Ena Murray Keur 9. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray страница 6
Sy probeer lag, maar dit klink nie juis oortuigend nie. Sy beduie magteloos met haar hande en hy neem haar stewig aan die skouers. “Petra, ek gee nie om dat jou suster saam met ons iewers gaan nie, maar elke keer? Ons sien mekaar nooit meer alleen nie. Deur die week is daar nie juis tyd vir afsprake nie, en Paula is elke naweek hier. ’n Meisie soos sy behoort genoeg kêrels te hê om haar oor naweke besig te hou, sonder dat ons twee haar moet help om die tyd om te kry.”
Sy kyk stadig na hom op, eers met ongeloof in haar oë en dan vreugde – ’n vreugde so fel dat die man se hart binne-in hom ruk. Dan ruk hy haar meteens teen hom vas en die eerste keer soen hy haar met ’n hartstog wat sy nog nooit voorheen in ’n man se arms ervaar het nie. Sy hoor hom by haar oor fluister: “Moenie dinge aan die gang sit wat kon gebly het nie, Petratjie. Ek gaan met jóú trou. Jý is goed vir ’n man, nie … Laat Paula haar eie pad loop. Ons twee het niks met haar te doen nie.”
In die week wat volg, is haar vreugde te groot om te dra. Eugene het alle geleentheid gehad om, soos almal voor hom, op haar pragtige suster verlief te raak, en hy hét nie. Hy stel nie in haar belang nie! Hy wil háár, die eenvoudige, lelike een, hê! Hy het háár lief! ’n Nuwe wêreld gaan vir haar oop en haar ouers neem die nuwe selfvertroue met vreugde en dankbaarheid waar.
Daardie Vrydagmiddag ruil sy dienstye met ’n ander suster. Die eerste keer in ’n baie lang tyd gaan sy stad toe om ’n nuwe rok te koop. Sy en Eugene gaan môreaand uit vir ete en sy gaan vir haar die mooiste rok koop, al kos dit ook wat. Hoekom nie? Tant Petronella het vir haar ’n klomp geld nagelaat. Liewe, dierbare tant Petronella!
Sy kry gouer ’n rok as wat sy verwag het, en met die pakkie langs haar op die motor se sitplek swaai sy by haar ouerhuis se hekke in. ’n Ander motor staan reeds voor die deur … en sy frons.
In die huis kyk dokter Eugene Minnaar die meisie op die rusbank stip aan. “Ek het weggebreek van die hospitaal om te kom hoor waaroor jy my so dringend wou spreek. Ek het nie baie tyd nie. Wat is dit?”
Paula glimlag op na hom. “So koud en formeel, Eugene? Hoe lank dink jy gaan daardie rookskermpie van jou hou?”
“Wat bedoel jy?”
“Jy weet goed. Jy doen jou bes, maar op die lange duur gaan dit nie die toets van die tyd deurstaan nie. Jy het op my verlief geraak soos ek op jou,” sê sy dan reguit, kyk vas in sy oë. “Maar omdat jy van die goeie ou soort is, het jy besluit om die eerbare ding te doen en met Petra te trou. Jammerte is nie liefde nie, Eugene.”
Eugene Minnaar lyk meteens ’n bietjie bleek, maar sy oë kyk stip terug. “Ek het geweet ’n meisie soos jy sal verwaand wees, maar só verwaand …”
“Dis nie verwaand om te sê ek het jou liefgekry nie, en ek stel net ’n feit as ek sê ek weet jy voel dieselfde oor my. Eugene, moenie ’n dwaas wees nie. Jy kán nie met my suster trou nie. Dis mý wat jy liefhet, wat jy begeer …”
“Ek dink hierdie gesprek het ver genoeg gegaan. Ek weier om dit verder te bespreek.”
Hy wil omdraai, maar sy is skielik langs hom, haar beeldskone gesig na hom opgehef. “Is jy bang, Eugene?”
Hy kyk stadig op haar af en sy sien hoe sy kake saamklem. “Jou probleem is, Paula, jy het jou lewe lank gekry wat jy wou gehad het, net gevat wat jy wou hê. En wanneer jy dit het, word jy moeg daarvoor en gooi dit eenkant toe. Dankie, maar ek is nie bereid om eenkant toe gegooi te word nie. Ek is nie een van jou jong studentekêreltjies nie. Ek is ’n man van agt en twintig wat ’n vrou en kinders wil hê, nie ’n beeldskone pop om my mee te vermaak nie.”
“En jy is in jou hart oortuig dat ek nie ’n vrou en ma kan wees nie?” Sy druk meteens teen hom aan, laat haar arms om sy nek gly. “Jy is nie baie regverdig nie, of hoe, my skat? Het jy al ooit aan my probeer dink as jou vrou en die ma van jou kind?”
Nou is hy bleek en staan stokstyf in haar omhelsing.
“Paula, ’n vrou soos jy … julle soort is nooit goed vir ’n man nie. Julle breek ’n man en los hom dan …”
“En Petra se soort? Hulle is die betroubare, die goeie, en daarom trou jy liewer met een van haar soort, al het jy haar nie regtig lief nie.”
“Ja. Ek trou liewer met ’n vrou vir wie ek die wêreld se respek het en op wie ek kan vertrou, as met een wat …”
“… jy liefhet, maar bang is om te vertrou?”
Hy trek sy asem in, sê dan byna bars: “Nou goed. As dit dan in woorde gesê moet word. Ja, ek trou liewer met Petra, al …”
Haar vingers knel stywer agter sy nek en die begeerlike liggaam is styf teen hom, die pragtige blou oë pleitend, swemmend. “Sê dit dan net een keer, Eugene. Net één keer! Asseblief!”
Sy hande gaan eindelik om haar skraal liggaam en sy stem is skor: “Al is jy soos ’n vuur in my are en kan ek aan niemand anders as jy dink nie! Goed. Ek het dit nou gesê. Laat my nou gaan.”
“Soen my net een keer, asseblief, Eugene. Soos jy my al in jou drome gesoen het. Net één keer!”
Petra sien sy mond met byna ruwe geweld op haar suster s’n neerkom, en sy draai om, weet nie eens dat sy terugstap na haar motor, inklim en wegtrek nie.
Dis eers toe sy die koppie bereik waar ’n mens oor die stad kan kyk, dat sy bewus word van die omgewing om haar. Sy klim uit, stap na die krans wat so pylreguit na benede stort. Sy kyk af. Hoe ver en diep lê die groen gras daar onder. Maar hier digby haar staar die ruwe bergkruin grynslaggend met oopgesperde draketande na haar op.
Dis baie laat die aand dat sy weer haar ouerhuis binnestap. Met dankbare verligting kyk haar ouers op en haar ma stap vinnig nader: “My kind! Ons is al byna rasend. Waar was jy?”
Waar was sy? Êrens in die hel. “Ek het sommer ’n entjie gaan ry om … om te dink.”
“Wat het jy daar onder die arm?” Paula tree nader.
Sy kyk met uitdrukkinglose oë na haar mooi suster.
“’n Rok. ’n Nuwe rok wat ek vir my gekoop het. Wil jy sien?” Sy maak dit oop, hou dit omhoog en haar suster se uitroep van bewondering laat ’n harde glimlaggie na haar lippe kom, net so hard soos haar oë. “Dis mooi, nè? En peperduur. Ek het dit met tant Petronella se erfgeld gekoop.” Dan draai sy na haar ma. “Ek wil nie eet nie. Ek is moeg. Ek gaan slaap. As Eugene bel, sê vir hom ek slaap. Ons kan môre … praat.”
“Jou rok …”
“Vat dit maar vir jou, Paula.”
3
Dokter Eugene Minnaar het vandag blykbaar baie om oor na te dink, want hy is stil en ingetoë in die operasiesaal. Hy moet ’n paar ernstige operasies uitvoer – dalk is dít die rede. Die suster voel dit aan en trek haar stilswyend terug agter haar groen masker en oorjas.
Eers toe hy al sy operasies afgehandel het, kyk hy haar die eerste keer reguit in die oë.
“Dankie, suster Prinsloo.”
Sy gee net ’n kort kopknikkie, draai om na die wasbak om weer vir die volgende operasie te begin skrop. Hy staan ’n oomblik aarselend in die deur, draai dan