Openbaring. C. Johan Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Openbaring - C. Johan Bakkes страница 5

Openbaring - C. Johan Bakkes

Скачать книгу

oor my eie mense se eiegeregtigheid. Die enigste toeris wat erger is, is ’n “when-we”-Rhodesiër. En moenie fout maak nie, ek ken my huidige reisgenote. As dinge nie werk soos hulle dink dit moet nie, gaan hulle hul se moere op ’n stok steek (Paul uitgesluit).

      Die “Fauna”-gedeelte van die Safari-besigheid se naam laat my glimlag. As kinders was ons skytbang vir die twee ousies genaamd Fauna en Flora. Selfs banger as vir Antjie Somers. Ná ’n kreefvangs met sewe rugbytruie en ’n kan soetwyn as enigste pantser teen die Weskus se koue water, het my pa altyd gesê: “As Fauna en Flora ons nou vang, dan sit ons turf.” “Turf” was vir ons soos die hel.

      Die verkeer is woelig en druk wanneer Brook Kassa ons en ons pot-en-kombers met ’n Land Cruiser na die Gion-hotel aan die rand van sentrale Addis Abeba neem.

      Daar is nie tyd vir vliegvoos voel nie. Ons vergader onmiddellik in die voorportaal van die hotel en bestel elk ’n Bati-bier. Miskien kan ek later oor Ethiopiese bier uitwei. Want wragtig, hulle bier is deur die bank prima. My konsep van wisselkoers, die duur of die goedkoop, is gekoppel aan ’n land se bierprys, en as die goed nog lekker op die palet is, dan styg die gegewe land se bruto binnelandse produk vir my.

      Die Bati vloei soos nektar by my keelgat af.

      Vliegvoos? Addis Abeba is vir ons net ’n logistieke en administratiewe oorstaan. Môreoggend vieruur vertrek ons per vliegtuig dieper Ethiopië in. Ons reël betalings, verdere roetes en die staptog na Ras Dasjen in die Simienberge.

      “What about the Danakil?” kom dit ná die derde Bati-bier. (Hier moet ek weer enige resensent wat wil kerm oor die inname van bier of sterker drank op my reise se klagte in die kiem smoor – dis realiteit.)

      “We hoped you’d forgotten about that – nobody, not even the Habesha, normal Ethiopians, want to go there. The Afar will kill you.”

      “But that is why we want to go!”

      “Okay, we can’t promise you your life, and the only person who is prepared to take you there is Brook Kassa. He will meet you in two weeks’ time at Axum for your safari.”

      En ek kyk met nuwe oë na dié netjiese, besadigde man.

      “Okay, hope you enjoy your trip.” En soos Pilatus van ouds staan Robel Petros op, was sy hande in onskuld, stap uit en stuur daarmee die vier halsstarrige Suid-Afrikaners, saam met Brook Kassa, in hulle se moere in …

      Ek weet nie of dit vuisvoos-, vliegvoos- of Bati-voosheid is nie, maar ek’t skaars my kop neergelê of ek word wreed wakker gemaak deur iemand wat ’n stomende koppie Ethiopiese koffie by die kamer indra.

      En dan terug lughawe toe. Ek is grinterig en óp. Skielik verstaan ek die Blou Bulle, want as ek nou as Tukkie moes uitdraf in ’n Carltonbeker-rugbywedstryd teen die spoorwegmanne van Koedoespoort, sou ons jou wragtig verloor het.

      Ons is ingeboek in ’n Fokker 50-vliegtuig op pad na Bahir Dar, so vierhonderd-en-twintig kilometer verder noord. Ek voel min of meer soos in daardie liedjie van Kris Kristofferson, “The last thing to go”. Hy sing van die bokser wat sê: “The first things to go are your reflexes, then your knees and then your friends.” Of so iets. In hierdie stadium hoop ek darem om nog my vriende te hê.

      Dan word die vliegtuig vertraag. Ons wag vir die een of ander medereisiger. En ons wag en ons wag. Uiteindelik stap hy ’n uur laat so met ’n swier in en plak homself neer.

      Dis toe dat Roland, wat langs my sit, vir my die storie van “Steyntjie” vertel: Dit was skynbaar op ’n SAL-vlug iewers heen. So is die vliegtuig ook vertraag, bloot omdat die een of ander bliksem nie na die lughaweaankondigings geluister het nie. Uiteindelik stap die man die moerige vliegtuig-sitruim binne. Almal kan sien hy’s stewig onder die prop. Afleiding: hy’t êrens op die lughawe in ’n kuierplek verstrengel geraak. Met sy instap, beur en druk die turbines al. Almal is al gereed en ingestrêp.

      Oor die interkom kom dit: “Goeiedag, mense, ek is kaptein Steyn. Ons maak verskoning vir die oponthoud as gevolg van die passasier wat laat was. Ons sal probeer om die verlore tyd op te maak, en ons hoop u geniet die vlug.”

      Die vliegtuig rol aanloopbaan toe, kaptein Steyn druk daai stok en die vliegtuig storm in die pad af. Toe die wiele lig, toe spring daai laatkommer-passasier so uit sy sitplek uit op en skreeu: “Steek hom, Steyntjie, steek hom!”

      Dit het twee lugwaardinne gekos om hom weer te laat sit en hy’t net gelag en ’n dubbel-whiskey bestel.

      En vliegvoos foeter ons dieper Ethiopië in. Vir wat?

      Nuwejaarsaand op die Rooiplein

      How many times in my sorrowful separation

      In my wondering fate

      Have I thought of you, O Moscow!

      Moscow … how much there is in this sound

      That flows together for the heart of the Russian!

      How much echoes in it!

      – Aleksander Poesjkin, Eugene Onegin

      Dis drieuur die middag, ná ’n reis van amper twintig uur, dat ek vir die tweede maal in my lewe voet aan wal sit op Moskou se Domodedowo-lughawe.

      Tweede maal? Ek het nog altyd aangevoer dat hoewel die wêreld klein is (as jy iemand bekends iewers op ’n vreemde plek raakloop), hy te groot is vir een leeftyd. Die gewone lewe is eenvoudig net te kort om elke plek in die wêreld te beleef. Daarom kan ek dit nie bekostig om vir ’n tweede keer na dieselfde plek toe te gaan nie. Maar daar is twee uitsonderings – Suidwes/Namibië en Rusland. Ek kan dit nie verduidelik nie, maar as daai mense en hulle land eers in jou hart en nerts in is, dan móét jy terug.

      Die derde vers van Heinz Klein-Werner se “Das Südwesterlied”, geskoei op die deuntjie van Erwin Rommel se “Panzerlied”, vat op ’n manier die ding vas:

      Und kommst du selber in unser Land

      und hast seine Weiten gesehen

      und hat unsre Sonne ins Herz dir gebrannt,

      dann kannst du nicht wieder gehen.

      Und sollte man dich fragen:

      Was hält dich denn hier fest?

      Du könntest nur sagen:

      Ich Liebe Südwest!

      Ek glo nie ek hoef dit te vertaal nie – lees dit net hardop vir jouself en jy sal verstaan.

      Die voordeel van ’n tweede besoek maak dat ons wéét as ons deur Doeane en Aksyns is, sal alles met Russiese presiesheid gereël wees. Sergei Goerkin, ons vriend en organiseerder van ’n vorige ekskursie, vyf jaar gelede, na die Siberiese Altaigebergtes en die ellelange Trans-Siberiese treinrit, sal sorg dat alles foutloos verloop. En dis belangrik, veral in hierdie verskriklike land met sy vreemde Cirilliese skrif en niemand wat Engels kan of wíl praat nie.

      Een-een beweeg ons deur Doeane. Grenskruisings was nog altyd vir

Скачать книгу