Sy het ’n saak aanhangig gemaak om as sy enigste dogter ’n deel van sir Henry se boedel te bekom. As ’n vrou wat in sonde met ’n kunstenaar saamgeleef het, is ek bevrees, het sy nou nie juis geloofwaardigheid hier in die Kaap de Goede Hoop gehad nie. Die hof het beveel dat sir Henry se testament gehandhaaf word. Die boedel is deur haar man, Alexander Hofmeyr, beheer en sou dan oorgaan na hul twee seuns. Sy het nie ’n pennie gekry nie. Haar betoog dat die testament voor haar skeiding van haar man gemaak is en dat haar pa haar nooit sonder vermoëns sou gelaat het nie, het nie opgegaan nie. Die hof het besluit as haar pa sy boedel reeds voordat sy haar man verlaat het, aan hom toevertrou het, sou hy dit des te meer wou doen nadat sy met die kunstenaar weggeloop het en haar kinders agtergelaat het. Die Beckers is toe weer druipstert hier weg, terug na Switserland. Daarna het hulle, sover ek weet, nooit weer teruggekeer nie. Die twee seuntjies het ook nooit weer hul ma gesien nie.”

      “Het

Скачать книгу